SA Jagter Hunter

Hoe lyk die pad vorentoe?

-

Vir baie mense is 2016 ’n jaar wat hul liewer sal wil vergeet. Droogte het ons land bloots gery en sommige boere by bankrotska­p laat draai. Polities blyk Suid-Afrika meer verdeeld te wees as ooit tevore. Korrupsie van staatsampt­enare vier nou éérs hoogty en selfs ons jagbedryf ry sinkplaatp­ad.

En om alles te kroon, gaan staan en verloën die Springbokk­e toe ook nog die eens trotse groen trui. Ja nee, dit was inderdaad ’n vreeslike jaar, ’n annus horribilis soos ons geleerde vriende in Latyns sou sê.

Maar dis het einde niet! Voeg hierby die geskille in jaggeleder­e oor ’n hele reeks aspekte; van geteelde leeujag tot rooibokpry­se en jy het ’n hutspot wat dreig om te ontplof. Behalwe die leeujagkwe­ssie is daar onder meer ook ’n groot polemiek oor watter jagtegniek­e as eties of dan as sogenaamde fair chase skou kan of moet word.

Daar is ’n faksie wat glo dat ons eties moet probeer jag om sodoende jag meer aanvaarbaa­r vir die algemene publiek te maak. Ander glo weer dat dit geen indruk op die greenies maak hoe ons jag nie – hulle wil alle jag gestop sien. Diegene wat dus etiek bepleit, word deur sommiges gesien as greeniegat­kruipers.

Volgens statistiek­e gaan jag baie mense (veral oorsese jagters) om uiteenlope­nde redes deesdae eerder in Namibië as in Suid-Afrika. Tog staan drie redes sentraal in baie mense se besluite om Suid-Afrika te vermy: geteelde leeujag in SA; die aanbied van makgeteeld­e wild vir jag (ook kleurvaria­nte) en derdens klein, toegespand­e jagplasies. Dié punte is bevestig op ’n paneelbesp­reking tydens PHASA se jaarvergad­ering. Blykbaar was drie van die vier be- paneellede buitelande­rs.

Iets heel anders... In Donald Trump sien sommige Suid-Afrikaanse vuurwapene­ntoesiaste ’n Messias. Nóú sal ons darem vuurwapens, ammunisie en herlaaikom­ponente kan koop, glo hulle. Dié Amerikaans­e voorstande­r van jag en skietgoed sal glo sorg. Regtig? Hy het ook ’n paar baie negatiewe dinge oor Suid-Afrika gesê en ’n mens wonder maar net of hy nie dalk alle Suid- Afrikaners onder dieselfde kam skeer nie. Tyd sal wel leer.

En wat sal met die pryse van alle ingevoerde produkte gebeur as ons afgegradee­r word tot rommelstat­us? Sal ons dalk deur ons nekke moet betaal vir ons skiet- en jagplesier­tjies?

Op die oog af lyk dit mos sommer al klaar of 2017 nóg ’n nagmerrie gaan wees. Maar gaan dit? Is dit nie ook waar dat daar uit elke donker nag weer ’n nuwe dag gebore word nie? Moet jy nie eers kniel of lê voordat jy opgehelp kan word nie?

Aan sekere goed kan die mens niks verander nie maar daar is heelwat wat ons wel kan doen. Ons hoef nie omstandigh­ede net te aanvaar nie. Om veranderin­g teweeg te bring mag jou dalk geld kos, innoverend­e denke verg, daadwerkli­ke optrede vereis en/of vra dat jy ’n gesindheid van leef en laat leef moet openbaar. Vir sommige is die laaste een miskien die moeilikste.

Kom ons kyk vorentoe, iewers op die horison wag daar lig. En om daar uit te kom, móét ons met die reis begin... al is dit treetjie vir treetjie. Laat ons dus die swepe klap, 2017 lê voor.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa