SA Jagter Hunter

In my visier

-

Ja, julle het reg gehoor, dis tyd om op te pak en die mouter se neus binneland toe te draai. Was af die sonbrandmi­ddel en skud die seesand tussen julle tone uit en sommer heeltemal uit julle gestelle ook. See en sand moet nou eers anner lêplek loop soek.

Kyk, Januarie begin al kooi se kant toe staan, Februarie is net ’n oogknip lank en voor jy jou kom kry, loop Maart jou trompop met herfsblare en koel briesies... en met die winter op hande wil jy nie nog loop staan en rondval nie.

Draai solank jou bakkie se neus bosveld toe – al is dit net in die verbeeldin­g – want daar is soveel dingetjies om te onthou as jy jagveld toe wil gaan. Dis nooit te vroeg om voorbereid­ings te begin tref nie.

Die manne wat byvoorbeel­d hierdie jaar hul biltong in Duitswes wil loop haal, moet sommer vroeg al sorg dat hulle papierwerk­e in plek is. Doen dadelik aansoek vir jou gewere se uitvoerper­mitte. Bly jy in Gauteng en elders waar jou DFO nie noodwendig die entoesiasm­e vir jag met jou deel nie, kan die aansoek baie weke vat om afgehandel te word.

En sorteer maar vroeg ál jou skietyster se kwale uit. Net dalkies het dit iewers ’n skeet opgedoen van al die gestaan in ’n donker kluis terwyl jy jou oë seer gestaar het na al die myle en myle se lywe op die strand. ’n Roer kan mos tog te nukkerig raak as hy vir te lank geïgnoreer word.

Eintlik moes julle nou al lankal besluit het waar julle aandvure hierdie jaar gaan brand. Diegene wat nie het nie, sal moet spring, anders gaan hulle nie jagplek kry nie. Op sommige plekke is die droogte se wurgplekke nog duidelik sigbaar en boere in daardie dele gaan heel moontlik nie laat jag hierdie jaar nie.

Terwyl julle jagplek soek, onthou tog maar van die ou kontrakkie... Stel maar liefs ’n ooreenkoms op met die man op wie se stukkie paradys jy jou spore wil gaan strooi. Dié stukkie papierwerk moet beide par- tye netjies pas... net soos ’n vuis op ’n oog, anders gaan julle dalk rêrig handgemeen wil raak as betaaltyd kom.

Leef jou solank in in die dinge van die veld. Laat jou gedagtes ’n bietjie by gunsteling-kampplekke dwaal. Sit solank in die gees rondom ’n doringhout­vuur en ervaar die stilte en die salwing van die veld. Glo my, jy het dit nodig na die onophoudel­ike gejil van mense en al die vele tipes stres wat oorvol strande en besige kuskafees oor die Kerstyd bring. Jy is heeltemal getap van energie (en geld).

Hou moed broer en chill, daar’s ’n beloning by die huis... die skietbaan is naby en jagtyd lê net om die draai (wel, amper).

Mooi loop!

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa