Mauser vertel self
Een Mauser het lewenslange liefde in die hande van drie generasies gevind.
My naam is Mauser en ek is in 1936 in die dorpie Oberndorf in Duitsland gebore. Ek is ’n A-graad Mauser in die kaliber 8x57 JS.
Ek is per skip van my geboorteland na sonnige Suid-Afrika gestuur. My bestemming was ’n wapenwinkel in Pretoria. Nie baie lank na my aankoms in Pretoria nie, het ’n groot man in khakiklere my gekoop. Hy het die aardige bedrag van £15 vir my betaal. Na ’n besoek aan die landdroskantoor, was ek sy wettige eiendom. My nuwe baas se naam was Daan Hamman.
My baas het 200 Kynoch-patrone, ’n leersak, band, skoonmaakstok, borsel, lappies en ’n blikkie Youngs-olie, vir ’n verdere £6 gekoop. Ek het knus in my nuwe sak gelê, terwyl ons huis toe gery het. My baas se vriende, wat net soos hy, almal boere in die Roedtan-omgewing was, het na my kom kyk. Hulle het my baas gelukgewens met sy mooi nuwe roer. Hy het aan hulle verduidelik dat my kaliber in die volksmond, as ’n “sewenege” bekend staan.
My baas het my goed skoongemaak en geolie. Om seker te maak ek skiet waar hy korrel, het hy met sy knipmes ’n merk op ’n maroelaboom gesny, en op 50 treë my eerste skoot op Afrikabodem geskiet. Hy het ’n tweede skoot geskiet, en aan sy praat kon ek hoor dat die twee skote in een gat was. Hy was hoogs tevrede. Daardie agtermiddag het ek en hy ons eerste rooibok geskiet.
HEGTE VERHOUDING
Ek en Daan Hamman het oor die bykans 19 jaar wat ek sy eiendom was, ’n baie hegte verhouding opgebou. Ek het byna elke dag saam met hom deurgebring. Of hy gestap, met die perd gery of met die Willys-jeep gery het, ek was nooit verder as ’n armlengte van hom af nie. Die aantal diere wat ek en hy geskiet het, is ek nie seker van nie, maar dit was ’ n goeie klomp. My baas het my altyd met respek behandel en my baie goed versorg. Jy kan maar sê dat ek in die geweerhemel was.
Daar was altyd drie patrone in my magasyn wat vyf patrone kan hou. Ek het eendag gehoor my baas sê vir sy oudste seun dat ’n mens nooit ’n magasyn moet vol laai nie, anders word die veer pap. Soos die jare aangestap het, het my kolf ’n hele paar merke opgedoen, omdat ons soms in ruwe terrein en deur ruie bos agter wildsbokke aangekruip het. My baas het my altyd getrou skoongemaak en geolie. My houtkolf het ook gereeld sy eie olie gekry. Yster en hout, het elkeen sy eie olie, het my baas sy seuns geleer.
Op ’n dag het daar groot opgewondenheid op die plaas geheers. Ek en my baas is daar weg saam met die man van Natuurbewaring. Ons moes seekoeie gaan skiet wat iemand daar naby aangeval en doodgemaak het. Vir die eerste keer het my baas my magasyn volgemaak, en wel met volmantelpa- trone of staalpunte soos die mense toe na dié ammunisie verwys het. Hy het vir dié man gesê dat ’n mens genoeg patrone moet hê as die diklywe parmantig wil raak.
Langs die Elandsrivier naby Marble Hall het ek en my baas daardie dag vier seekoeie geskiet. Ek was sommer baie trots toe die man van Natuurbewaring vir my baas gesê het dat dié roer van hom ’n barshou skiet. Dit is nie enige geweer wat dwarsdeur ’n groot seekoeiebul se kop kan skiet nie.
NOODLOT TREF
So deur die jare het my baas se seuns ook met my begin skiet. Meer mis as raak, moet ek erken. Dit het my baas nukkerig gemaak as iemand mis geskiet het. Hy het gou gesê hulle mors patrone. Maar hulle het ook grootgeword. Soos die jare aangestap het, het baie koedoes, wildebeeste, rooibokke, vlakvarke en nog ’n paar seekoeie voor my geval. Die jongmanne het hulle pa trots gemaak.
Toe tref die noodlot ons. In Oktober 1955 is Daan Hamman skielik aan sy hart oorlede. Sy vrou was drie maande swanger met hul jongste kind. Ek is in ’n hangkas gebêre, en is net wintermaande uitgehaal as daar ’n paar bokke geskiet moes word. Die donker en alleenheid in daardie kas was versmorend. Niemand het my meer vasge-