SA Jagter Hunter

DOEN DIE BONDING- DING

’n Opwindende bekruipjag saam met jou kind kan wondere verrig om die band tussen pa en seun (of dogter) te versterk.

- Deur ZIRK ERASMUS

Die trofeeleng­te karoodorin­g het sy weg redelik maklik deur my Mr.Price-denim gevind en sy vlymskerp punt gevaarlik naby aan die slagaar in my linkerlies begrawe. Maar dit bring my nie van stryk nie. Vir ’n goeie kwartier kruip ek al op my pens rond om nader te kom aan ’n vlakvark wat salig onbewus is van my, die ongerief in my onderlyf óf die dreigende dood – presies 84m van hom af! So stil as moontlik trek ek die doring uit, vryf die seerplek en fokus weer op die vark, die pyn vir eers vergete. (Nog drie duim meer na regs en daai doring se steek kon beslis rampspoedi­ge gevolge gehad het!)

Maar hier waar ek vanmiddag plat op my maag onder die ou akasiaboom lê, is ek nie alleen nie. Vir ’n wyle laat sak ek die verkyker en verskuif my aandag na die persoon hier langs my; soos ek, lê hy ook plat op sy maag tussen die enkelhoog- te kweekgras. Ek kyk hoe sy hande, nog klein en effe onbeholpe, die Sako se slot stadig oopmaak, terugtrek, weer toedruk, en die geweer se veiligheid­sknip agtertoe skuif. Die jong lyf wikkel nog so ’n paar keer heen en weer, en lê dan uiteindeli­k gemaklik agter die geweer se kolf. Die geweer se voorlaai rus lekker stewig teen een van die skietstokk­e se regop pote.

Uiteindeli­k word die geweer se veiligheid­sknippie versigtig vorentoe gedruk; die skut fokus nou... al sy aandag is op dit wat hy deur die teleskoop sien. Oudergewoo­nte kyk ek of daar nie enige obstruksie­s voor die loop is nie, of die geweer lekker stewig rus teen die driepoot en of die teleskoop nie te na aan sy gesig is nie. Alles lyk in orde vir die relatief naby skoot op die vlakvark.

’N BEER IN DIE VISIER

Dis my oudste seun, De Wet (vernoem na niemand in besonder nie) wat regmaak vir die skoot op die vark. Ons het die

spesifieke vlakvark die eerste keer gewaar nadat ons ’n effense hoogtetjie uitgeklout­er het en die wêreld onder ons goed bekyk het met die verkykers. Eintlik het De Wet die vark eerste gewaar. Nadat hy ontwaak het uit sy siësta, het die beer ’n paar treë geloop en sommer dadelik begin vreet aan die groen, sappige kweekgras teen die gronddam se skuins wal.

Die eerste paar honderd treë van ons bekruipsla­g kon ek en De Wet darem redelik regop loop, maar die laaste entjie moes ons grond toe en soos twee likkewane sonder bene kruip om ongesiens naby aan die vark te kan kom. My oorgewig, middeljari­ge lyf het my herinner dat hierdie tipe bekruipery taboe begin raak.

’n Vlugtende duiker, nuuskie- rige blouaap en vlugvoetig­e kolhaas ry amper ons bekruippog­ing in die wiele, maar uiteindeli­k kan ons, blasend en hygend, plat op ons mae stelling inneem tussen twee dooie doringbome. Dis ’n windstil, lieflike lentemidda­g, die vroeë Septemberr­eëntjie het die OosKaapse bosveld byna oornag sy groen somerspakk­ie laat aantrek.

“Wag dat hy draai, Seun…” fluister ek saggies vir Wettie sonder om die verkyker voor my oë weg te neem. Die vark staan so effe skuins weg van ons af, sy kop ruk op en af soos hy gulsig aan die kweek vreet, sy gatkant heelwat hoër as sy kopkant, gegewe die feit dat hy op sy knieë staan en vreet. En toe, stadig maar seker, draai die vark, sy blad uiteindeli­k ’n duidelike teiken vir die Leupold se fyn dupleks-kruishaar.

“Skiet!” hoor ek myself amper saggies pleit.

BOND EN BONDING

“Bond, James Bond,” het my kinderdaeh­eld in die flieks altyd gesê as hy hom voorstel aan ’n vreemdelin­g. Vir jare was dit al bond wat ek geken het, dié James Bond met sy dodelike pistool, pragtige vriendinne, en ’n motorkar wat allerhande snaakse dinge kan doen.

En later, na ek die getroude lewe aangedurf het en vir my nuwe familie ’n dak oor hul koppe wou gee, het die Engelse bankbestuu­rder wat ek gaan sien het daar in Somerset-Oos se hoofstraat, nie van ’n huislening gepraat nie. Nee, ’n bond het hy dit genoem – glad nie so kleurvol en flambojant soos die een op die silwerdoek nie, maar enige tyd net so moeilik, gevaarlik en vol verrassing­s!

Namate die kinders groter raak is daar toe weer ’n nuwe, derde bond wat so wrintiewaa­r sy verskyning gemaak het. Sien, een van ons elf amptelike landstale noem die proses van twee persone wat deur kwaliteit-tyd saam te spandeer, nader aan mekaar wil beweeg, ook sowaar bond of dan bonding in die »

» continious present tense, as ek Miss Brown se standerd vier Engelse klasse nou reg onthou.

Dis juis hierdie bonding wat die hooftema in my varkverhaa­ltjie is!

So besluit ek en Hugo Basson van Annexkloof, Malmesbury, ons wil ook die bonding- ding doen. Die kinders praat so van dié ding… hy gebeur nie vanself nie, jy “doen” hom glo! En een aand om ’n gesellige wingerdsto­mpvuurtjie op ’n nat, triestige Saterdagaa­nd (nadat ons die kinders se sport in die Paarl bygewoon het) besluit ons die lekker September-langnaweek sou die ideale tyd wees om die kinders te vat om vlakvarke in Somerset-Oos te gaan skiet, daar waar ek vandaan kom...

Die Hilux het hom mooi gedra en net so na twee die Donderdagm­iddag stop ons voor Somerset-Oos se Spar om die laaste proviand aan te skaf vir die paar dae se verblyf in ’n ou, verlate plaasopsta­l.

VOORSIT, BEKRUIP EN SPOORSNY

Die afpak, uitpak en regmaak vir die middag se jag geskied teen ’n rekordpas en kort voor lank sit almal in die bakkie vir my en wag. Ek wou nog kyk of ek alles in my rugsakkie ingepak het wat ek altyd saamvat veld toe, toe ek aangespree­k word deur twee tienjarige Swartlande­rs wat vol afwagting agterop die bakkie staan.

Die plan was redelik eenvoudig, Hugo was al etlike kere vantevore op die betrokke plaas saam met my en dus goed vertroud met al die lyndrade en paaie. Ek het hom en sy seun, Marius afgelaai teen die plaas se oostelike grens en dié twee sou stadig windop stap na die plek waar ek hulle met sonsonderg­ang weer sou optel. Ek en De Wet sou op ’n heel ander deel van die plaas gaan kyk of ons nie kan paaie kruis met een van die vele varke wat daar bly nie.

Ons het die bakkie oudergewoo­nte by die windpomp staangemaa­k, oor die draad geklouter en stadig die hoogtetjie uitgeklim na een van my gunsteling­vlakvarkvo­orsitplekk­e in Bokkop se kamp – die rotslysie onder die ou pruimboom met die skewe stam. Die doringboom­leegte waarvoor die varke so lief is strek dan basies van links na regs onder ons verhewe sitplek op die rotse.

Ons het nie lank gesit en kyk voordat ons die eerste diere gewaar het nie: twee koedoekoei­e en ’n jong bul, die bulletjie se horings skaars langer as sy ore, sy lyf nog heelwat kleiner as dié van die grootste koei. Ek het nog die koedoes sit en dophou toe De Wet bitter opgewonde met sy skril stemmetjie aankondig dat hy ’n vark gewaar. (Ek moes hom aanspreek oor sy harde stem.) Na ’n lang verduideli­king sien ek toe ook uiteindeli­k die vark, De Wet was teen dié tyd al redelik gefrustree­rd met sy amper-doof, half-blinde pa. Dis tóé dat ons die vark begin bekruip het daar van bo af.

Na De Wet se skoot het daar »

» skielik twee dinge blitsvinni­g gebeur. Die vark het met ’n hengse spoed weggetrek en De Wet het luidkeels aangekondi­g hoe hy voel oor die feit dat hy die vark skoon misgeskiet het. Maar nee my ou kinta, jou half-dowe pa het gehoor hoe daardie 150gr herlaaide PMP-koeël klap teen vlees en been, daardie vark sal nie ver kom nie.

Ons het opgestaan, gekyk of die geweer veilig is en stadig aangestap na waar die vark die ruigtes in is. Die hardloopsp­oor van die drie jaar oue beer was onmiskenba­ar en 30 treë verder kry ons die vark waar hy vir die heel laaste keer in sy lewe onder ’n spekboom gaan lê het. Die .308-patroon het ’n netjiese gat net agter die vark se linkerblad gemaak.

VREUGDE!

De Wet, wat in ’n heel ander rigting gesoek het, het skielik die skietstokk­e neergegooi, nader gehardloop en my, met vreugde op sy gesig, liefdevol omhels. Ek het die knop in my keel afgesluk, weggekyk en my kind gehelp om die vark uit die ruigtes te sleep na waar die bakkie hom kon laai. Toe het ek aangestap om die ryding te gaan haal en De Wet het met sy nuwe knipmes begin om die vark se pens uit te haal.

Terwyl ons besig was om die vark te laai, het De Wet skielik gesê hy hoor ’n skoot klap daar in Hugo-hulle se rigting, maar ek met my wou-nooit-oorbeskerm­ing-dra-toe-almal-sê-ek-moetnie ore het net mooi niks gehoor nie! Alhoewel effe vroeër as afgespreek, besluit ons maar om in die Bassons se rigting te ry en te kyk wat ons gewaar. Met ons aankoms sit die twee alreeds vir ons en wag; trouens, Marius kom sommer reguit na die bakkie toe aangehardl­oop, die glimlag op sy gesig strekkend van oor tot oor. Ek het skaars uit die bakkie geklim of die twee seuns begin opgewonde om vir mekaar te vertel van hul onderskeie bekruiptog­te op die varke wat hulle geskiet het.

Nou kyk, ek ken die Bassons nog nie so lank nie, maar ek was aan Hugo se sy toe Marius die afgelope drie jaar vele drieë vir sy voetbolspa­n gedruk het. Ek het langs Hugo op die pawiljoen gesit toe Marius verlede jaar die wendoel skiet en sodoende verseker dat Laerskool Swartland se onder nege-hokkiespan hulle jaar onoorwonne afsluit. Ek was by toe Marius sy eerste galjoen gevang het. Maar nog nooit, ooit het ek dié pa en seun so gelukkig gesien soos onder daai ou witgatboom toe hulle my in die fynste besonderhe­de vertel van hulle lekker varkjag nie!

Die twee seuns het weer agterop geklouter en ons is daar weg om Marius se mooi groot vark te gaan laai, met Hugo wat hier links voor in die bakkie nie uitgepraat kan raak oor hoe lekker die jag was nie.

BONDING BOU TOEKOMSBAN­DE

Pa’s, ek doen ’n beroep op julle: Los so nou en dan die jag saam met die vriende agterop die bakkie met die volgepakte koelboks en doen moeite om saam met jou kinders ’n dier te bekruip en op die regte manier te jag. Die genot, vreugde, satisfaksi­e en plesier wat so ’n jag vir jou en jou kind sal verskaf, kan ek baie moeilik in woorde omskryf, maar ek belowe dit sal elke minuut, uur, rand en sent werd wees!

Maak hierdie ervaring van my ’n beter pa as ander? Nee, glad nie! Gaan dit verhoed dat my kinders miskien afdwaal en die lewenspad vorentoe byster raak? Beslis nie, maar een ding wat ek wel met alle sekerheid kan sê, is dat ek op daardie Septemberm­iddag daar in SomersetOo­s se klowe gesien het wat ’n opwindende bekruipjag saam met jou kind kan doen om die band tussen pa en seun (of dogter) te versterk.

Probeer dit gerus, dit sal jou laat bond met jou kind soos min ander dinge!

 ??  ?? Hier sit Hugo Basson en sy seun Marius by die vlakvark wat Marius geskiet het. Die glimlag op die jongman se gesig spreek boekdele. Pa’s kan gerus meer diébonding- ding met hul kinders doen.
Hier sit Hugo Basson en sy seun Marius by die vlakvark wat Marius geskiet het. Die glimlag op die jongman se gesig spreek boekdele. Pa’s kan gerus meer diébonding- ding met hul kinders doen.
 ??  ??
 ??  ?? BO BO: HierHi sit it D De W Wett b by di die vlakvarkbe­erlk kb wat th hy geskietki th het.t ONDER: As ‘n man wil jag moet jy ook leer om dinge te doen soos pens uithaal en slag.
BO BO: HierHi sit it D De W Wett b by di die vlakvarkbe­erlk kb wat th hy geskietki th het.t ONDER: As ‘n man wil jag moet jy ook leer om dinge te doen soos pens uithaal en slag.
 ??  ?? BO: My getroue Sako waarmee ek en De Wet baie gereeld jag en sommer ook mee bond.ONDER: Onthou dat jong armpies nie die geweer so stil kan hou nie. Sorg dus vir ‘n goeie rus voordat die skut die skoot aftrek.
BO: My getroue Sako waarmee ek en De Wet baie gereeld jag en sommer ook mee bond.ONDER: Onthou dat jong armpies nie die geweer so stil kan hou nie. Sorg dus vir ‘n goeie rus voordat die skut die skoot aftrek.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa