Drie rooiduikerjagte
Daar kom drie subspesies van die Suidelike rooiduiker in Suid- Afrika voor, naamlik die Noord-Natalse rooiduiker (Cephalophus natalensis lebombo), die Suid-Natalse rooiduiker (Cephalophus natalensis natalensis) en die Soutpansbergrooiduiker (Cephalophus natalensis amoenus).
Die rooiduiker is een van vyf klein antiloopspesies wêreldwyd wat deur die IUCN Rooi Datalys van Bedreigde Spesies as ’n skaars spesie beskou word, maar glad nie gelys is op CITES se aanhangsels nie.
Vir die Rowland Ward-rekordboek is die minimum horinglengte vir insluiting 2½”, terwyl Safari Club International (SCI) s’n 8” is vir geweerjag en 7⅜” vir boog.
Met dit in gedagte het ek besluit om al drie die sub-spesies wat by ons voorkom te probeer jag. In 2010 was ek ’n tree nader aan my doel toe ek die NoordNatalse rooiduiker suksesvol gejag het. Drie jaar later het ek
my droom verwenslik toe ek eers in 2013 ’n Soutpansbergrooiduiker platgetrek het en ’n jaar later my Suid-Natalse trofeeram. Maar kom ek vertel julle nou ’n bietjie meer oor dié drie jagtogte...
NOORD-NATALSE ROOIDUIKERJAG
Ek het my Noord-Natalse rooiduikerjag by Nolangeni Wild Eco Safaris, naby Louwsburg, diep in die Ngotsheberge van KwaZulu-Natal bespreek. Ek het besef die jag gaan waarskynlik nie maklik wees nie omrede hierdie bokkie vroegoggende en laatmiddae in die digte oewerbos langs waterstrome wei.
Ek, die plaaseienaar Phil en die Zoeloesprekende gids Busi, is laat die middag al langs ’n waterstroompie af wat diep onder in ’n vallei vloei. Dit was so twee ure voor sononder, die tyd wanneer rooiduikers aktief begin raak. By die waterstroompie in die sagte grond het ons duidelike piepklein vars spoortjies gevind wat verseker dié van ’n rooiduiker was. Dit lyk kompleet asof iemand ’n stok gepluk en gate in die sand gedruk het, só klein is die spoortjies, maar tog was hulle duidelik sigbaar.
Ons is dieper die kloof in op ’n smal wildspaadjie (steeds langs die stroom) wat ons deur digte oewerbosse gelei het. Plekplek kon ons skaars meters voor ons sien. Die onderbosblare was droog en ons moes sag loop, fyn luister en mooi kyk vir hierdie sku bokkie wat ’n mens selde te sien kry.
Die woud was doodstil, al wat ons gehoor het, was die gekabbel van die waterstroompie en die gekraak van blare onder ons skoensole. Busi het skielik reg voor my gestop en met die skietstok gewys. Ek het nader aan hom beweeg en langs die skietstok af gekyk, maar kon geen bok sien nie. Toe ewe skielik sien ek duidelik die rooiduikerfiguur met sy kenmerkende geboë ruggie tussen die digte plantegroei reg voor ons staan. Hy het skynbaar van die water- stroompie met die paadjie opgestap gekom.
Met my Brno .30-06 Springfield stewig in my hande het ek vinnig na die horinkies deur my 6x42 Lynx-teleskoop gesoek. Die plantegroei was uiters dig, maar ek kon die duikergesiggie, periorbitale kliere onder elke oog en kuifie op die kop waar die horinkies versteek gelê het, duidelik sien. Als het in millisekondes afgespeel, ek was baie gefokus, daar was geen vinnige hartklop of bewerasies nie en met die 180gr PMP Pro-Ammpatroon reeds gelaai, het die kruishaar op die bokkie se regterblad vasgesuig en het ek die sneller gedruk. Die skoot het deur die kloof weergalm, toe is alles doodstil.
Ons het vinnig nader geloop en die rooiduikertjie gekry net daar waar hy 9.5 meter van ons af gestaan het. Ek het na die donker, blou-grys, amper swart bo-nek van die bokkie gekyk asook na waar die haartjies en die kuifie op die kop die kort, skuinsgroeiende horinkies versteek het en ek kon nie anders as om te borrel van opgewon- denheid nie. Die gevoel was onbeskryflik, ek het ’n rooiduiker suksesvol gejag!
SUID-NATALSE ROOIDUIKERJAG
Vir my Suid-Natalse rooiduiker het ek ’n jag by Ezulwini Game Lodge naby Hluhluwe in die kuswoude van KwaZulu-Natal bespreek.
My Zoeloegids, Almond, en ek is vroeg op ’n windstil oggend die digte bosse in. Ons het eers net ooie met lammers gewaar en teen middagete het ons ’n jong rammetjie gesien waar hy naby ’n ou opstal wei. Later die middag en die volgende oggend het ons weer net ooie met lammers, asook ’n enkellopende ou ooi met ’n pragtige stel horings gesien. Ons het haar laat gaan en later het ons nog ’n ooi gesien wat duidelik blind in haar regteroog was. Sy het dieper die bos in beweeg en toe soos soos mis voor die son verdwyn.
Die son het al hoe vinniger gesak en ons het geweet dat dié tyd van die dag ideaal was om rooiduikers te soek en dit wás toe ook so. Ons het op twee rooiduikers afgekom wat bymekaar staan. Hulle het ons eers nie gewaar nie, maar na ’n rukkie van ons bewus geraak. Beide was volwasse diere en ek het vermoed dat dit ’n ooi en ’n groot ram is.
Ons het roerloos bly staan. Na wat soos ’n ewigheid gevoel het, het die duikers ontspan en verder aan die onderbosse se blare wat op die grond gelê het, gevreet. Dit het my kans gegee om met my verkyker te probeer vasstel watter een die ram is. Almond het gefluit sodat die bokkies moet stilstaan en omkyk. Dit het gewerk, een het linksom gekyk en die ander een regsom, maar ek kon steeds nie die kort horinkies in die kuifies op die bokkies se koppe sien nie.
Ek het dus na ander kenmerke gekyk en besluit dat die bok wat links staan die ooi is, want sy was groter as die ander een, ligter van kleur en het ’n regte vroulike gesiggie gehad. Die regterkantse bok moes die ram wees, want hy was net-net laer in rughoogte, met ’n bietjie donkerder pels en swart hare op sy voorkop, verseker kenmerke van ’n ou, volwasse ram.
Ek het my verkyker vir my geweer verruil en was net betyds om te sien hoe die ooi draai en die digte bosse in hardloop waar sy meer veilig gevoel het. Ek het geweet die ram gaan haar volg en het vinnig na hom in die teleskoop gesoek. Op daardie oomblik het hy gedraai en begin om die paar meter na die bos- »
Ou ramme is geneig om wit spikkels oor die pels te kry wat maak dat hulle amper soos ’n grysbok lyk.
» se toe te hardloop. Die teleskoop se kruishaar het sy merk so in die hardloop net agter die ram se linkerblad gevind en ek het Almond baie opgewonde hoor sê, “shoot it... shoot it,” toe druk ek die .30-06 Brno se sneller. Die Brno het soos ’n kanon deur die woud gedreun en ek kon hier agter my vir Almond opgewonde hoor sê: “It is down!”
Ons het nader gestap na waar die bokkie leweloos gelê het. Almond het die linkeragterbeentjie opgetel om te bevestig dat dit wel die ram was en sê toe, “As it turned I saw the masende”. Nou kyk, as ’n mens ’n rooiduiker se masende (testikels in Zoeloe) oor ’n afstand van 46 meter kan sien, is dit verseker ’n groot trofeeram.
Die “raar” rooiduiker met sy geheimsinnige gewoontes en beperkte verspreiding kom nie net in Zoeloeland voor nie, hulle kom ook in isolasie aan die suidekant van die Soutpansberge in Limpopo voor.
SOUTPANSBERGE TOE
So bespreek ek toe ’n Soutpansberg-rooiduikerjag by Lianga Safaris naby Louis Trichardt. Ek en professionele jagter, Herman Scheepers het laatmiddag langs ’n rooiduikervoetpaadjie gesit en probeer om ’n rammetjie met ’n bokfluitjie te roep. Ons het geduldig gewag, maar ons kon niks sien, hoor of ruik nie. ’n Windjie het opgesteek en ons het besluit om aan te beweeg. Terwyl ons stap kry ons toe ’n mishoop van ’n rooiduiker wat sy gebied gemerk het met piepklein miskorreltjies – dis selfs nog kleiner as dié van blouduikers.
Van daar het ons na ’n meer digbeboste area beweeg waar ons teen skemer ’n rammetjie gesien het, maar daar was te min natuurlike lig oor vir ’n goed geplaasde doodskoot.
Die volgende laatmiddag is ons terug na waar ons die ram gesien het, maar ten spyte van ons hoë verwagtinge moes ons toekyk hoe die son wegsak en die skemer verander in donkerte sonder dat ons weer die ram gesien of gehoor het.
Ons is vroeg die volgende oggend weer veld toe en sien toe rooiduikerspore oor ons eie spore van die vorige aand, asook ’n ander rooiduiker se territoriale mishoop. Die son het warm geraak en ons het in die skadu van ’n mangoboom gaan skuiling soek. Terwyl ons daar sit, het ek ’n rooiduikerram gewaar, maar hy het met die omgewing saamgesmelt en “verdwyn”. Ons het geduldig gewag en gehoop dat ons die ramme- tjie weer sal sien. Terwyl ons wag, het ’n ou vragmotor al rasend die grondpad afgery gekom en met die verbyry het hy die ram uit sy skuilplek gejaag. Na die trok se geraas was die veld eers doodstil, maar ’n rukkie later het alles teruggekeer na normaal. Herman se jong pointer-hond het met gespitste ore gesit. Hy kon iets ruik, maar niks hoor of sien nie. Toe staan die hond op en begin in ’n rigting stap. Herman het sy hond gou onder beheer gekry en terwyl die hond nog so staan en staar, het die rooiduikerram voor ons uit die bosse gespring. Ek het haastig ’n 180gr Hornady InterBond-patroon in my Brno .30-06 gelaai.
Ek het geweet dat rooiduikers volgens hul gewoonte weer te voorskyn sal kom. Dit was ook nie lank nie of Herman bevestig dat hy horings sien en dat dit ’n groot ram is. Ek het die bokkie in my geweer se 6x42 Lynxteleskoop gevind en gevolg. Ek kon duidelik die horinkies by die kuifie sien uitsteek, dit was verseker ’n groot trofeeram. Die bokkie was op pad na digter bosse toe maar het op 120m gestop om te kyk en te luister en net toe druk ek die sneller.
Die rammetjie het net daar in sy spore geval, die spanning van die jag was gebreek! By die bok aangekom kon ons duidelik die enkellopende ram se simmetriese dikbasishorinkies sien, hy was voorwaar ’n groot trofee.
JAGWENKE
Indien jy beplan om ’n rooiduiker te jag, is daar ’n paar dinge om in gedagte te hou wanneer jy op die spoor van dié sku bokkie loop: 1. Ramme is kleiner en korter
op die been as ooie. 2. Die Natalse sub-spesies se pelse is helderder en rooier as dié wat in die Soutpansberge voorkom. 3. Ou ramme is geneig om wit spikkels oor die pels te kry wat maak dat hulle amper soos ’n grysbok lyk. 4. Beide ramme en ooie het
horings. 5. Volwasse ramme het ’n klossie swart hare tussen die horings op die voorkop. 6. Wanneer horinkies oor ’n afstand duidelik tussen die klossie swart uitstaan, is die bokkie verseker van trofeegehalte. 7. Wees versigtig om ’n haelgeweer te gebruik, ’n horinkie kan in die proses stukkend geskiet word. 8. Rooiduikers is gewoonlik vroegoggend en laatmiddag aktief, maar waar hulle nie gepla word nie, sal hulle ook deur die middel van die dag wei. 9. Kyk waar blare so twee voet vanaf die grond van stamme afgevreet is, dis ’n goeie teken dat rooiduikers daar aktief is. 11. Rooiduikers en bosbokke deel dikwels dieselfde loopareas. Die Natalse bokkies wat ek geskiet het, het onderskeidelik 10.2 en 12kg geweeg voor hulle geslag is terwyl die ene wat ek in die Soutpansberg-gebied geskiet het 8.7kg geweeg het. Laasgenoemde een het egter die langste horing gehad, naamlik 71mm. Die SuidNatalbokkie se langste horing het 66mm of 2⅝” en die NoordNatalram se horings was die korste – die langste een het 28mm of 1⅛” gemeet.