’n Hartgeweer
Jy kom dit skielik een oggend agter – herfsblare is besig om die bome bont te verf en die blinksaadgras langs die paaie het oornag verander. Waar hul groen was, staan en wuif hul nou goue lyf in die son. Is jy soggens vroeg op, voel jy hoedat die koel luggie, wat eens skugter in die skemer voor die son uitgedans het, nou met groter dringendheid teen dagbreek se deure begin beur.
En voor ek my kom kry, staan ek dan voor my kluis... met die Mauser in my hande. Gereed om aan te gooi, sou ek in my verbeelding die Kalahari se rooi duine en ’n springbokram, of doringboomveld en ’n groot gryse met spiraalhorings op my grasperk gewaar.
En dis immer hy (ek kan eenvoudig nie aan ’n geweer as ’n “sy” dink nie), my hartgeweer, waarna my hande reik. Vir sommige is ’n hartgeweer die mooiste een in hul kluis. Een waarvan die okkerneuthoutkolf prag- tige vlamme het, die gravering smaakvol gedoen is, die pasmaakvisiere dikwels meer mooi as funksioneel is en die staal blinkblou glim. ’n Ware skoonheidskoningin – ja, dis nou een geval waar ’n geweer met ’n fraai lyf seker ’n “sy” kan wees.
Mý hartgeweer is doodgewoon, die vlamme in die donker hout subtiel, die kolf gekrap en die staal plek-plek blink gevat. Maar dis ’n geweer wat met my hart praat. Een wat my verby die klap van die skoot en die stil vorm van ’n gevalle dier neem. Dis een wat my ’n proesel van Afrika se ooptes, sy bosse en berge, sy wilde diere en sy oergeheime laat ervaar het. ’n Roer wat my herinneringe met helder reënboogkleure verf. Dis die geweer wat soos ’n knetterende aandvuur lig, warmte en rustigheid op my onthou-pad bring.
Met hom in my hand onthou ek die ou groot gryse wat net skielik teen die kliprant verskyn en afgeëts in die laatmiddaglig my met koninklike afsydigheid staan en aankyk het. Ek k kon net eenvoudig nie die geweer lig nie omdat iets in my binneste my verbied het om so ’n volmaakte prentjie te skaad.
Dis met dié geweer wat ek styf in my hande vasgeklem en klappertand – deels van koue en deels van vrees – in ’n oop veld gesit het terwyl ’n elektriese storm van epiese proporsies rondom my gewoed en weerligstrale die veld onverpoosd kasty het. By tye was ek bang dat ek dié nag nie sou oorleef nie.
Ek onthou die Moordenaarskaroo se helder sterre, die vet springbokke langs die Guribrivier in Suidwes en my 16km lange staptog sonder water toe daar ’n misverstand was oor waar die plaaseienaar my sou kom oplaai.
Diéi Mauser i is ’n h hartgeweer ja, ’n geweer wat alle jagters móét hê. Maak nie saak of dit bloot ’n mooi geweer is nie en of dit een is wat ver plekke se name in jou hart graveer. ’n Geweer wat so nou verweef is met die skatte van jou onthoukluis dat dit jou op ’n herfsdag kan wegvoer uit die woud van beton en staal. Weg... na plekke en tye waar die fonteinwater van jou siel weer helder uit hartkamers syfer.
Dis wat my 7mm Mauser doen.
Mooi loop!