Oudtshoorn Courant

Bejaarde van De Rust in huis aangeval

- HANNES VISSER

Die 75-jarige man wat vroeg Sondagogge­nd deur ‘n betreder in sy huis met ‘n kapmes en ‘n bottel aangerand is, is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan en sterk tuis aan. Hy het veelvuldig­e beserings aan sy kop en arms opgedoen. Dit blyk dat die vermeende aanvaller, ‘n vrou in haar sestigs, Sondagogge­nd tussen 07:00 en 08:00 toegang tot die huis verkry het terwyl die man buite in die tuin was en sy vrou iewers in die huis doenig was.

Sy vrou het Dinsdagogg­end die traumaties­e gebeure met Oudtshoorn Courant gedeel.

Volgens haar is die aanvanklik­e inligting wat Sondag deur die polisie aan die koerant gegee is, heeltemal verkeerd. “Die vrou het nie onlangs by ons gewerk nie, sy het nie met ons kom gesels oor geld wat aan haar verskuldig is nie en sy het beslis nie die kapmes hier op ons erf opgetel nie, dit is haar weergawe wat sy blykbaar vir die polisie vertel het.”

Volgens haar het haar man Sondagogge­nd die kombuisdeu­r oopgesluit en soos gewoonlik uitgegaan. “Ek het later gehoor hy kom weer in en toe is daar ‘n groot lawaai. Ek het eers gedink dis hy wat goed rondskuif, maar toe besef ek iets is verkeerd.

Toe ek in die kombuis kom was my man besig om met ‘n vrou te stoei en daar was bloed oral. Toe die vrou my sien het sy ‘n glasbottel met vrugtesap na my gegooi en my man met nog ‘n bottel oor die kop geslaan en toe doodrustig by, die deur uitgestap.”

Volgens haar het haar man se kop en veral sy een arm vreeslik gebloei en sy het hulp ontbied. Sy het die vrou herken as iemand wat verlede jaar, kort nadat hulle in die huis in Hoopstraat ingetrek het, vir twee dae vir hulle kom werk het. “Ons het egter net iemand nodig gehad om ons te help intrek en daarna het sy nooit weer hier gewerk nie. Sy het ‘n doek om haar gesig gehad toe sy my man aangeval het, maar hy het dit afgeruk en toe herken ons haar. Die polisie het die vermeende aanvaller, wat in Blomnek woon, kort na die aanval in hegtenis geneem, maar weer laat gaan. Sy is Maandag op aanklag van poging tot moord gearrestee­r en sou gister in die hof verskyn.

Die slagoffer se vrou sê hulle kan glad nie verstaan hoekom die polisie Sondag gesê het haar man moet eers ‘n klag lê voordat hulle ‘n saak kan ondersoek nie. “Ek was dan hier, ek het alles gesien en hulle Sondagogge­nd vertel wat gebeur het. Wat sou gebeur het as my man so ernstig beseer was dat hy glad nie kon praat nie?”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa