Die kettings van vryheid
Dit was skuins na vyfuur en die son het ons leepoog probeer oortuig dat dit reeds dag is. Aan die soom van die woud het die nag se asem spierwit op die gras gelê.
Ek en Rupprecht Walch, my gids, het die laaste paar treë uit die woud gegee en agter ’n kort dennebos gestop. Voor ons het ’n welige grasveld onder ’n mantel van ryp gelê. Skaars 80m weg het drie reebokooie en ’n enkele ram gestaan, heeltemal onbewus van ons teenwoordigheid.
Rupprecht het die bokkies bestudeer om ene van die regte ouderdom uit te soek. Twee van die ooie het mekaar begin rondjaag en uiteindelik sowat 60m links van ons gestop. “The one on the right is an old female, shoot her,” het Rupprecht gesê. Ek het die Steyr .308 Win oor die skietstokke laat rus en toe die kruishaar laag op die blad vassteek, die sneller gedruk.
Toe ek by die duiker-grootte bokkie kniel, het ek skielik gedink aan jagters en jag in Suid-Afrika. Hoe anders, ongekompliseerd en vry dit by ons is in vergelyking met Duitsland. Om daar ’n geweer te mag besit en te jag moet jy ’n eksamen slaag wat, volgens my inligting, moeiliker is as die PH-eksamens wat ons in Suid-Afrika doen. Kinders onder 16 jaar mag volgens wet nie jag nie... en so kan ek aangaan.
Ek is dankbaar vir die vryhede wat ons hier geniet, maar sommige jagters misbruik dit en as gevolg daarvan word meer reëls en regulasies op mede-jagters afgedwing. En so word die aanvanklike vryheid ’n ketting wat jou bind. André van der Merwe skryf in hierdie uitgawe oor misskote en die fooie wat sommige wildeienaars daarvoor hef. Omdat mense kanse vat, swak voorberei en swak skiet, is dit nodig om sulke strafmaatreëls in te stel... ’n ketting wat bind. Op sommige plase kry jagters een sakkie hout en moet dan alle hout wat hulle verder gebruik, aankoop, want mense maak reusevure en vermors die hout na hartelus.
Dink mooi daaroor en jy sal talle ander voorbeelde in ons wild- en jagbedryf kry waar aanvanklike vryhede die grond/ wildeienaars (en selfs die owerhede) gedwing het om bindende regulasies in te stel omdat jagters hul vryhede misbruik het.
Dieselfde tendens kry ons in die politiek. Ons het deesdae die vrye reg om te betoog en ons ontevredenheid te lug. Ongelukkig misbruik sommige mense dit en word skole, busse, treine, privaat eiendom, munisipale kantore, en so meer, afgebrand of vernietig. En so word vryheid ’n ketting wat bind. As alles rondom ons afgebrand, gebreek en vernietig is, bly net ashope en armoede oor... ’n stywe ketting wat wurg.
Terug na jag. Om te voorkom dat ons jagvryhede deur meer reëls en regulasies ingeperk word, sal jagters groter verantwoordelikheid en etiek aan die dag moet lê. Ons beeld na buite is ongelukkig nie goed nie en niemand anders as jagters self is daarvoor te blameer nie.
Mooi loop