Die korrekte opstel en gebruik van chronograwe
’n Chronograaf is onontbeerlik vir herlaaiers, maar as jy hierdie apparaat verkeerd gebruik, gaan hy van geen nut wees nie.
Chronograaf meet koeëlspoed deur die tyd te registreer wat ’n koeël neem om die afstand tussen twee sensors af te lê. Die meeste herlaaiers gebruik chronograwe met optiese sensors wat ligintensiteit meet. Sodra ’n koeël verby die sensor beweeg, registreer die apparaat die verandering in ligintensiteit. Chronograwe het gewoonlik twee sensors, een vir die begin en die ander vir die einde van die meting. Start en stop in Engels. Aangesien die sensors op ’n vaste en bekende afstand van mekaar is, kan die apparaat die koeëlsnelheid meet. Vandaar die lesing in voet of meter per sekonde.
Die betroubaarheid van metings word bepaal deur ’n klompie faktore. Ons kan onderskei tussen twee aspekte van meting, naamlik die akkuraatheid of korrektheid van die metings teenoor die herhaalbaarheid of die presisie van die metings. Akkuraatheid of korrektheid is of ons die werklike koeëlsnelheid meet. ’n Akkuraat gemete snelheid is baie belangrik vir trajekberekenings, veral met skote op langer afstande, asook vir ladingberekenings met QuickLOAD. Deur berekenings te doen met onakkuraat gemete koeëlsnelhede, gaan onakkurate en onbetroubare berekende resultate lewer.
Die komponente en elektronika in bykans alle hedendaagse chronograwe is in staat tot akkurate metings. Die fisiese plasing of montering van die sensors in die apparaat tydens vervaardiging, het dus die grootste effek op die akkuraatheid van metings. Die afstand tussen die sensors moet baie presies beheer word. Die meeste chronograwe se sensorspasiëring is een voet of 304.8mm. Sien in diagram 1 dat ’n fout van slegs 1mm in sensorspasiëring ’n 0.3%-fout in die lesing kan ver- oorsaak. Teen ’n snelheid van 2 800vps is die fout dan 9.2vps
Indien die sensors skuins of nie haaks met mekaar is nie, soos gesien in diagram 2, sal die snelheidsmeting wissel na gelang van die hoogte van die koeël bo die sensor. Indien die sensors in verskillende rigtings kyk, soos gesien in diagram 3, kan daar ’n fout wees met die posisie of tydstip waarop die koeël waargeneem word en die sensors aktiveer, wat ook ’n foutiewe snelheid lewer.
Soms aktiveer die sensors effens té vroeg of té laat weens weerkaatsing van lig vanaf die koeël ( glint in Engels), die fisiese eienskappe van die koeël of weens onvoldoende lig. Die glint kan uitgeskakel word deur die koeël swart in te kleur met ’n permanente merkpen.
Hoe verder die sensors uit mekaar is, hoe meer herhaalbaar en presies is die metings en hoe kleiner die foute. Met ’n sensorspasiëring van een voet (die standaard by die meeste chronograwe) is die verwagte of ingeboude skoot tot skootfout minstens 16vps. Dit verminder na 8vps met ’n spasiëring van 2vt en na 4vps met ’n spasiëring van 4vt. Daarom is die minimum voorgestelde spasiëring vir sensors 2vt en is die aanbevole spasiëring 4vt.
Die herhaalbaarheid of presisie van koeëlsnelheidsmetings is belangrik vir herlaaiers om die statistiese uniformiteit van hulle patrone se werkverrigting te meet.
Dalk moet jy oorweeg om jou eie stewige basis of montering te prakseer om die sensors teen die korrekte spasiëring en met die korrekte belyning daarop te monteer. Met aluminiumpyp en hoekprofiele kan jy ’n raamwerk bou waaraan die sensor maklik en stewig vasgemaak kan word met byvoorbeeld cable ties of double-sided tape.
Monteer hulle presies op die voorgestelde afstande van 2vt of 4vt, terwyl jy seker maak dat die sensors se belyning korrek is. Dit behels dat jy die verbindingsdrade tussen die sensor moet verleng, wat gewoonlik slegs vier draadjies bevat, wat jy een vir een direk verleng.