Oudtshoorn Courant

Vrou verdrink in rivier

- STEFAN GOOSEN

Leah Pockpas (41) van Welbedacht, buite Oudtshoorn op pad na Calitzdorp, se liggaam het Saterdagaa­nd, 30 September, spoorloos verdwyn en sou eers Maandag 2 Oktober net na 13:00 deur polisiedui­kers uit die Olifantsri­vier gehaal word. Haar familie is in skok en weet nie hoe hulle die trauma gaan verwerk nie.

Pockpas se ma, Maria Malgas, het haar enigste dogter verloor. Pockpas se eie 15-jarige dogter, Beyoncé Pockpas, kon skaars twee sinne praat voordat die hartseer te veel geraak het. Sy het haarself forseer om 'n glimlag te dra.

Volgens Hendrick Pockpas, die oorledene se neef, was hy, sy niggie en twee ander dames die aand op pad huis toe toe hulle die brug by die rivier in die Nooitgedac­ht-omgewing oorsteek. Dit was pikdonker, het hy gesê, behalwe vir bietjie maanlig.

Hy het Maandag aan Oudtshoorn Courant gesê dat die groepie nog geloop en grappe maak het toe hy agterkom die oorledene is nie meer by hulle nie.

"Toe sê ek vir die twee meisies wat saam my was ek gaan nou weer omdraai, want Leah was missing. Toe ek by die brug kom toe sien ek net haar jas en rugsak lê daar. Ons het nie gesien of sy ingeval het of wat nie, dit lyk asof sy op een van die blokke op die brug gaan sit het," het hy vertel.

Volgens hom was daar niks verdag voor die oorledene vermis geraak het nie. "Daar was niks snaaks nie, ek het net agtergekom sy is nie meer by ons nie." Omdat sy foon se battery pap was, kon hy eers die volgende dag iemand inlig oor wat gebeur het.

Malgas, Pockpas se bedroefde ma, vertel sy het nog byna geen slaap gekry vandat haar dogter verdwyn het nie. "Ek het ook nog baie min geëet, net 'n stukkie hier en daar. Dis my enigste meisiekind wat ek verloor het. Ons weet glad nie hoe sy in die rivier beland het nie," het sy vertel.

Sy het gesê dat, toe polisiedui­kers haar kind se liggaam uit die rivier gehaal het, sy gemaan is om nie eens na haar dogter se lyk te kyk nie. "Die polisieman het gesê ek moet eerder iemand anders stuur om haar lyk uit te ken. Ek weet nie wat aangaan nie, blykbaar is haar liggaam reeds ontbind. Dis baie moeilik vir ons," het Malgas bygevoeg.

Pockpas se dogter, Beyoncé, het woorde tussen haar hartseer probeer uitkry. Sy is tans ’n gr. 9-leerder by Hoërskool Calitzdorp.

"Ek is baie sad. Ek weet nie hoe om dit te sê nie. Sy was liefdevol, en baie stil," is al wat sy kon sê.

Benito Pockpas, die oorledene se jonger broer, het sy suster beskryf as iemand wat altyd 'n glimlag gehad het en deurgaans haar hele familie ondersteun het in alles wat hulle gedoen het.

"As jy self iets bereik het dan het sy sommer vir jou dankie gesê. Die laaste woorde wat ek van haar gekry het was toe my meisie uitgevind het dat sy 'n tweeling verwag; toe sê Leah vir my dankie, sy is geseën. Dis iets wat my nou nog pla, noudat sy weg is beteken dit vir my, my tweeling is 'n bedoeling, want dis 'n meisie en 'n seuntjie. Vir my is dit baie hartseer."

Hy vertel sy suster was altyd daar om te help waar nodig. "Sy het my altyd haar Boeta genoem. As ek dink aan my suster weet ek nie wat om te sê nie. My jonger broer wil nie eers op die toneel kom nie, hulle was baie close."

Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoo­rdvoerder, het gesê dat die Calitzdorp­polisie 'n dossier vir ’n geregtelik­e doodsonder­soek geopen het nadat Pockpas se liggaam gevind is.

Volgens Spies is polisiedui­kers reeds Sondag ontbied nadat Pockpas as vermis aangemeld is, en dat verdere pogings om haar op te spoor Maandag gelei het na die verwyderin­g van haar liggaam uit die rivier. Hy het bygevoeg dat 'n lykskouing om die oorsaak van haar dood te bepaal nog hierdie week sal plaasvind.

 ?? ?? Die brug waar Leah Pockpas se besittings laat Saterdagaa­nd gevind is. Die rivier was baie ontstuimig en sterk na onlangse reën.
Die brug waar Leah Pockpas se besittings laat Saterdagaa­nd gevind is. Die rivier was baie ontstuimig en sterk na onlangse reën.
 ?? Foto verskaf ?? Een van die min foto’s wat die familie van Leah Pockpas van haar het.
Foto verskaf Een van die min foto’s wat die familie van Leah Pockpas van haar het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa