SA Jagter Hunter

Die tameletjie van etiek

-

Debatte oor etiek is vir sommige mense ’n onderwerp wat al holrug gery is, terwyl ander weer voel dit kan nie genoeg opgehaal word nie. Sommiges gee nie ’n bloue duit om wat ander van hul jagmetodes dink nie, hulle jag soos hulle wil. Dan is daar diegene wat glo jy moet te alle tye te voet jag en dat jy moet werk vir jou bok.

Party mense se nekhare rys by voorbaat as etiek ter sprake kom want hulle dink dis alweer iemand wat aan hulle wil voorskryf hoe hulle moet jag.

Voor jy jou hande in die lug gooi en die tydskrif neersmyt, lees gerus verder. Ek gaan niemand hier probeer oortuig dat hulle moet swoeg en sweet om sogenaamd eties te gejag het nie. Jy hoef nou regtig nie tydens jou jag so erg te sukkel dat jy soos ’n vrou in barensnood voel nie.

In die vorige tydskrif het ek te velde getrek teen die gebruik van hommeltuie vir ontspan- ningsjag en ons het ’n boogjagart­ikel geplaas van iemand wat ’n blouwildeb­ees by ’n suiping voorgesit het.

Laasgenoem­de artikel was ’n proeflopie om lesers se reaksie te toets. Uit die briewe was dit duidelik dat daar mense is wat nie hierdie soort jagstories in die tydskrif wil sien nie. Daar was veral twee sterk bewoorde briewe wat hul afkeur jeens boogskiet by suipplekke uitgespree­k het.

Wat die hommeltuie betref, het ’n briefskryw­er my daarop gewys dat hy vir die pot skiet en dat dié tuigies hom baie tyd spaar. Hy wil nie sukkel nie, wil reguit na die bokke toe kan gaan, een skiet en huis toe ry.

Ek weer, verkies om te voet te jag, selfs al skiet ek net vir die pot. Dis beslis nie omdat ek glo jy noodwendig op ’n oorlewings­kursus moet gaan om jou bok te kry nie. Die grootste rede is dat ek dit baie geniet om lang tye in die veld te spandeer en werklik na aan die natuur te wees. Ek moet toegee dat ek ook van die uitdaging hou om wildsbokke op hul eie terrein te probeer uitoorlê.

Ek het oor die jare gevind dis veel moeiliker om bokke tot op kortafstan­d te bekruip en te skiet as om hulle op langer afstande bokveld toe te stuur. Langafstan­dskote of skiet van ’n jagbakkie af laat my koud – dit laat my ’n bietjie soos ’n toeskouer voel. Ek hou van die interaksie met die bos en die dier, en dit kry ek veel meer wanneer ek ’n bok bekruip. Dis daardie noue interaksie en die noodgedwon­ge toepassing van veldkuns wat die adrenalien laat pomp.

Jagters is oral in die wêreld onder druk van die groenes en ander wat teen verskeie vorme van jag gekant is. Ons aksies word met arendsoë dopgehou. Almal weet dat ware vrylopende wild grootliks nie meer bestaan nie, dat ons ons wild prakties moet bestuur en elke jaar sekere hoeveelhed­e moet uitdun. Dit bly egter steeds deel van die etos van jag dat die dier darem op ’n manier ’n kans moet hê om te kan ontsnap, veral as jy vir ontspannin­g jag, soos so baie van ons doen.

Die algemene tendens deesdae is dat mense weier om voorgeskry­f te word oor hoe hulle mag jag. Elkeen moet dus jag soos hy of sy goed dink maar dit moet altyd op só ’n manier geskied dat die beeld van jag en jagters nie geskaad word nie. Om te redeneer dat ons aan niemand enige verduideli­kings verskuldig is oor die manier waarop ons jag nie, gaan eenvoudig nie werk nie. Dit gaan net teen ons tel.

As jag eers verbied is, gaan dit te laat wees om skadebehee­r te probeer toepas.

Mooi loop.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa