Digter se 17e bundel op die rak
PRINS ALBERT - Vir die bekende digter en vertaler Daniel Hugo van Prins Albert was dit tot dusver ’n goeie week.
Sy sewentiende digbundel, Klinkklaar, waaraan hy langer as twee jaar gewerk het, het Dinsdag 11 Mei by die uitgewer Protea Boekhuis verskyn. Hy het ook die afgelope Sondag verneem hy is die wenner van die poësiewebblad Versindaba se Mont du Toit-kwatrynkompetisie, waarin hy die versvastheid van dié digkunsvorm beoefen.
Klinkklaar, sê hy, is ’n voortsetting van sy spel met woorde en woordbetekenisse, en sy voortdurende soektog na “die regte, trefseker woord op die regte plek.”
Sy eerste gedigte is in 1981 gepubliseer in die bundel Brekfis met vier, saam met André le Roux du Toit (Deesdae Koos Kombuis), Etienne van Heerden en Peter Snyders, asook Saad uit die septer, onder die skuilnaam Daan van der Merwe. Die eerste digbundel wat onder sy eie naam verskyn het, was Korte mette, in 1982. Sy drie jongste digbundels is Openbare domein (2018), Takelwerk (2015) en Hanekraai (2012). Hy is ook die skrywer van Halala Afrikaans, oor die geskiedenis van Afrikaans, en van Vers en kapittel, wat van sy artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns bevat. Daarby is hy die vertaler van byna 60 romans, jeugboeke en digbundels uit Nederlands en Engels, en die samesteller van etlike bloemlesings oor ander digters.
Hy het sy loopbaan as onderwyser in Windhoek begin, waarna hy lektor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat was, asook RSG-omroeper en redakteur by Protea Boekhuis. Die afgelope sewe jaar is hy ’n “voltydse vryskut” en rubriekskrywer, resensent, vertaler en teksversorger.
Hugo is ook, saam met die digter Francois de Jongh, samesteller van die pandemiedigbundel Maskers en mure wat begin Junie by Turksvy Publikasies verskyn. Hy het ook as hoofkeurder vir hierdie bundel met meer as 140 digters opgetree.
Die vernufspoësie - die slim spel met woorde, woordklanke en stylfigure - is Hugo se groot voorliefde, sê hy. “So is dit ook in Klinkklaar. Dis ’n intellektuele spel met versvorm en die taal. Kenmerkend van vernufspoësie in al sy gedaantes, dit wil sê in erns en in luim, is daardie spelelement. Maar daar is ’n verskil tussen komiese speelse poësie en ernstige spelpoësie.”
Dit is, volgens hom, een van die grootste redes waarom hy die kwatryne van die Persiese digter Omar Khajjam, soos in Engels vertaal deur Edward Fitzgerald, graag in duidelike, moderne raakvatAfrikaans wou vertaal: “Dit was een van my grootste uitdagings om daardie verwikkelde woordbetekenisse en klankspel in Die Roebaijat vas te vat.”
By sy opdrag in Klinkklaar praat hy so oor dié “spel”: woorde kan soos kleingeld in ’n broeksak/klingel totdat ’n vuis hul vasvat: / die vers wat soos ’n beursie toeklik /
Baie mense vra hom “hoe my gedigte ontstaan”, vertel Hugo.
“Dit kan ’n spesifieke ervaring wees, of ’n emosie, maar vir my kan dit ook die taal self wees wat as inspirasie dien. Die taal, veral Afrikaans, is dikwels my muse, veral rym en woordassosiasie wat deur baie skeppende prosesse gedwing kan word.”
Hy wil nie eens dink aan ’n volgende projek nie, sê hy. “Maskers en mure was ’n reusetaak. Ek kan nie wag om daardie digbundel in my hande te hou nie. Dan is ek maar altyd besig met die een of ander vertaalopdrag, en ’n rubriek wat in my kop kom lê, kan ek nie weerstaan nie … maar ek sal jok as ek ontken dat daar gereeld ’n nuwe gedig in my bêrelaai beland.”
Hy het ook verneem hy is die wenner van die poësiewebblad Versindaba se Mont du Toitkwatrynkompetisie.