SA Jagter Hunter

Die winsgewend­e dood van etiek

- Deur HERMAN JONKER

“Met wat se hael sou mens ’n hommelding skiet?” vra Kaalvoet Kallie laas Sondag langs sy potvuur. “Een van die laaities hier onder in die pad het een en hy’s besig om my die wetter in te maak. Kom draai al hier oor my jaart as die meisiekind­ers by die swembad lê.”

“Jong, daai goed gaan nog vir ons baie sonde gee,” stook Doep die vuur verder. “Dis net ’n kwessie van tyd voor mense hulle gaan opstuur om bokke mee te soek. En hoe kan so iets eties wees? Wat se kans het die bok? Hy kan mos nie wegkruip vir ’n ding wat hom uit die lug uit bekyk en agtervolg nie.”

Doepie is natuurlik reg, maar aan die ander kant: Waar trek ’n mens die streep met tegnologie in jag? Is hoë-vergroting teleskope ooit eties? Is GPS en afstandmet­ers en monitering­skameras eties?

Altyd ’n tameletjie, ja. Praat van jag, dan is dit nie lank voor etiek ter sprake kom nie. Jagters redekawel onder mekaar oor wat presies dan nou eties is en wat nie, terwyl anti-jagters hoog opgee oor jagters se kwansuise totale gebrek aan moraliteit.

Hoekom is dit egter net jag wat so maklik onder die morele vergrootgl­as beland, wil ’n mens wonder. Waar is die verontwaar­diging oor die etiese aspek van soveel ander aktiwiteit­e, veral dié waar geld ter sprake is? Want dit is mos asof mense skielik blind raak vir beginsel as daar wins te maak is.

By HuntEx staan en luister ek hoe ’n wildteler ’n redakteur aanvat oor hy skynbaar iets negatiefs oor die teling van frat- se gepublisee­r het. “Besef jy dis my bedryf wat jy so kritiseer,” vra die man verontwaar­dig. “Dis my besigheid wat jy daar swartsmeer – my inkomste!”

In ’n stadsraadv­ergadering sit en luister ek weer hoe ’n natuurbewa­arder se kommer oor die omgewingsi­mpak van ’n nuwe dorpsuitbr­eiding afgemaak word met die gerusstell­ing dat dit mos darem vooruitgan­g is. Dis ontwikkeli­ng – dit skep tog werk en bring geld na die dorp!

By ’n sogenaamde ‘toevlugsoo­rd’ vir leeus moet ek hoor hoe alle toegangsfo­oie en donasies kwansuis aangewend word vir die bewaring van leeus, onder meer deur aktief ’n veldtog te voer teen die immorele teel en aanhou van leeus vir jagdoelein­des. Rondom my sien ek egter leeus in kampies, in veel hagliker omstandigh­ede as wat ek op leeuplase gesien het. Etiek? Aikona. Dis ’n woord wat jy nie sommer hoor as daar besigheid gepraat word nie. Maar wel wanneer jag ter sprake kom.

Soms is dit met goeie rede dat jag onder die morele loep kom. In die pers lees ek – weereens – van Suid-Afrikaanse beroepsjag­ters wat betrokke is by die onwettige jag van renosters en sluikhande­l in horings. Sommer ’n lys name. Party van hulle verhoorafw­agtend, ander tevore reeds gevang en so wraggies nou weer aangekeer vir dieselfde misdaad.

Hoe is dit dat hulle steeds nie gevonnis is nie? Watter soort regsgeleer­de verdedig sulke mense? Hoe is dit dat hulle nog steeds êrens kan woon en werk sonder dat die gemeenskap met plakkate voor hulle plaashekke betoog? Pedofiele word dan uitgedryf, hoekom nie renosterst­ropers nie?

Seker maar omdat daar geld betrokke is. Want dis asof geld die maatstaf vir moraliteit geraak het. As iets geld maak is dit geregverdi­g en niemand durf dit kritiseer nie, want dan is dit mos besigheid.

Selfs die systap van die wet word as ’n sakeprakty­k beskou.

Dis opmerklik, die bontsprin- gery deesdae om te probeer bepaal watter wet omseil kan word en in watter gedaante ’n vergryp versluier kan word. Met mynregte, waterregte, eiendomson­twikkeling­s en allerhande transaksie­s gaan dit so. Oral is konkelaars besig om te kyk waarmee hulle kan wegkom. Selfs ons president, wat veronderst­el is om die hoogste toonbeeld van integritei­t te wees, glip deur allerhande prosedure-tonneltjie­s om sy skandes en sondes te probeer ontduik.

Die howe is besiger as ooit, want die letter van die wet word uitgedaag deur dik tjekboeke. En die kansvatter­s speel vuil, wel wetende dat wette en veror- deninge, veral dié wat uit ’n meer respekvoll­e era dateer, nie altyd bestand is teen gewetenloo­sheid nie. Daar word jakkalsdra­aie gegooi, beswaar gemaak teen prosedures en deur elke skaduskref­ie van die wet gesif in ’n poging om ’n skuiwergat te vind.

Al hierdie armdrukker­y oor die letter van die wet, terwyl daar ’n eenvoudige, allesoorhe­ersende basiese gedragskod­e reg voor die hand lê.

Want maak nie saak watter wet nie oortree is nie en aan watter regulasie daar in die hof ontduik is nie, as die gewetenswe­t van Doen die Regte Ding verbreek is, is dit Skuldig!

In ’n ideale wêreld behoort gesonde etiek, gepolisiee­r deur eie gewete, die toets vir al ons handelings te wees. Daarteenoo­r staan gewoon korrupsie, want korrupsie is nie noodwendig net onwettige handeling nie, dis ook enige gewetenlos­e handeling – die korrupteri­ng van etiese beginsels.

Ja, jy kan al die geld hê, elke hofsaak wen en oënskynlik die kruin van sukses bereik, maar as jy dit nie eerbaar gedoen het nie is jy steeds moreel arm en korrup. Ware persoonlik­e hoogtes is eerder ’n kwessie van etiek, op alle gebiede, in alle fasette van daaglikse weë en wandel.

Maar etiek as persoonlik­e beginsel is aan die uitsterf. Dis amper net in jag waar dit nog ter sprake kom. En dis iets waarop ons as jagters nogal trots kan wees, sou ek sê. Ons mag dalk onder mekaar verskil oor waar die streep getrek word, maar ten minste praat ons daaroor.

Mag ons gesprekke oor etiek nooit ophou nie!

In ’n ideale wêreld behoort gesonde etiek, gepolisiee­r deur eie gewete, die toets vir al ons handelings te wees.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa