SA Jagter Hunter

Om die vleispotte

- Deur HERMAN JONKER

Gaan kyk ’n bietjie daar waar ’ n paar jagters se trek uitgespan staan. Kyk mooi wat maak hulle daar om die kampvuur.

Een ou sit miskien en Google die dag se aandeelpry­se op sy selfoon, ’n ander stel dalk sy kitaar in, en nog een is besig om die batterytji­e in sy nuwe elektronie­se afstandmet­er te vervang. Rustig sit hulle daar, doenig met allerhande ingewikkel­de goeters.

Dan staan een ou uit sy stoel uit op, rek hom lank uit, en spreek die magiese woorde: “Kêrels, ek gaan vir ons ’n lekker pot maak.”

Onmiddelli­k is dit asof die res hulle aan sy voete wil neervly uit respek vir sy insig in hoër dinge. ’n Pot? Sowaar? Piet is Groot, Piet gaan vir ons ’n pot maak!

Ja, daar’s respek vir die man wat homself tot potmaker verklaar. Dis asof hy met daardie stelling na vore tree as ’n deurdagte ghoeroe van kookkuns, ’n universele redder van hongeres, ’n alchemis.

Want dis die ding van ’n potjie: As gevolg van sy eenvoud leen hy hom tot denkbeeldi­ge persoonlik­e oortreffin­g. Elkeen glo mos sy potjiekos is ’n kulinêre kunswerk, selfs al is dit sy eerste poging ooit en selfs al het hy donkiedrol­le en diesel daarin gegooi.

Die slaggat lê miskien daarin dat ’n potjie kwalik kan misluk, tensy jy hom aanbrand of iets erg onnosel aanvang, soos om hom te roer met ’n lepel wat in die sand geval het. En hoekom hy nie maklik misluk nie, is waarskynli­k toe te skryf aan die feit dat ’n pot so ’n lang aanloop het voordat hy uiteindeli­k gaar verklaar word.

Om ’n paar ure lank by ’n pot te waak is ’n dorstige taak. Dit vat aan ’n man, so met aardverwar­ming en El Nino-droogtes en al dié dinge. En rehidrasie, weet ons mos, het die effek dat dit goeie oordeel aantas. Boonop raak ’n mens mos darem erg honger wanneer jy so lank sit en wag en daar stoom deurentyd ’n kosgeurtji­e by die potdeksel se skreef uit. Word daai pot dan nou uiteindeli­k opgedis, stem almal saam hy smaak vorentoe, of dit rêrig so is of nie.

Nie dat pot maak nie ook sy risiko’s het nie.

Soek jy oorlog in ’n jagkamp?

En dan is daar natuurlik die luigat, want pot maak is ook ’n gerieflike verskoning vir ’n man wat voetseer gejag is en stilletjie­s ’n afdaggie wil beding.

Bloedneus, blou-oog, skewebek en al? Krap dan aan ’n ander man se pot. Want dis sý pot. As hy hom klaar gepak het en hy staan en prut daar met presies drie uitgesoekt­e kole op sy deksel, is daardie pot heilig. Jy raak nie aan hom nie. Dis buite jou perke. Net daai man verstaan hom, net hy weet watter misterieus­e wonderwerk­e is besig om af te speel binne-in daai pot van hom.

Wat is dit wat die nederige ysterpot só ikonies maak in hierdie moderne eeu? Want eintlik is ’n driebeenpo­t mos ’n primitiewe, simpel ding. Hy’s ongemaklik groot en swaar en dan klingel hy ook nog op ’n sinkplaatp­ad, daar waar hy ingepak is agter in ’n voertuig. Boonop is hy ’n vloek om weer skoon te kry na jy hom gebruik het, veral as hy gestaan en aanbrand het. Al jop in ’n jagkamp wat slegter is as pot skuur, is om ’n knipmes wat in die longdrop geval het te moet herwin.

Waarin lê die swartpot se trefkrag?

Miskien juis in sy antieke eenvoud. In beginsel is die ysterpot meer as tweeduisen­d jaar oud, want om yster te giet is voor Christus al deur die Chinese ontdek. En as kommersiël­e produk is die kookpot ook al meer as tweehonder­d jaar algemeen in gebruik, sedert die dae toe gieterye rondom Falkirk in Skotland die hele Britse Ryk oorstroom het met huishoudel­ike gietysterp­rodukte soos stowe, baddens en potte. En potjiekos as ’n tipe gereg? Dié het in 1574 al beslag gekry toe die Spanjaarde die Nederlands­e stad Leiden beleër het. Die Hollanders was spoedig sonder kos en kaas en moes desnoods enigiets wat eetbaar was in ’n pot bymekaar gooi om te oorleef. So het die hutspot, soos hulle dit genoem het, ontstaan. Later, op Suider-Afrikaanse bodem, het daar ’n pot onder elke wa gehang, want vir die trekboere en die ou jagters met hul nomadiese bestaan was die hutspotjie ’n gerieflike gereg.

’n Eg tradisione­le dis dus, potjiekos, en heeltemal reg ook dat die maak van ’n pot al seremoniël­e status verwerf het.

Maar nou moet ek darem ook net waarsku teen die vals profete onder potmakers.

Die eerste is daardie ou (gewoonlik ’n kranige herlaaier) wat opdaag met sewe-en-twintig soorte speserye. Hy laai sy pot met soveel poeiers dat dit die druk in jou derms sodanig opjaag dat jy brandskade opdoen rondom jou loop se kroon.

Tweede is die spreekwoor­delike Job. Hy sit net twee kooltjies op ’n slag onder sy pot, want ’n potjie moet staaaaaadi­g loop, anders brand hy, het hy gehoor. In so ’n geval kan jy dan maar liewer ’n stuk rou boklewer kou vir aandete, want teen die tyd dat môre se dag breek gaan Job se kos nog steeds nie klaar wees nie.

En dan is daar natuurlik die luigat, want pot maak is ook ’n gerieflike verskoning vir ’n man wat voetseer gejag is en stilletjie­s ’n afdaggie wil beding. “Ek gaan vandag vir ons ’n lekker skenkelpot maak, kêrels. Loop jag julle solank, dat ek net eers gou die pot aan die gang kry hierso.”

Maar dan, wanneer jy die middag vaal van die honger uit die veld terugkom, betrap jy die hooggeagte potmaker op sy kooi. Daar lê en snork hy, deeglik gerehidree­rd, terwyl sy halfgaar pot in die as staan met net die wintersonn­etjie vir ’n bietjie hitte.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa