Oudtshoorn Courant

Hungry Lions byt Warriors

- WYNDHAM EWERTS

Die Hungry Lions-vlakkiekri­eketspan het die afgelope naweek die Neppon Warriors in die OPL Top-8-vlakkiekri­ekettoerno­oi se eindstryd met ses paaltjies in die leeukuil verslaan. Die Warriors het die loot gewen en eerste gekolf.

Dit was duidelik dat die Warriors se toporde in die eerste tien boulbeurte oormatig versigtig was om nie te veel paaltjies te verloor nie. Dit het aanleiding gegee dat die span eers in die 12de boulbeurt die pap dik begin aanmaak het in ‘n poging om die lopietempo te lig.

Vir die Lions was Jason Plaatjies se 2/14 in drie boulbeurte en Blaine Willemse se 2/16 in drie boulbeurte grotendeel­s verantwoor­delik dat die Warriors vir ‘n steeds uitdagende 87 lopies uitgehaal is.

Die Lions se kolforde het in hul kolfbeurt daarenteen gereeld die telbord aan die rol gehou met veral die kaptein, Cameron Rhoode (32) en Johben Barends (38) wat voortrefli­k gespeel het. Barends, ‘n voormalige Firestones-speler, het in slegs sy tweede amptelike wedstryd vir die Lions gewys waarom hy so hoog aangeskryf word. Sy natuurlike aanvallend­e benadering en houe-uitstallin­g was ‘n plesier vir die oog en met hom in sy volle element, was daar geen twyfel watter span as oorwinnaar uit die stryd sou tree nie.

Vir die Warriors het Derick Olifant met sy suinige boulwerk uitgeblink, terwyl hul kolwer Willem Goliath se 40 lopies in ‘n verloorstr­yd die enigste silwer randjie om die donker wolk was. Die einste Warriors moes ook onlangs die knie in die OPLliga eindstryd buig toe die Old Crocs hulle oortuigend verslaan het.

Rhoode het na die wedstryd die Warriors bedank vir die goeie gees waarin die wedstryd gespeel was. “Ons wou graag die OPL se semi-finaal spook begrawe omdat ons geglo het dat ons daardie wedstryd teen die Old Crocs moes gewen het. Ons voel ook dat ons in die top-8 tot ons volle potensiaal gespeel het en dat ons ook tegnies beter gespeel het in terme van ons wedstryd plan. Ons nuwe aanwins (Johben) het weereens gewys dat hy ‘n finisher van formaat is. Op die ou einde was dit ‘n goeie spanpoging.”

 ?? Foto’s: Wyndham Ewerts ?? Blaine Willemse stuur ‘n bal af.
Foto’s: Wyndham Ewerts Blaine Willemse stuur ‘n bal af.
 ?? ?? Johben Barends (regs) moker ‘n bal.
Johben Barends (regs) moker ‘n bal.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa