Britz as wenner gekroon
Nadia Britz, eienaar van Pro Academy Dansskool in Oudtshoorn en GrootBrakrivier, is verlede week as die wenner van die Woman in the Arts and Culturekategorie in die Woman of Stature Awards South Africa 2024 aangewys.
Sy is verlede jaar vir dié gesogte toekenning genomineer. Die toekenningsgeleentheid is 'n platform wat die prestasies en bemagtiging van vroue op verskeie terreine vier.
Britz het oor die afgelope 13 jaar 'n geweldige impak in die gemeenskap gemaak deur tot verskeie liefdadigheidsorganisasies by te dra en haar passie vir dans met baie te deel.
"Ek voel geweldig bevoorreg en regtig blessed om hierdie toekenning na Oudtshoorn te bring. Dit motiveer my om my beste te doen en om aan te hou met die werk wat ek doen. Ek het regtig nie verwag om te wen nie," vertel sy.
Haar akademie bied dansklasse aan vir kinders drie jaar en ouer. Sy glo dat dans 'n instrument is om positiewe verandering teweeg te bring.
Luidens 'n verklaring wat deur Woman of Stature-toekennings SuidAfrika
2024 uitgereik is, erken hulle nie net die individuele prestasies van die kategoriewenners nie, maar ook die kollektiewe uitnemendheid van al die finaliste.
Nadat die deelnemers verskeie werkswinkels bygewoon het, het meer as 80 genomineerdes deur 'n strawwe beoordelingsproses gegaan, ge-oudit deur MGI RAS, voordat hulle as die kategoriewenners gekies het. Britz was een van vyf finaliste in haar kategorie.
Charlotte du Plessis, uitvoerende hoof van die Woman of Staturetoekennings Suid-Afrika 2024, het gesê die deelnemers se prestasies is 'n voorbeeld van die gees van vroulike bemagtiging en dien as skitterende voorbeelde van wat bereik kan word deur vasberadenheid, passie en veerkragtigheid.
Elke kategoriewenner ontvang die baanbreker KimEveritt Coach Counsellor-sertifikaat van The NeuroCoach & Mentor Institute, 'n geskenk van Sabine G Health & Beauty Academy en 'n koopbewys van Blueberry Beacon Family Restaurant, Indaba Hotel of Peermont D'oreal Grande Hotel by Emperors Palace.