SA Jagter Hunter

#Afrikaans must fall?

- Deur HERMAN JONKER

Soveel dae, soveel dinge, het my ouma altyd gesê as iets haar opnuut verbaas het. Inderdaad – al moet niks ’n mens deesdae seker meer verbaas nie. Kyk dan nou hoe word selfs swaartekra­g ingesleep by die kultuur van verset wat beslag gekry het onder die wakende oog van ons keiser van verwoestin­g: #Must fall, lui die nuwe strydkreet. Phantsi!

Ek moet sê, toe dit begin het by #Rhodes must fall het ek self ’n toi-toitjie gegooi om my kampvuur. Aan dié ou gierigaard wat dinge soos die Boereoorlo­g, die mossie en die Land Rover oor ons gebring het, het ek mos nog nooit vat kon kry nie.

#Fees must fall kon ek ook nog verstaan. Moes ek dan nie self dakke verf en dronkies bedien in ’n poging om klasgelde bymekaar te skraap nie? En dit in tye toe ’n pakkie Luckies 23c gekos het en nie oor die R30 soos nou nie?

Maar toe kom #Afrikaans must fall. Wat toe glad nie lekker sit in my Afrikanerh­art nie. Afrikaans is mos darem kulturele volksbesit, ’n eie volwaardig­e inheemse taal. En in elk geval: Die betrokke Alma Mater staan al van lank voor die Tassenberg-sondvloed af bekend as Die Akker, en nie The Acorn nie.

Dit kos my toe eers ’n bietjie gaan sit en dink oor dié kwessie, daar by my dinkvuurtj­ie. Aan onwillighe­id vir regsteller­igheid wil ek my mos darem nie skuldig maak nie. Deesdae word jy soos ’n melaatse behandel as jy iets polities onkorrek aanvang.

In die dansende vlamme gaan daar toe gelukkig vir my ’n lig op. Daar langs die gloeiende knoppiesdo­ringstomp kom ek agter die kap van die byl.

Ek vermoed die hele ding het begin by Maties se soölogiefa­kulteit. En met goeie rede.

As Afrikaans nie jou eerste taal is nie, en jy nie kleintyd al gespeen is op stories van Pappa Beer en Mamma Beer en Baba Beertjie wat nie sy pappetjies eet nie, moet dit vir ’n student bitter moeilik wees om dierkundeA­frikaans te bemeester.

Dit moet lastig wees om byvoorbeel­d die woord ‘ekskre- ment’ te moet aanleer, net omdat die meer algemene term nie akademies toelaatbaa­r is nie. En om te moet leer om te praat van ‘nie-konteksspe­sifieke vokalisasi­e van Canis familiaris’, as jy eintlik net wil sê die hond blaf vir niks.

Dink net watter gesukkel moet dit wees om al die vreemde Afrikaanse terme te ontsyfer. Om te besef dat ‘hipoteties’ nie verwys na ’n seekoei se spene nie, en dat ‘bronstig’ ’n toestand is en niks met kleur uit te waai het nie.

Jy moet leer van ordes soos gelykhoewi­ges, vinpotiges en buistandig­es, plus al die spesie- name én hul spelling! Die klipklaasn­eus en die wangsakmui­s en die waaierster­tgrondeekh­oring en die kleinkolmu­skejaatkat en die kommetjieg­atmuishond en die rooigryssk­eerbek en die drietandbl­adneusvler­muis en nog talle, talle ander.

En dan moet jy hulle geslagsbes­krywings ook nog ken. Beer en sog en bul en koei en al daai. Wat moeilik is, want selfs Bosveldjag­ters weet dan nie eens aldag wanneer is ’n ding ’n bul en wanneer is hy ’n ram nie. Maar jy wat van die Cape Flats kom en Soölogie 101 loop, moet dit ken.

Jy kan nie sommer praat van ’n olifanttee­f nie, dan kom jy nie deur nie.

Dit moet rêrig frustreren­d wees vir iemand wat nie met die taal grootgewor­d het nie. Baie dinge maak eenvoudig net nie sin nie. Hoekom is dit byvoorbeel­d net ’n hond of ’n jakkalswyf­ie wat ’n teef is? Want waar het jy nou al ’n ding erger hoor teef as ’n tarentaal wat gepla word? En hoekom het gans en volstruis ’n mannetjie en ’n wyfie, terwyl ’n hoender ’n haan of ’n hen is? En moet ’n vroulike patrys nie ’n matrys wees nie?

Nee, Afrikaans maak nie altyd sin nie. Veral nie met benamings nie.

Jy leer dat die manlike Panthera leo, grootste van die inheemse Felidae, Orde Carnivora, tot soveel as 300kg weeg. En dat hy tot honderd keer op ’n dag kan paar, met verskeie wyfies wat te enige tyd in oestrus kom en minder as vier maande neem om hul kleintjies te produseer.

En wat word so ’n dier genoem in Afrikaans? ’n Leeumannet­jie. Seriously? ’n Stokstertm­eerkat, as hy so soldaatjie staan met sy, uhmmm... knatertjie­s gepresente­er, kan nog deurgaan vir ’n mannetjie, maar ’n leeu? Dis mos ’n MAN daai!

Gelukkig is ons wat weet hoe om in Afrikaans te dans, al gewoond aan sulke koddighede in die taal. Maar selfs dan is ’n universite­itsgraad steeds nie sommer ’n walsie nie. Jy pluk hom makliker as wat jy ’n beloogbosb­ontrokkie (Orde Passerifor­me, Familie Platysteir­idae, Genus Platysteir­a) ontveer.

Daarom het ek rêrig begrip vir studente uit ander tale wat deur Afrikaans moet worstel in ’n akademiese omgewing. Dit moet bitter moeilik wees. Maar #Afrikaans must fall? Aikona, my reënboogki­nners. Ek het vir julle ’n baaaaie makliker oplossing. Logika 101. Gaan swot eenvoudig net anderplek, soos daar waar Rhodes moes val... maar Zoology wel nog in sy taal aangebied word.

En as julle dan nog steeds iets soek om oor te lawaai, beywer julle eerder vir #Rain must fall.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa