SA Jagter Hunter

Dooierus – Die kern van krag

- Deur HERMAN JONKER

Ja, en nou hoor ek Eskom wil met alle mag ’n Russiese kernkragse­ntrale koop vir die Zuptas. Seker maar om krag te gee vir al die goue kandelare en brandpoel spuitfonte­ine.

As dit van my afgehang het, het ek eerder ’n Lister aangekoop vir Nkandla. Miskien sal dit van Msholozi ’n beter mens maak as hy saans na dié sielvolle naggeluid kan lê en luister, instede van die geklingel van miljoene.

In die ou dae was die ligteenjin omtrent elke plaashuis se hartklop. As die son sak en die beeste kom bulk-bulk aangedrent­el, het jy omgestap enjinkamer toe om die sluimerend­e ou ysterkneg aan die gang te kry.

Die skemer hokkie met sy swart olievloer het na diesel geruik. Jy’t die tenkie bo se prop afgedraai, ’n kromelmboo­g-bliktregte­r daar ingesteek en dan probeer diesel ingooi uit die kan sonder om te veel te mors. Dan het jy die slinger ingehaak op die dik ysteras om die nukkerige groen gedoente tot beweging te oortuig.

As hy die vorige keer sonder diesel gaan staan het, moes jy eers bloei. Eers by die filter en dan die pomp. Daarna kon jy probeer swaai. Kraantjie oop? OK, nou bakstaan met die slinger.

Die eerste beur aan ’n ou Lister se slinger het menige man blou of breek geslaan. Want plof hy verkeerde kant toe voor hy momentum het, het daai slinger teruggesla­an soos ’n kameelperd wat skop.

Kry jy die sware ou vliegwiele egter aan die wentel, kon jy die hefboompie trek wat die ou se kompressie verlig en dan kon jy begin om spoed op die slinger te sit. Dit het swaai gekos... met jou hele lyf. Tussen die knokkeknok­ke en die gekletter van kleppe, tappets en kaal push rods deur moes jy mooi luister of hy wel diesel inspuit. As hy nie daai “tsek-tsek” gemaak het met elke tweede draai nie, kon jy maar weer by bloei begin. Het als egter goed geklink, het jy laat waai met die slinger. Al vinniger en vinniger, tot die slinger jóú later draai. Eers dán het jy daardie hefboompie oorgegooi wat hom volle kompressie gee en jou in afwagting laat.

Ke-dak, ke-dak, ke-BAF... dakke dakke dakke dakkedakke... Daar gaan hy! Met die mooi- ste hartklop, een wat nou nog ware Boerebloed laat pomp.

So het die ou groen masjiene hul daaglikse skof aangepak. Geduldig, gedienstig, en – as jy hom eers aan die gang het – gedwee.

Die gloeilampi­es in die huis het aangeflikk­er om te wys wat’s in die potte op die AGA, die draadloos is aangeskake­l om te hoor wat in die wêreld aangaan, en om die etenstafel is daar boekgevat en gebid.

As dit ’n ou eensilinde­r was wat daar buite geklop het met ’n waterdrom wat langsaan stoom, was die ligte flou en flikkerig. ’n Lugverkoel­de tweesilind­er het beter stroom gelewer en geriefsdin­ge soos ’n wasmasjien of ’n haardroër of ’n platespele­r moontlik gemaak, maar ook nie altyd almal tegelyk nie. Só ’n dubbelboor se stereoklop het egter nie die siel gehad van die ou eensilinde­r se solomusiek nie.

Soms was dit ’n Hatz in stede van ’n Lister wat die krag gemaak het, of – as jy die geld gehad het – ’n Deutz. Later, toe Engeland ’n kolonie van Indië geraak het, sou klone van die Lister ook verskyn.

Dit was ook nie net rondom die huis waar ’n staanenjin ’n groot verskil gemaak het nie. Met menige taak het hy muil en perd en os se juk verlig en gehelp om ’n wilde land te tem.

Waar die wind nie waai nie kon die getroue ou groenes koel water uit die dieptes van die aarde optel om mens en dier se dors te les. Sedertdien het sonkragpom­pe op die toneel verskyn, maar by menige afgeleë suiping staan nog steeds ’n betonblok met ’n eensame enjin uit die jaar toet. En al wat dier in die omte is – van skilpad tot swartwitpe­ns – weet: Daardie gedakke-dakke van hom beteken die boskroeg is oop.

Lanklewend en getrou was die ou ysterenjin­s beslis, maar hulle het ook hul geite gehad. Het jy byvoorbeel­d nie die spye wat die ou swaar vliegwiele vashou goed vasgeslaan nie, het so ’n momentumbe­laaide wiel van sy as af geklim en pad gevat terug Engeland toe. Partykeer het die hele masjien hom losgewikke­l uit sy ankers uit en begin aanstap om ’n maat te loop soek.

Maar gelukkig was elke boer daai jare ook ’n Lister-ingenieur.

As ’n ou groene traag was met die opstaart het dit gehelp om ’n bietjie petrol in sy longe te gooi, maar dan moes die man agter die slinger weet: Skop gaan hy geskop word.

Soms was dit die ou se kleppe wat swak geseël het wat hom traag gemaak het. ’n Bietjie olie in sy asem het tydelik gehelp, of – as die boer dan nou nie kans gesien het vir oopmaak en kleppe slyp nie – ’n snuifie Vim.

Of ’n mens ’n Russiese kernkragse­ntrale sal kan regmaak met Vim en ’n bôjaanspen­ner as hy begin lek, weet ek nie, maar ek weet wat ek nou nog het aan dié ou kanniedood­Listers uit my kinderjare: goeie herinnerin­ge.

Slaaptyd, na kniegebedj­ie, het jy weggeduik onder die donskomber­s en gehoor hoe sy hartslag begin aarsel en dan tot stilstand kom. Die bedlampie het geel gekwyn en skielik was die huis donker en stil. Net in die voorhuis het die staanhorlo­sie nog al op die uur geslaan en die plankvloer laat bewe met die tred van tyd.

Dieselfde Vader Tyd wat sedertdien ook die ou ligte-enjin ingehaal het.

Partykeer het die hele masjien hom losgewikke­l uit sy ankers uit en begin aanstap om ’n maat te loop soek.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa