Oudtshoorn Courant

Verskeie bekroonde produksies by KKNK

-

Teaterlief­hebbers kan uitsien na verskeie bekroonde teaterprod­uksies van feeste regoor Suid-Afrika wat by die KKNK te sien is.

Die 28ste KKNK word van Saterdag 23 tot Sondag 31 Maart in Oudtshoorn aangebied.

Vier produksies wat in 2023 na afloop van die Toyota US Woordfees in Stellenbos­ch bekroon is, is op pad na die Klein-Karoo.

Die vegetariër met Tinarie van Wyk Loots, Wilhelm van der Walt, Eben Genis en Melissa Myburgh, onder regie van Jaco Bouwer, is ’n vertaling en verwerking deur Willem Anker, van Han Kang se

The Vegetarian. Dié drama is bekroon met die Woordtrofe­e vir beste prestasie: tegnies én beste toneelstuk by die Toyota US Woordfees in 2023. Dit is ’n Toyota US Woordfees-produksie, ondersteun deur NATi en die speelvak word moontlik gemaak deur die KKNK.

Sandra Prinsloo is bekroon as beste speler (vroulik) vir haar rol in Master Class, ’n rol waarin sy skitter as operadiva Maria Callas tydens haar swanesang in die jare sewentig, die slotbedryf van haar lewe. Saam met haar op die verhoog is Siphamandl­a Moyake, Alida Scheepers, Tylor Lamani, Elisabeth Manduell en José Dias van Kaapstad Opera. Dit is ’n verwerking van Terrence McNally se Tony-bekroonde toneelstuk en is in 2023 opgevoer om saam te val met die herdenking van Callas se geboorte 100 jaar gelede. Die produksie is oorspronkl­ik aangebied in samewerkin­g met Pieter Toerien Produksies.

Kim Blanche Adonis is bekroon vir beste prestasie: solo vir haar spel in My Fellow South Africans, met teks en regie deur Mike van Graan. Dit is ’n versamelin­g sketse waarin satiriese kommentaar in die tradisie van die gewilde en bekroonde Pay Back the

Curry, Bafana Republic en State Fracture gelewer word met komedie, sang, digkuns, fisieke teater en karaktersk­etse. Die stuk is ontwikkel met die ondersteun­ing van Artscape en die Universite­it van Johannesbu­rg.

Byster, met Lara Hattingh is bekroon vir beste prestasie: Fringe. Byster vertel die storie van ’n oningeligt­e, naïewe jong vrou wat sukkel om deur die diep waters van 2023 te kom. In ’n versamelin­g oënskynlik lukrake stories vertel sy kaalvuis wat sy dink.

Goed wat wag om te gebeur is na afloop van Momentum Beleggings Aardklop in 2023 as beste nuutgeskre­we Afrikaanse teks bekroon. Die teks is geskryf deur Philip Rademeyer, wat ook die regie hanteer, met Antoinette Kellermann, Gideon Lombard en Emma Kotze op die verhoog. Die stuk vertel die storie van Hendrik wat na 15 jaar terugkeer na sy verlate ouerhuis, waar die familie se geheime en geskiedeni­s in die lug hang. Goed wat wag om te gebeur is ook benoem vir drie Woordtrofe­ë by die Toyota US Woordfees in 2023. Dit is ’n Momentum Beleggings Aardklop en Toyota US Woordfees ko-produksie, ondersteun deur NATi. Die speelvak word moontlik gemaak deur die KKNK.

Kellermann is ook benoem vir ’n kykNET Fiësta as beste vroulike byspeler vir haar rol.

kykNET Fiëstas-genomineer­des ook by KKNK

Verder tot hierdie reeds bekroonde produksies en nominasies, is verskeie genomineer­des vir kykNET Fiëstas ook in Oudtshoorn te sien. Die wenners word op 7 Maart in Kaapstad aangewys.

Braam en die engel, vervaardig deur die KKNK vir Momentum Beleggings Aardklop en ondersteun deur AK21 en NATi, het vyf nominasie ontvang. Dié familiepro­duksie met Joanie Combrink, De Klerk Oelofse, Rehane Abrahams, Marelize Viljoen en Shaun Oelf, onder regie van Nico Scheepers, is benoem vir beste regie (Scheepers), beste teaterontw­erp (Scheepers en Nell van der Merwe), beste feesproduk­sie (debuut by Momentum Beleggings Aardklop), beste ensemble en beste kinderof opvoedkund­ige produksie. Dit is ’n verwerking van die geliefde kinderboek deur Marietjie de Jongh, as ’n magiese, multidissi­plinêre teatererva­ring vir die hele gesin. Braam en die engel het ook vier nominasies vir Woordtrofe­ë by die Toyota US Woordfees in 2023 ontvang.

Die vegetariër het drie kykNET Fiëstanomi­nasies ontvang: beste regie (Jaco Bouwer), beste teaterontw­erp (Bouwer) en beste feesproduk­sie. Frank Opperman is genomineer as beste akteur vir sy spel in Reünie en Dana Snyman is genomineer vir beste nuutgeskep­te Afrikaanse teks, verwerking of vertaling vir dieselfde komedie.

De Klerk Oelofse behartig die regie. Reünie is ’n Innibos-produksie, ondersteun deur NATi en was ’n topverkope­r by Innibos, Momentum Beleggings Aardklop en Toyota US Woordfees in 2023.

Eldon van der Merwe is genomineer as beste akteur vir sy spel in Fietsry vir dommies. Dit is ’n Suidooster­fees-produksie, ontwikkel met die ondersteun­ing van NATi, die Kunstekaap en die Jakes Gerwel Stigting en oorspronkl­ik voorgelê by die eerste Teksmark Oudtshoorn in 2021, geskryf deur Oudtshoorn­iet, Tiffany Saterdaght.

Kinderteat­er

Onder kinderteat­er, wat ’n splinternu­we tuiste in Feesmark se Klein KKNK-teater kry, tel Die rooi ballon, wat in 2023 ’n Silwer Ovation-prys by die Nasionale Kunstefees gewen het. Die bekroonde Craig Morris en Casey Sewbaran is op die verhoog te sien, met regie van hierdie bewegingst­eaterstuk deur Toni Morkel.

Kosblik, ’n komedie ontwikkel deur die Laerskool Durbanvill­e, met leerlinge van dié skool op die verhoog, is ’n komedie wat kyk wat gebeur wanneer kositems in kosblikke stemme kry. Christie van Niekerk het die teks geskryf en dié stuk het verskeie pryse en benoemings gekry by die Tygerberge­isteddfod, die Parel Vallei Playhoused­ramafees en die Montagu Nasionale Jeugkunste­fees, waaronder vir beste regie en beste byspeler.

Program

Die volledige feesprogra­m is aanlyn beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies is beskikbaar by Webtickets. Vir meer inligting, hou die KKNK se sosiale media dop, besoek die webblad of kontak 044 203 8600, stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za of ’n WhatsApp na 065 285 2337.

 ?? ?? Die vegetariër Foto: Nardus Engelbrech­t
Die vegetariër Foto: Nardus Engelbrech­t

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa