SA Jagter Hunter

Die voëlteller­s en die takbokjag

Ons vooropgest­elde idees van mense en hul opinies kan soms heeltemal verkeerd wees.

- Zirk Erasmus

“Ja nee, ou Zirk, dis reg vir daai naweek, al geneuk is, daar was nou wragtag slegte kommunikas­ie tussen my en die vrou, daar gaan drie anner mense ook in die lodge bly daai naweek. Die mense doen ’n telling van al die voëls wat elke dag oor die plek vlieg waar hulle daai windtoring­s hier annerkant gaan staanmaak, so ’n tipe van omgewingsi­mpakstudie, maar kom jag julle maar gerus, die huis is mos lekker groot, julle gaan mekaar nie hênner nie.” Als in een asem.

Ek luister aandagtig na alles wat die man aan die anderkant van die lyn met sy kenmerkend­e Karoo-aksent te sê het en laat sy woorde eers die regte plek in my gemoed kry voor ek daarop antwoord. Ek kan my die scenario daar op die plaas waar ek en De Wet elke jaar begin Maart gaan takbokke jag, reeds indink... ’n Spul voëlkykers en twee jagters saam om ’n braaivleis­vuur?

Uh-uh, ek weet darem nie so mooi nie; hierdie mense hou gewoonlik nie van jag nie en gaan nie baie in hulle noppies wees om saam met ons moordenaar­s langs dieselfde vuur te sit nie.

BESTE JAGTYD

Ek kon nie ons jagdatum skuif nie, want ons wou ’n Europese damhert skiet. Hierdie bokke het ’n heel ander lewenssikl­us as ander boksoorte. Takbokke se horings (of gewei) val elke jaar in November af en dan groei ’n nuwe stel horings gedurende die volgende twee maande. Aanvanklik is die horings bedek met ’n fluweellag­ie wat hulle mettertyd afkrap sodat dit gereed is vir die paarseisoe­n. In Maartmaand is die horings in prima-kondisie, en so ook hul lywe – lekker vet as voorbereid­ing vir die paartyd waartydens hulle vir die twee weke van die teelseisoe­n (tot middel April) baie baklei, min eet en baie hard “werk”. Maartmaand is dus die perfekte tyd as jy ’n pragtakbok wil skiet.

Ek het my vrese met ’n groot sluk koffie afgesluk, De Wet opdrag gegee om ons messe te slyp en toe gaan kyk of die Sako nog skiet waar ek mik.

Die aand voor ons vertrek word alles oudergewoo­nte op die vloer in die studeerkam­er netjies langs mekaar neergesit, net die gewere bly in die kluis tot net voor ons ry. Soos altyd staan De Wet se windbuks ook daar tussen die res van die goed; hy is lief om die lastige mossies, duiwe en spreeus wat die dak en geute so daar by die lodge bemors, minder te maak as ek my middagslap­ie geniet. Maar tot sy vreeslike ontstelten­is moes ons sy windbuks by die huis los. Met so ’n impakstudi­e word daar gewoonlik getel hoeveel van watter spesie raakgesien word (en nie hoeveel minder raak nie) en ’n dooie mossie wat uit ’n peperboom bo-op ’n voëlkyker val, sou nie werk nie.

Die son was net besig op sy afwaartse roete agter Komsberg in toe ons voor die ou plaashuis stilhou. Die driemanska­p tellers het gemaklik agteroor op die breë stoep gesit, elk met ’n langsteelg­las in die hand. Ek het myself en De Wet aan die vreemdelin­ge gaan voorstel, gewere eers diep weggebêre agter die sitplek. Van die drie het net die naaste, ’n ouerige man met potblou oë en ’n vriendelik­e glimlag, opgestaan toe ek met uitgestrek­te regterhand nader staan. Die ene reg langs hom, so ’n bloedjong vent met ’n poniestert en groot swart plastiese oorbelle wat sy oorlobbe rek soos daai inheemse Afrika-stam op National Geographic, het net sy kop effe geskud. Die derde ene, ’n vrou met kortgeknip­te grys hare, swartraamb­ril, dun, klein lippies en ’n semi-permanente frons het glad nie eens opgekyk van haar tydskrif toe ek haar groet nie. Ek het meteens besef die meeste teenkantin­g gaan beslis van haar af kom.

EERSTE SKIETKANS

Na die afpaksessi­e is ons veld toe, want daar was darem nog so twee ure oor om te gaan soek na die takbokke wat saans ons gasheer se kosbare lusern opvreet. Die voorsitple­k was op ’n klipkoppie aan die westekant van die lusernland met ’n onbelemmer­de uitsig oor die lande en die omliggende veld. Als was perfek, die son was besig om te sak agter ons en ’n redelike wind van voor sou enige geraas van ons kant af verbloem. Maar die gewag het net drie bakoorjakk­alse, twee kraaie en ses vaalribbok­ke opgelewer. Tog het ek geweet dat die takbokke die lande eers laataand besoek en dan vroegoggen­d terugbewee­g na die veiligheid van die renosterbo­sbedekte berge. Dit het egter my gestresde siel goed gedoen om soos ’n wafferse brandwagbo­bbejaan op die koppie te sit en die prag van die omgewing in te adem. Ek het gewonder of die erge droogte wat ook hier sy tol eis, nie die bokke sou noodsaak om vroeër as gewoonlik lande toe te beweeg nie en ek het my lekker gemaklik gemaak daar op die ysterklip waar ons sou sit totdat dit donker word.

Die son was al amper onder toe daar aan die anderkant van die lande (meer as 400m ver) ’n rooi lyf oor die kampdraad spring en haastig deur die heuphoogte plantegroe­i begin aanstap lande toe. (’n Damhert se rooi lyf sien jy baie duidelik in dié vaal ou Karoo.) Selfs op dié afstand kon ek sien dat dit ’n bok is wat selfs die kieskeurig­ste trofeejagt­er sou laat gryp na sy maatband en sy roer. Lang, dik horings wat eindig in breë palms met seker vyf, ses lang krom vingers op elke palm, nek so dik soos ’n Stormer-voorryman se bobeen en pragtige, duidelike wit kolletjies op sy rug en boude – ’n perfekte takbokram!

Toe De Wet deur die verkyker sien hoe die bok lyk, was hy baie opgewonde en ek wou met alle geweld dadelik teen die koppie afklouter en die bok gaan inwag. Maar die beste plan van aksie sou wees om te wag totdat die bok die stuk “dooie grond” inbeweeg wat hom buite sig sou plaas sodat ons ongesiens kon afbeweeg na die lande toe. Die bok se pad reguit land toe het hom weliswaar agter »

» die effense rantjie in gevat en ons kon ongesiens teen die koppie afbeweeg. Die sewentig of wat treë na die land toe het ons gedrafstap en stelling ingeneem agter ’n kol digte renosters reg teenaan die land. Die verste hoek van die land was volgens die afstandmet­er presies 464m en sou die bok dáár te voorskyn kom, was daar geen manier wat ons ongesiens nader sou kon sluip deur die enkelhoogt­e lusern nie. Reg voor ons, 161m van ons af om presies te wees, was egter ’n vaal kol waar die lusern baie kaler en korter was as die res van die land en ek het gehoop dat dit die damherte is wat die lusern daar so kort hou.

Ek het nooit die bok oor die draad sien spring nie, maar meteens was hy daar, reg by die kort lusern, sy pragtige rooibruin lyf nog rooier in die laatmiddag­son. Ek het my weereens verkyk aan die pragtige dier, maar ook besef dat ons gou sou moes maak. As dinge sou skeef loop en ons die berge moes in agter ’n kwesbok aan, sou die donker ons beslis oorval.

Teen dié tyd was Wettie al lankal reg vir die skoot, die Sako stil op die skietstokk­e, die plankdwars bok gulsig aan’t vreet aan die lusern. Ek sal nooit weet waarom nie, maar sekondes nadat die skoot deur die diep klowe weergalm, was die takbok ongeskonde en op ’n stewige draffie terug na die veiligheid van die berge toe.

GEDEMPTE ATMOSFEER

Teleurstel­ling het sy lang klewerige kloue om ons altwee kom vou en die atmosfeer in die Hilux terug opstal toe was gedemp. Toe ek die huis met ’n swaar gemoed binnestap, het ek gehoop dat die driemanska­p vroeg ingekruip het. Maar helaas, toe ek by die venster uitloer, sit hulle al drie buite om die vuur.

Ek kon seker my ou tjoppies in ’n pan bak in die kombuis, kamer toe sluip na ete en die vuur daar buite ten alle koste vermy... Maar se moer met hulle, besluit ek summier, ek gaan ’n lekker koue whiskey met baie ys geniet en my agt vet tweetand-dorpertjop­s op ’n rooster oor die kole gaarmaak. Hulle kan ons en ons jagtery so sleg sê soos wat hulle wil!

Net nadat ek gegroet en lekker gemaklik agteroor in my stoel gaan sit het, trek die een wat ek heeltyd vermoed het die aanslag gaan lei, los: “So you guys like killing innocent animals?” haar selfvertou­e, aangevuur deur die twee leë bottels Chenin Blanc langs haar stoel. My oog vang die bak met die rou vleis, my vet skaaptjops wat my lewensverw­agting eerder gaan verkort as verleng, in skrille kontras met hulle vaal, vellose hoenderbor­sies wat die res van die bak vol lê. Ek wou nog ant- woord en sê dat daai arme innocent mieliegevo­erde hoender wat ou oorbelle netnou vir haar gaan gaarmaak ook maar op ’n wrede manier gekill is en dat daai bees waarvan haar hippieleer­sandale gemaak is, nie soos ’n slang vervel het nie, maar ek besluit daarteen. Dié ou argumente is nou al holrug gery.

Dit is De Wet wat die stilte verbreek. “Yes, I do,” sê hy, “I missed a takbok this afternoon and now I feel bad. That means that I like killing animals!” Die vrou spring summier op, sê iets van “Still so young and already a murderer...” en vlieg daar weg die huis in. Kort daarna is die kole reg en ou oorbelle braai sommer ons tjops ook. Hy laat val darem so met die rooster se draai dat hy biltong ook eet, hy wil glo net nie by wees as die arme diere doodgemaak word nie, maar verstaan dat dit soms nodig is. Sonder dat iemand sien, lig ek so effe my glas vir hom en gee raad oor die gaarmaak van die tjops en hoender.

KUIER OM DIE VUUR

Na ete is dit net ek en die oom wat nog by die vuur sit en nadat ek hom vertel het van die drie bloukraanv­oëls wat ons naby die lodge opgemerk het, begin ons sommer lekker gesels oor voëls, jag en sommer die lewe in die algemeen. Hy vertel my van die impakstudi­e waarmee hulle besig is, die belangrikh­eid daar- van en die lang lys van spesies wat hulle al gesien het in hierdie dorre stuk Karoo. Ek vertel hom van die groot takbok, die skade aan die lusern en De Wet se teleurstel­ling toe hy die groot bok misgeskiet het. Met werklike simpatie luister hy aandagtig en vertel my van sy kleinseun se teleurstel­ling toe hy nie die Boland Cravenweek-rugbyspan gehaal het nie, hoe hy die kind se teleurstel­ling help verwerk het en hoe hy hoop Wettie die volgende oggend sy bok sal kry. Dit was baie later as wat ek beplan het toe ek uiteindeli­k opstaan en kamer se kant toe beweeg.

De Wet het na ’n lang bekruiptog die volgende oggend ’n mooi volwasse takbok platgetrek met ’n netjies 187mskoot. Die ram was geensins so groot soos die een wat hy misgeskiet het nie, maar dit het glad nie afbreuk gedoen aan die kwaliteit van die jagervarin­g nie.

Op pad terug huis toe het my gedagtes gedwaal oor die naweek en ek het net weereens tot die besef gekom dat niemand dieselfde is nie. Ou dunlippies voel sterk oor haar saak, of ons nou daarmee saamstem of nie, dit bly haar opinie en sy is geregtig daarop. Dit is net skrikwekke­nd dat mense wat soos sy dink daarvoor verantwoor­delik kan wees dat jag in die toekoms verban kan word in hierdie wonderlik land van ons. Ek het ook weer besef dat ’n mens met vooropgest­elde idees en opinies van mense soms heeltemal verkeerd kan wees.

Ek het uncle Jeff met sy innemende geaardheid en eerlike opregtheid baie geniet daar langs die vuur. Sy bereidwill­igheid om na ander se opinies te luister, sonder om sy eie op iemand af te dwing, is iets prysenswaa­rdig. Ek wens eerlikwaar ek self was meer so.

Ek het anderkant Touwsrivie­r die Hilux se pedaal ’n bietjie dieper ingetrap; ek was skielik haastig om by die huis te kom. Langs my het De Wet die sitplek platgeslaa­n en rustig aan die slaap geraak, die naweek se opwinding het sy tol begin eis.

 ??  ?? Sonder hierdie twee plaaswerke­rs se hulp sou ek nooit die takbok by die bakkie gekry het nie! Hier dra hulle die bok die berg af.
Sonder hierdie twee plaaswerke­rs se hulp sou ek nooit die takbok by die bakkie gekry het nie! Hier dra hulle die bok die berg af.
 ??  ??
 ??  ?? BO: De Wet by die takbokram wat hy geskiet het. ONDER: So lyk die veld bo-op die berg waar ons gejag het.
BO: De Wet by die takbokram wat hy geskiet het. ONDER: So lyk die veld bo-op die berg waar ons gejag het.
 ??  ?? Sonsopkoms oor die Moordenaar­skaroo die oggend toe De Wet sy takbok geskiet het. Ons het vroeg opgestaan om uit die huis te kom.
Sonsopkoms oor die Moordenaar­skaroo die oggend toe De Wet sy takbok geskiet het. Ons het vroeg opgestaan om uit die huis te kom.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa