DIE AAP EN DIE KOEDOE
Oorlamse blouape kan die lewe vir ’n koedoejagter bitter moeilik maak…
k sit hierdie spesifieke aap die afgelope halfuur al aandagtig en dophou. Ironies genoeg, glo ek, as die aap eendag die gebeure van 28 Junie 2016 sou moes oorvertel, sy verhaal hoogs waarskynlik met dieselfde woorde as myne sou begin.
Hoe dit ookal sy, van net na die son sy eerste strale oor Niekerksberg gegooi het, sit die twee van ons al na mekaar en kyk, met 600m se pragtige pruim-en witgatboom bedekte Karooveld wat ons skei. Presies hoekom hy na my kyk, weet ek nie, maar die rede hoekom ek hóm en die doringleegte waarin hy hom bevind, so stip deur die Swarovski dophou, het eintlik niks met die aap te doen nie.
WENKOMBINASIE
Sien, vroeër vanoggend, nét toe die Europese verkykertjie genoeg lig deurgelaat het dat ek kon sien wat om my aangaan, het drie koedoebulle in dieselfde doringleegte ingestap, daar waar die aap en sy dosyn vrinne hulself nou bevind. Dis ’n ou truuk van ape en koedoes om so saam-saam te beweeg – die koedoes se fyn gehoor en reuk, saam met die ape se ongelooflike sig, maak die kombinasie van dié twee spesies amper ’n superwese, want hulle waarsku mekaar teen enige gedierte of mens. Nou kyk, ek gee nie om of jou naam Ben Bekruip, Camo Kallie of Katvoet Karel is nie, maar vir aap se kind bekruip jy nie sommer as hy jou al gewaar het nie. En dit is juis nou my dilemma, want my oudste seun, De Wet is by my en die knaap wil vanoggend vreeslik graag een van daardie drie mooi donker oopveld-koedoebulle in dié doringleegte gaan doodskiet.
Sarie Schoeman van Greylingskraal, Somerset-Oos het gevra ons moet soos elke jaar vir haar ’n koedoe of twee skiet vir biltong en wors en vir Sarie van Greylingskraal wil ek nie graag teleurstel nie. Jare al maak sy op my staat, en as vergoeding vir al my harde werk kan my kinders haar mooi groot trop rooibokke kom pla. Maar vanoggend gaan ’n verdomde blouaap en sy oorlamse vriende dit vir my bitter moeilik of onmoontlik maak om De Wet naby genoeg aan die koedoes te kry sodat hy ’n skoot op hulle kan waag.
As gevolg van die ape se teenwoordigheid kan ek nie reguit na die dorings toe nie, al opsie is om so half terug te stap bakkie toe en met ’n wye draai die doringleegte vanagter ’n effense hoogtetjie te nader en dan hopelik ’n skoot in te kry voor die ape my gewaar, “jagters!” skreeu en al wat koedoe is laat spandeer. Al probleem met my plan van aksie is dat die westewindjie so effe van die hoogtetjie af na die doringleegte toe waai en al kan daardie klein ronde aapogies ons nie agter die rantjie sien nie, gaan die drie koedoebulle se ses neusgate beslis ons mensreuk optel. Dit is egter al opsie wat ons het en sekondes later begin ek, De Wet en ons kleurling-metgesel, ene Rottie (glo kort vir sy oupa se naam, Rodney) daar wegstap.
DIE WIND DOPHOU
Die wêreld om ons is redelik kaal en kort-kort loer ek deur die verkyker om te sien of daar nie enige ander wild is wat vir ons gaan skrik en sodoende die koedoes gaan wegjaag nie. Gelukkig is daar net ’n steenbokooitjie wat ’n heel ander rigting inslaan. Ek hou ook gereeld die windjie dop... Anders as ons voorvaders wat met hul assakkies en wie weet wat nog alles die windrigting bepaal het as hulle binne spoegafstand van die grootvoete wou kom, is my manier van kyk hoe die wind waai eintlik doodeenvoudig. Al wat ek doen, is om die grond voor my voete net so liggies te skop en te kyk in watter rigting die stof trek – net versigtig wees om hier in die Oos-Kaap nie ’n katjie raak te skop nie! Daai litjieskaktusdoring se gebrand is die laaste ding wat jy nodig het as jou droomkoedoebul slegs 100m voor jou staan.
Die rigting waarin die stof trek gee my skielik weer nuwe moed, want dit waai nie reguit na die koedoes se kant toe nie en as ons die hoogtetjie bereik, sal dit half skuins weg van ons af waai, laer die streep dorings in waar daar hopelik nie nóg wild is wat ons kan ruik nie.
Hoe nader ons aan die plek kom vanwaar ek wil skiet, hoe meer toets ek die wind en hoe meer kyk ek die tweemanskap agter my kwaai aan as hulle ’n klip skop of iets raak trap wat geraas maak. So 100m van die hoogte af gee ek vir Rottie streng opdrag om net daar onder ’n pruimboom te wag todat die gebeure verby is. Hy sit hom geensins teë nie en die laaste entjie is dit net ek en De Wet. Ek wat elke nou en dan met ’n kwaai gesig omkyk en gereeld die grond hier voor my so stil as moontlik ’n ligte skoppie gee. Die laaste 10m seil ons plat op ons mae en toe die doringleegte uiteindelik so 200m onder ons verskyn, waai die westewindjie genadiglik ons mensreuk skuinsweg die dorings in.
GROOT KOEDOEBUL
Sekondes nadat ek die tweepootjie onder die Sako oopgevou en die geweer in gereedheid gebring het, vlieg die verdomde aap soos blits grond toe en begin hardloop. De Wet was nog besig om sy lê agter die roer te kry toe die eerste koedoebul nonchalant die dorings uitstap, sy pragtige vel blink in die oggendson.
“Moet nog nie skiet nie Seun, wag dat hy draai,” hoor ek myself fluister. Om een of ander rede is die koedoe egter, teenstrydig met sy natuur, houtge- »
» rus en na ’n paar treë gaan staan die bul, sy ore twee radarskottels om te probeer bepaal hoekom aap se kind so haastig daar weg is. Toe stap ’n tweede, aansienlik groter bul die dorings uit en kan ek sien dat De Wet al sy aandag op hierdie bul met sy mooi groot lyf en horings vestig. Dié bul stap ook ’n paar treë vorentoe en, anders as die jonger bul wat met sy biltongkant na ons toe staan, draai die groter bul skielik plankdwars en staar stip in ons rigting. Gelukkig kon ek darem intussen met bewende hande die afstandmeter uit my heupsakkie kry.
Die woorde, “213m, Wettie, vat dáár waar jy wil skiet,” was nog nie behoorlik oor my lippie nie toe praat die Sako hier langs my. Ek hoor die 150gr herlaaide PMP-koeël vasslaan en sien hoe die koedoe effe die lug in spring, sy rug krom trek, witstert maak en met ’n hengse spoed daar wegtrek. Ouder gewoonte gryp ek die geweer by my kind, laai nog ’n patroon en kyk deur die teleskoop. Na so 300 treë gaan staan die bok, ongeveer 50m van die plaas se grensdraad af. Die koedoe gaan enige oomblik daardie doodse wieg begin wieg, kop omlaag die onafwendbare probeer beveg en dan neerslaan. Maar nee, dit is gou duidelik dat waar De Wet ookal die koedoe geskiet het, dit níé is waar daar asem gehaal of bloed gepomp word nie. Die kanse is verder ook goed dat die bul weer gaan begin hardloop en erger nog, dat hy oor die draad in die buurman se veld gaan spring.
Almal wat my ken sal kan getuig dat ek nie ’n man is wat op 600 of 700m ’ n ghong gereeld kan laat “ghong” nie, maar hoe nou gemaak? Die koedoe is definitief raakgeskiet, hy gaan duidelik nie gou vrek nie en boonop staan hy baie na aan die buurman se draad.
IN ONS NOPPIES
Tyd vir afstand meet is daar nie. Ek kompenseer vir die afstand, trek die sneller (in plaas daarvan om dit te druk) en stuur die PMP-koeël op sy pad. Nou kyk, toe die koedoebul net daar neerslaan was ek stomverbaas, De Wet verheug, Rottie half aan die slaap onder die pruimboom en die spul ape alreeds in die volgende kloof.
Met ’n skewe glimlag, ’n effense oogknip en die woorde “Nee wat, ou seun, so skiet ons hulle maar…” begin ons aanstap na die koedoe toe, De Wet vreeslik in sy skik dat sy gekweste koedoe nie oor die draad na die buurman toe is nie. Sy skoot was toe net effe te ver terug en ’n bietjie te hoog. My skoot het die bul getref net daar waar sy nek en blad bymekaar kom, beslis baie laer as waar ek die Leupold se kruishaar bokant die koedoe gehou het.
Ek, baie in my noppies dat daar nie één nie, maar twéé getuies is wat die wêreld kan gaan vertel van my fyn stukkie skietvernuf, gee die twee opdrag om die bul solank reg op te stel vir die foto’s en gaan haal toe die bakkie. Die kalerige veld sou dit redelik maklik maak om tot by die koedoe te ry. Natuurlik sou ek, ’n elfjarige kind en ’n klein, maer plaaswerker beslis ’n opdraande stryd hê om die groot koedoebul agterop die bakkie gelaai te kry. Ek kon natuurlik al die pad dorp toe ry en ’n paar manne kry om te help, maar daarvoor was ek nie lus nie. Na die fotosessie het Rottie en De Wet die bul se pens uitgehaal en ek het begin besin oor die taak wat voorlê.
PLAN WAT WERK
Kyk, ek het ’n lys kwale en kranklikhede so lank soos ’n Rowland Ward-bosbokhoring. Heel boaan die lys is my rug wat my vir dae lank opkeil as ek iets swaar optel. Die drie van ons sou seker na ’n hengse gesukkel die bul gelaai kon kry, maar ek was nie lus om die res van die vakansie met ’n seer rug rond te loop nie. So 300 treë van die koedoe af moes ek vroeër met die bakkie deur ’n diep sloot ry en ek besef skielik dat, as ek die koedoe tot by die rant van die sloot kan kry en die bakkie in die sloot parkeer, die oop agterklap en die koedoe amper dieselfde hoogte sou wees. Ons kon dan die koedoe bloot tot op die bak sleep. Dit alles was goed en wel, maar ek het nie ’n tou of enigiets anders byderhand gehad om die koedoe agter die bakkie aan tot by die sloot te sleep nie.
Teen alle verwagtinge in was dit nogal Rottie wat tot my redding gekom het. Hy het ’n ou stuk ankerdraad daar naby gewaar en kort voor lank kom hy met die 6m lange stuk draad daar aan. Die plan het uitstekend gewerk en kort daarna ry ons drie om die bul by Sarie se slagplek te gaan aflaai.
En ja, ek kon ’n wonderlike week verder in die Oos-Kaap geniet sonder enige las van ’n seer rug. Sarie was natuurlik ook bitter bly oor die mooi grootlyfbul. Later die week kon my drie kinders toe elk ’n mooi rooibok plattrek.
Wat die aap gedink het toe die lelike grysbaardman en sy gretige kind skielik op die hoogtetjie verskyn het, sal ek natuurlik nooit weet nie. Wat ek egter wel met sekerheid kan sê, is dat daar tussen die spul ape so met die weghardloopslag darem seker ’n paar keer genoem is dat hulle in die toekoms meer op hulle hoede sal moet wees.