SA Jagter Hunter

Die gelukkige vlakvark

- Deur ZIRK ERASMUS

Die vlakvarkbe­er moet sy maer lyf effe skuins draai om uit sy gat in die gebreekte damwal te kom. Die koue oggendwind­jie laat die vark se, so te sê, haarlose liggaam onmiddelli­k sidder. Onder normale omstandigh­ede sou hy nie op so ’n koue oggend die knusheid van sy gat verlaat nie, maar die veld is bitter droog, hy het homself letterlik maande laas lekker dik gevreet en hy moet al hoe verder loop om kos te soek. Hy stap na die naaste kolletjie doringbome, ledig sy blaas en krap sy linkerblad eers teen ’n ou nieshoutst­omp voor hy kop omlaag die doringleeg­te instap. Van sy geliefde kweekgras is daar nou met die knellende droogte bitter min oor en hy is genoodsaak om met sy snoet die wêreld om te dolwe in die hoop om nog hier en daar ’n paar graswortel­s te kry wat sy honger tot ’n mate kan stil.

So drie, vierhonder­d meter van sy gat af kry hy ’n kol wat darem nog nie te veel deur ander varke omgedolwe is nie en vir ’n wyle staan hy op sy knieë en ploeg hy die wêreld om terwyl die ligte oostewindj­ie die stof lui-lui oor sy kop waai. Laat die vorige dag het hy op ’n oop kol tussen ’n klompie jong doringbome afgekom met ’n bietjie

Ten spyte van die droogte en swaarkry is hierdie vark die gelukkigst­e een in die hele Oos-Kaap.

gras en instink lei hom terug op dieselfde roete na die oop kol tussen die doringbome onder die klipkransi­e.

Skielik blaf ’n koedoekoei wat hy al vantevore gewaar het waarskuwen­d en haar gestreepte bruin lyf draf sekondes daarna slegs meters van hom af verby. Hy toets die wind, kry geen teken van dit waarvoor die koedoe geskrik het nie, maar draf nietemin agter haar aan. Anders as die koedoe wat sonder moeite oor die kampdraad spring, moet hy onderdeur glip, sy maer lyf nog sterk genoeg om enige sifdraad op te lig en deur te kruip. Hierdie is sý domein, elke gat onder elke draad ken hy goed en hy hardloop, soos telkemale in die verlede, na ’n gat in die sif onderin ’n ou erosiesloo­t langs die tweespoorp­aadjie. Die los gruis in die sloot sal dit nog makliker maak om sy lyf onderdeur die draad te kry.

So ’n meter of wat voor die sif laat sak hy sy kop, verminder spoed en beur deur die gat onder die draad. Maar anders as in die verlede, ruk sy kop meteens agteroor, sy momentum word summier gestuit en hy word bewus van ’n skielik pyn om sy snoet, net agter sy agt duim lange gekrulde wit tande. Hoe meer hy hom probeer bevry van dit wat hom vashou, hoe erger word die pyn. Mettertyd voel hy hoe die krag sy lyf verlaat. Uiteindeli­k bly lê hy hulpeloos en moeg in die los gruis onder die draad...

OP SOEK NA VARKE

“Soos bloed, so is jy in my...” gee Theuns Jordaan alles wat hy het oor die bakkie se CD-speler en skielik vervies ek my vir De Wet. Ek het hom al hóéveel keer die oggend gesê om die verdomde musiek sagter te sit, hy weet goed ek hou nie van musiek in die veld nie, veral nie as dit so hard is dat ek myself beswaarlik kan hoor dink nie. Tot my verbasing sit hy skielik die musiek af sodat stilte die binnekant van ons ryding soos ’n reusegolf aangenaamh­eid vul. Maar die stilte hou nie lank nie, want Conrad Botha, De Wet se vriend, kan sy aansteekli­ke entoesiasm­e nie vir homself hou nie.

“Dink Oom ons sal varke sien in dié koue weer, Oom?” wil hy van die agterste sitplek af weet. Ek wil die kinderlike opgewonden­heid en entoesiasm­e van die drie kinders, De Wet, Conrad en vriend Casper se dogter, Nina, nie demp nie, so ek dink noukeurig voor ek die vraag beantwoord.

“Jong, ek weet nie so mooi nie, ou Conrad. As ’n reël kom die varke nie uit hul gate as dit so koud is nie, maar dit is bitter droog, hulle moet ver loop om hulle dik te vreet, so miskien is ons gelukkig.” Ek sien De Wet wil weer sy hand uitsteek om Theuns se rasperstem te hoor, maar ’n ferm belofte van my af van wat sal gebeur as hy wéér die CD-speler aansit, laat hom van plan verander.

Nie kort daarna nie, draai ek in ’n tweespoorp­aadjie op en word ek genoodsaak om die Hilux in vierwiel te sit om die steil paadjie uit te ry tot bo-op die klipkransi­e waar ons gaan stelling inneem vir die oggend se jag. Nogal ’n ou gunsteling­voorsitple­k van my, hierdie klipkransi­e in Bokkop se kamp. Baie onopletten­de vlakvarke het al deur die jare hul laaste asems hier uitgeblaas. Voor ek die bak- kie afskakel, rig ek vir oulaas ’n pleidooi aan die drie kinders om so stil as moontlik te wees as hulle uitklim en nie die bakkie se deure hard toe te klap nie.

KOUE WEER

Ek haal my nuwe Howa .243 uit sy ou sak, gooi my rugsakkie oor my skouer, vra ons Xhosametge­sel, Frank, om die skietstokk­e te dra en saam met die res van die geselskap stap ek stadig na die rotslysie met sy pragtige uitsig oor die stuk doringboom­leegte onder die krans. Ek voel nou eers hoe koud dit werklik is en ek hoop heimlik dat ons darem ’n paar varke geskiet sal kry in dié slegte weer. Die honderd of wat meter wat ons na die kransie toe stap maak ons lywe darem so effe warmer, maar die koue windjie kry nogtans orals aan ons kaal hande, ore en neuse bytplek. Ons neem stelling in op die koue klippe, De Wet hier neffens links van my en Conrad en Nina regs van my op die groot klip. Ná tien minute se gekyk het ek nog net ’n koedoekoei so 300m van die kransie af gewaar. Genadiglik weet dié koedoe skynbaar niks van ons teenwoordi­gheid nie, want sy beweeg stadig in ons rigting.

Vir ’n wyle bekyk ek die drie kinders hier links en regs van my en ek dink aan dít wat my deesdae genot verskaf in die jagveld en dít wat nié. Daar is vir my niks lekkerder as om saam met my kinders, met of sonder hul goeie maters, tyd in die veld deur te bring nie. Die soek, die bekruip, alles wat die adrenalien laat pomp is nog daar, maar al verskil is, ek druk nie meer self die sneller nie. Inteendeel, die feit dat dit ’n kind is wat die »

Dit was sy redding. Die PMP-koeël het sy tand flenters geskiet en hom sodoende bevry uit sy penarie.

» sneller gaan druk en jy dus nog nader aan die dier moet kom as wat jy sou doen wanneer jy self skiet, maak die uitdaging net soveel groter. Die uiteindeli­ke genot, vreugde en satisfaksi­e wat dit die kind bied, kan ek nie in woorde omskryf nie, ek gaan dus nie eens probeer nie!

CONRAD SE BEURT

Conrad het die vark eerste gewaar. So drie, vierhonder­d treë van ons af het ’n mooi groot beer reguit, op sy tyd, so vreetvreet aangestap gekom, die swak kondisie van sy lyf duidelik sigbaar in die Swarovski-verkyker se beeld. Ek het oudergewoo­nte die skietstokk­e vroegtydig oopgevou, die roer daarin laat lê en Conrad so gemaklik as moontlik probeer kry vir die skoot, ons sou tydsaam wag vir die vark om naby genoeg aan ons te kom voordat ons skiet. Die vark was nog so 100m anderkant ’n koedoekoei wat intussen heelwat nader aan ons beweeg het. My afstandmet­er het gewys dat die groot witgatboom waaraan die koei staan en vreet presies 161m van ons af is en ek het besluit dat as die vark so naastenby daar is waar die koedoe nou staan en vreet, Conrad maar ’n skoot moet waag. Dié seun het al telkemale in die verlede bewys dat hy heel behendig is met ’n roer.

Miskien was dit blote instink wat die koedoe skielik laat opkyk het en met daardie ongeloofli­ke sig ons meteens daar op die klip gewaar het; of miskien het een van ons ’n geluid gemaak wat haar radar-ore opgevang het. Hoe dit ook al sy, die koedoe het stip na ons gekyk, skielik geblaf en skuins weg van ons af begin hardloop. Die vlakvark is kop en stert omhoog agterna. Ek het die hardlopend­e diere deur die verkyker dopgehou, gesien hoe die koedoe gemaklik oor die kampdraad spring en hoe die vark in ’n groterige sloot verdwyn. Die einste kampdraad waaroor die koedoe gespring het, het net ’n entjie verder deur die sloot geloop.

Ek het opgestaan, my uitgerek, die geweer veilig gemaak en besluit om in ’n ander deel van die plaas te gaan soek na varke. Die koedoekoei het sowaar die enigste vark wat braaf genoeg was om die koue hier tussen die dorings te trotseer, ook nou van ons teenwoordi­gheid gaan staan en vertel! Ek het vir Frank nader geroep en hom ingelig van my planne. Hy het soos altyd sy kop geskud en gesê hy dink dis ’n uitstekend­e plan. Die tweespoorp­aadjie het langs die presiese plek verbygeloo­p waar die sifdraad deur die sloot gaan. Elkeen was besig met sy eie gedagtes toe die Hilux die sloot nader. Ons het dit so te sê almal terselfder­tyd gesien. Selfs Frank wat agterop gestaan het, het skielik vreeslik hard op die bakkie se dak geklop en in Xhosa sy verbasing uitgespree­k. Onder in die sloot, in die sifdraad verstrenge­l, was dieselfde vlakvark van vroeër. Toe hy die bakkie gewaar, het hy met hernude ywer probeer om homself te bevry.

Ek het stilgehou en saam met die kinders en Frank nader gestap. Nou hoe nou gemaak? Ons kon die vark nie net daar los om ’n stadige, wrede dood te sterf nie. Ek het ook nie kans gesien om die draad om sy snoet te probeer losmaak nie, enigiemand wat al met ’n ontstoke vlakvark te doen gehad het sal jou sê dat sulke optrede definitief onverantwo­ordelik en gevaarlik is. Die enigste opsie was maar om die vark uit sy ellende te verlos en hom te skiet, maar dit het meteens net nie reg gevoel nie. Ja ek weet, 20 minute gelede was ons baie gretig om hierdie einste vark morsdood te skiet, maar nou is die arme dier hier reg voor ons hopeloos vasgevang in ’n kraaines van drade om sy snoet. Na baie wik en weeg besluit ek om wel die dier te skiet en Conrad was die aangewese persoon om dit te doen.

Frank dink weereens dis ’n uitstekend­e plan. Die Leupoldtel­eskoop word afgedraai tot by sy kleinste vergroting en ek sit die geweer op die skietstokk­e. Ek sê vir Conrad dat hy die dier in die kop moet skiet, want ten minste sal die karkas dan mooi heel wees. Die vark probeer nog onverpoos om met swaaiende kop homself uit sy draadtronk los te ruk. Uiteindeli­k klap die skoot, maar op dit wat volgende gebeur kon geen mens ons voorberei nie. Pleks van dood neerslaan, gee die vark net so ’n halwe snork en hardloop heelhuids die sloot af. Ons staar hom oopmond agterna want daar waar oomblikke gelede nog ’n gekrulde tand omhoog gestaan het, is nou net ’n kort wit stompie!

GELUKKIGE VARK

Dit word gou duidelik dat die vark met sy gewoelery sy tand in die pad van die PMP-koeël gekry het die oomblik toe Conrad skiet. Dit was sy redding. Die PMP-koeël het sy tand flenters geskiet en hom sodoende bevry uit sy penarie. Conrad het maar effe verleë nader gestaan, die stuk tand opgetel en in sy broeksak gedruk. Hy het ’n skamerige glimlag gegee en is uiteindeli­k kop omlaag terug bakkie toe. Die hele insident kon egter geensins die jongspan se gees demp nie en vir die res van die oggend soek ons vlakvarke daar tussen die Oos-Kaapse klowe, maar sonder enige sukses.

Die weer was aansienlik warmer die volgende dag en De Wet en Conrad het elkeen ’n paar varke geskiet gekry. Nina, baie ongelukkig dat sy ander verpligtin­ge het, kon nie saamgaan nie. Dit was later die aand, nadat ons die varkstorie verskeie kere vertel het, dat Thys van Tonder, so met die omdraai van die rooster, sê dat daardie vark met sy af tand en maer lyf, ten spyte van die droogte, ongetwyfel­d die gelukkigst­e vark in die hele OosKaap is!

Ek glo as Frank by ons was, hy definitief daarmee sou saamstem.

 ??  ?? Tipiese Oos-Kaapse landskap en plantegroe­i, ‘n vlakvarkpa­radys.
Tipiese Oos-Kaapse landskap en plantegroe­i, ‘n vlakvarkpa­radys.
 ??  ?? De Wet en Conrad met drie varke wat nie so gelukkig was soos die een wat in die draad vasgesit het nie. Al drie die bere is op ‘n ander geleenthei­d geskiet in die doringveld onder die klipkransi­e soos beskryf in die storie.
De Wet en Conrad met drie varke wat nie so gelukkig was soos die een wat in die draad vasgesit het nie. Al drie die bere is op ‘n ander geleenthei­d geskiet in die doringveld onder die klipkransi­e soos beskryf in die storie.
 ??  ?? Conrad wys die stuk vlakvarkta­nd wat hy afgeskiet het.
Conrad wys die stuk vlakvarkta­nd wat hy afgeskiet het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa