SA Jagter Hunter

Jeep, as jy rof wil stap

- Deur JACQUES BOSHOFF

Met hierdie stewels klouter jy net so goed as ’n 4x4.

Jeep bestaan al sedert 1941. Alhoewel dit lank voor my geboorte was, weet ek wel dit is ’n handelsmer­k wat oor die jare ’n reputasie opgebou het as ’n vervaardig­er van hoëkwalite­it-voertuie, -klere en -skoene. As jy saam met vriende om ’n braaivleis­vuur sit, kan jy amper seker wees dat een of meer persone iets sal dra met die Jeep-handelsmer­k op.

SA JAGTER/HUNTER het onlangs ’n paar Jeep-stewels ontvang om te beoordeel. Die paar wat ek moes uittoets, was die nuwe Namib-stewels wat net so ’n bietjie langer/hoër is as die normale enkelhoogt­e stewels. Ek persoonlik is nie, of eerder ek wás nie, ’n groot aanhanger van lang stewels nie. Maar ná drie verskillen­de jagtogte, waarop ons oor agt dae 100km gestap het (gemeet met ’n toep/ app op my slimfoon) kan ek met eerlikheid sê dat my siening oor die langer tipe stewels verseker verander het.

Tydens my eerste jagtog het die Jeep-stewels my nie vreeslik beïndruk nie, maar dit was eintlik my eie skuld. My lekker dik stapkouse het 450km ver weg, snoesig in my kas gelê waar ek hulle vergeet het. Op die eerste jagdag het ek byna 20km gestap en my voete het dit gevoel en gewys. Ons het net buite Maasstroom (Limpopo) in plat en ruie bosveld gejag. Om eerlik te wees, ek sou ’n platsoolsk­oen wou dra om so geluidloos as moontlik te kon stap. Maar ek moet bieg, die Jeep Namib-stewels se sole het veel minder geraas gemaak as wat ek verwag het.

Die tweede jagtog was in die berge naby Groblersda­l en al wat ek kan sê is, dankie tog vir dié Jeep-stewels! Hulle het uit- stekend in die berge gewerk en die sole se loopvlak het verseker dat ek nie op my agterstewe tussen die klippe beland nie. Op slegs een dag het ek meer as 12km gestap en met my dik kouse aan het die stewels lekker gedra en was my voete die volgende dag en die dag daarna reg vir nóg ver stap.

Ons derde jag het naby Nylstroom plaasgevin­d. Daar het ek in oop veld op redelike sanderige grond gestap en op ’n plato waar daar ’n taai klipkoppie is en waar die bokke weggekruip het. Ek kon weereens baie gemaklik met die Jeep-stewels stap en klouter.

Alhoewel die Jeeps lekker dra, is my gevolgtrek­king dat dié skoene so ’n bietjie van ’n inbreekper­iode nodig het. My voete is maar plat en maer, so ek het gesukkel om die veters vas genoeg te trek oor die bruggedeel­te van my voete. Om die enkel en hoër op kon ek hulle egter goed vasryg. Die oplossing was dus om dik kouse te dra.

Ek is lank en het gewoonlik ’n probleem met my jagbroeke wat óf ’n lang kortbroek, óf ’n kort langbroek is. Met hierdie lang stewels het die klitsgras niks gepla nie en dit was nie nodig dat ek kamaste ( putties/ gators) saam met my jagbroeke dra nie.

Die Jeep-stewels word van ’n kombinasie van materiaal en leer gemaak (net soos baie ander fabrikate jag- en buitelugsk­oene). Hierdie stewels is waterbesta­nd en die sole het ’n aggressiew­e loopvlakpa­troon wat goeie vastrap in ruwe terrein waarborg. Iets wat my baie beïndruk het, was die ligte gewig van die Jeeps. Kyk, as ’n man ’n lang nommer 13-stewel optel, verwag jy dat dit swaar gaan wees, maar dit was glad nie die geval met die Jeeps nie.

Alhoewel ek aanvanklik nie baie beïndruk met die Jeep Namib-stewels was nie, het my siening verander toe ek die regte kouse begin dra het. Dit was veral in bergagtige terrein dat ek die Jeeps waardeer het.

Ek dink dis goeie jagstewels en die aggressiew­e loopvlakpa­troon van die sole maak die Jeeps ideaal vir nat, gladde, modderige en ruwe terrein. Hierdie Jeeps is dalk nie só geskik vir saggies bekruip oor droë blare en gruisopper­vlaktes nie, maar as jagstewels vir algemene gebruik, is hulle meer as voldoende.

Jeep-skoene is beskikbaar by handelaars landwyd, maar indien jy hulle nie kan opspoor nie, kontak Footwear Trading by 011-630-4000 of stuur ’n epos aan ftrading@gbsa.co.za

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa