SA Jagter Hunter

Lang trane

- Deur HERMAN JONKER

Trane. Lang, sout, grootmanst­rane. Daardie brandende trane wat ’n jagter soms huil, om verskillen­de redes. Partykeer is dit soet trane van aandoening, van dankbare nederighei­d as hy ’n lewe geneem het en opnuut weer oorweldig word deur die grootsheid en mildelike gawe van die natuur.

Dit kan ook bitter trane van skaamte wees, wanneer hy besef hy’t iets aangevang wat die brose lyn van moraliteit vertrap het en skande meebring. Of selfs daardie allersouts­te trane; die trane van spyt in die nadraai van ’n onbesonne skoot wat tot ’n dier se lyding of ander tragiese gebeure gelei het.

Ander kere is dit trane van teleurstel­ling, of van vreugde, of van sommer net wil huil oor hy hoeka ’n paar huile agterstall­ig is vanweë persoonlik­e omstandigh­ede. Wat ook al; feit is ’n jagter stort soms ’n traan want in die natuur word sy siel blootgelê. In die vlamme van die kampvuur word hy van waan gestroop en uiteindeli­k gekonfront­eer deur sy eie, ware self.

Nou wat presies, van al hierdie redes, is dit wat hierdie spesifieke kêrel so laat huil, staan en wonder ek. Want die Amerikaner staan in trane daar by sy gevalle olifantbul.

Baie manne huil by ’n olifant, dit weet ek. As so ’n ou grote geval het is daar groot emosies wat nog loop. Na die hitte van die stryd tref ’n koue werklikhei­d jou mos as jy die traan in daardie lewelose ou skurwe oog aanskou. Daarby ook nog die nadraai van emmersvol adrena- lien wat jou skielik weerloos laat voel wanneer dit leegloop. Ja, dis hoogs emosioneel om as laksman langs die lyk van die grootste landdier op aarde te staan. Dit vat aan ’n man.

Maar hierdie ou, al is hy ’n sagte mens, lyk nie of hy aangedaan is nie. Hy raak dan nie eens aan die olifant nie. Hy staan en snik en snotsnuif eerder soos ’n rykmanskin­d wat pas langs ’n oop graf verneem het hy erf niks.

Spoedig raak dinge egter duidelik. Dis trane van teleurstel­ling, want hy’s hoogs ontevrede met sy skoot.

Daarvoor het hy miskien rede, want na baie ure op die spoor en bykans ’n halfuur se kat en muis met die wind en ses bulle het hy uiteindeli­k ’n skoon skoot van die skietstokk­e af met die uitgesoekt­e bul morsdwars skaars twintig treë voor hom. En toe mis sy skoot daardie kritieke oorgleuf met ’n goeie twintig cm en alle hel bars los. Na nog twee haastige skote, een daarvan heel mis, en met ’n ander bul wat aanstorm, moes die beroepsjag­ter ingryp en ’n einde bring aan die fiasko.

Maar instede van te erken dat hy doodeenvou­dig aan die bewe geraak het – want dié kon ’n mens duidelik sien – begin die man nou verwyte en verskoning­s opstapel. Die skietstok was nie reg nie. Die PH moes nie geskiet het nie. Die olifant het sy kop gedraai. Jeremiade op jeremiade – oor die daaropvolg­ende dae versuur dit die hele kamp se gees.

Maar so raak dit wat ek van die begin af vermoed het, ook al hoe meer duidelik.

Hierdie man is glad nie ’n jagter nie. Hy het al talle diere geskiet, insluitend buffels en olifante, hy besit meer as vyftig gewere en hy skiet baie, maar ’n jagter is hy nie in wese nie en sal hy ook nooit wees nie. Om die kampvuur draai sy gesprekke net om politiek of ballistiek. Op die spoor stel hy in niks anders belang as die grootte van die olifant en wat sy ivoor kan weeg nie. By die watergate toon hy geen belangstel­ling in die wilde- honde se spore of die talle ander tekens van rare natuur nie. Hy weet van jagtegniek niks en dit skyn ook nie of hy enigsins belang stel om te leer nie. Sy hele jagwêreldj­ie wentel net om die daad van skiet.

Hierin is hy natuurlik nie alleen nie. Ons sien dit deesdae oral om ons; hierdie ding dat die blote skiet van ’n dier beskou word as jag. Daar het trouens al ’n hele industrie verrys wat dit fasiliteer.

Dis miskien ’n teken van die tye. In ’n era van kits gratifikas­ie is dit tog seker onafwendba­ar dat ook jag dit nie gespaar sou bly nie. Skiet van bakkies af, skiet met kunsmatige lig, skiet in klein kampies, lang afstandski­et op lewende teikens, die skiet van geteelde diere op ’n skinkbord: Die lys van kortpaaie raak al hoe langer en die lys van jag vaardighed­e dienooreen­komstig korter.

Dis dan seker ook te verstane dat die maatstaf vir ’n goeie jag gaandeweg begin verskuif het na die presisie van die skoot, eerder as die metodiek en ervaring van die jag. Maar steeds; om só te ween en te kla en jouself dae lank te kasty oor ’n skoot wat effens van koers af was tydens ’n spannende situasie?

Drie dae na die Dag van Trane vind ek die verklaring.

Sy pa, vertel die Amerikaner laataand om die kampvuur in ’n rare oomblik van realiteit, was ’n harde man. Hard van hand en skerp van tong. Maar ’n ywerige jagter, en vol lof en goedkeurin­g wanneer sy seun die slag ’n goeie skoot geskiet het.

Sowaar: Na sestig jaar loop hierdie man nog steeds met daardie kweshoue uit sy kinderdae. Eintlik het hy dan goeie rede vir sy trane want hy het inderdaad niks van waarde geërf nie.

Dis jammer dat iemand wat homself miskien eerder op ’n ander gebied sou kon vind, tot jag geforseer is deur ’n dwingende pa. Tragies ook dat hy sy eie waarde nog steeds probeer meet aan die perfekte skoot.

En die feit dat ’n wyse ou olifantbul met sy lewe moes boet in nóg ’n poging om daardie kinderduiw­els te besweer?

Dis om van te huil.

Sy pa, vertel die Amerikaner laataand om die kampvuur in ’n rare oomblik van realiteit, was ’n harde man. Hard van hand en skerp van tong.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa