SA Jagter Hunter

Vreugde

-

Blydskap of plesier, dis wat vreugde is, so sê die HAT ( Handwoorde­boek van die Afrikaanse Taal). Dis ’n gevoel wat jou wil maak dans in die straat, sing in die stort of dreig om jou ’n woeste oerkreet van genoegdoen­ing die lug te laat instuur... al is jy in ’n skare mense.

Net so het ek gevoel toe my .30-06 met sy nuwe gelamineer­de kolf die koeëls mooi laat bondel op 100m. Net so ook toe my CZ .308 steeds die loodpitte styf laat druiwetros het nadat ek hom gepak en ’n nuwe Lynxtelesk­oop daarop gemonteer het. O ja, en amper vergeet ek van die nuwe Howatjie. Enetjie met so ’n blouerige plastiekko­lf en ’n 20”-lopie.

Sy kaliber is 6.5mm Grendel en as die polieste nou hulle kant bring, gaan ek en Buksie (so is dié klein parmant gedoop) een van die dae die bospad begin stap. As jy ver aan die verkeerde kant van 50 is en steeds verkies om te voet te jag, raak ligte roertjies baie aantreklik. Dié 6.5mm se 120gr-koeël teen 2 400vps sal mos loop soos roosterbro­od en gouestroop as jy rooibok, bosbok of vlakvark se spoor loop vat.

Ja vrinne, saam met die winter se koeligheid het ’n warm vreugde in my binneste kom nesskop.

Maar skietgoed is nie al wat my wil laat Pavarotti in die stort en Lord of the Dance in die strate nie. Daar is ander vreugdes wat met die jagseisoen gepaard gaan.

Dit begin teen skemeraand as jy jou kampvuur aansteek. Die rooi tonge wat so knipoog en knetter teen die skemer bring ’n diepe vreugde oor die lekkerte van menswees. Jy weet mos nou-nou gaan die koffiekete­l sing en die braairib gaan lang stories met die kole gesels. En môreoggend weet jy wag daar iewers aan die einde van ’n spoor die bok wat jy gaan jag.

Terwyl jy so sit, begin die boskorhaan se tok-tok-tok deur die skemer klop totdat die nag sy swart kombers om die bos se skouers kom hang. En net soos die donkerte die vuurlig hier reg rondom jou begin vaskeer, kom salf die skopsuiltj­ies se sagte prrrp-prrrp jou siel.

Vreugde is die môrester en die rooibekfis­ante wat die son kom opklop terwyl jy bibbertand, haastig jou klere aangooi en vuurmaakpl­ek toe vlug. Vreugde is wanneer jy die vorige aand se nog louwarm kole onder die as uitkrap en hulle, en jou geblaas-blaas die fynhoutjie­s tot vlamme paljas. Vreugde is die son wat vroemôre die Kalahari se blinksaadg­ras in goud baai en die duine helderrooi laat gloei... terwyl kelkiewyne hoog luglangs op pad water toe klokhelder dankie sê.

Die koelte van ’n wydgetakte kameeldori­ng of die welkome lafenis van ryp maroelas as jy moeg gestap en sonder water wonder hoe ver die kamp nog is, bring ’n dankbare vreugde oor die veld se skatte.

Vreugde is elke klein wonder van die skepping wat jou laat aarsel om te kyk en weer te kyk.

Kom ons sê opnuut dankie vir al die vreugdes wat met jagterwees gepaard gaan. Daardie juwele maak die lewe die moeite werd.

Mooi loop!

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa