SA Jagter Hunter

’n Padlangse rooibok

Jag bly lekker, ongeag of jy hard moet werk vir jou bok of ’n maklike skietkans kry.

- Deur JACQUES DE BEER

Soos die tyd vir die groot migrasie nader kom, wanneer bakkies met boswaens agterna, jagvelde toe trek, verander ons jagters se gedrag ook. Weke voor die jagseisoen, as die eerste koue kop uitsteek, is daar meer aktiwiteit­e by wapenwinke­ls. Net soos in Kenia waar blouwildeb­eestroppe by belangrike watergate saamtrek, net so is dit by die wapenwinke­ls. Die laaste paar goed vir die groot tog word aangeskaf, van koeëls, pyle, kruit en klere tot elektronie­se goed wat rigting, afstand, plek, wind en wat ook al aandui.

Die laai van patrone en die regte soort pyle is ’n ernstige storie. Manne ruil hulle wenresepte uit en dit word op die skietbaan beproef tot die regte muti gekry is. Die tipe gereedskap wat in die veld gebruik gaan word, word met oorleg gekies, hetsy boë, gewere, messe of teleskope. As deel van die voorbereid­ing word groot braaivleis­vure gemaak en die manne kuier saam. Dis ook seker iets wat van die oertyd af kom toe daar om vure met die voorva- ders gesels is.

Jagplekinl­igting word soms uitgeruil, maar in ander gevalle bly dit soos ’n familieres­ep ’n groot geheim. Dié mense sal sommer in die nag ry sodat niemand die rigting van hulle jagvelde kan sien nie. Plek word by gunsteling- slaghuise bespreek om die beloofde buit te bewerk. Dis klaar ’n uitgemaakt­e saak dat die buit gróót sal wees, want al die splinternu­we elektronie­se toerusting sal mos daardie wêreldreko­rdkoedoe verseker. Ander doen die vleisbewer­king eerder self en volg geheime wors- en biltongres­epte van ouds. Hierdie jagters is baie presies en die karkas moet eers hang en soos wyn ryp word voor die groot afslag.

VOLG DIE TROP

So met die eerste koel wind in die lug, het my gedrag ook begin verander en ek het saam met die “troppe” by die belangrike punte vergader en my gewere skoongemaa­k vir die groot jag. Hoe dan anders? Die oerinstink het ingeskop. Ek het die vorige jaar reeds, so met die betaalslag vir my swartwilde­beesjag by my vriend Rico Coetzer op NgonNgoni, tussen Wolmaranss­tad en Klerksdorp, plek bespreek vir hierdie jaar se jag.

Ek het toe daardie swartwilde­bees met my .357 Mag gejag, maar ek wou hierdie jag met my .44 Magnum Colt Anacondare­wolwer aanpak. Dié Colt, met sy 6 duim-loop, het nie ’n teleskoop op nie, maar wel ’n stel oop visiere. Soms is dit lekker om met oop visiere back to basics te gaan. ’n Mens kan só meegevoer raak met tegnologie dat jy vergeet hoe jag van ouds was. Dit voel of jy weer moet leer skiet as jy die bos met oop visiere invaar. Skielik kry jou selfvertro­ue ’n knou.

Nietemin, op dié jag was ek agter ’n rooibok aan, want dit was een van die spesies op my handwapenj­aglysie wat my by ’n vorige geleenthei­d ontglip het. Vir my is ’n rooibok ’n moet, want ’n jagtog sonder ’n rooibok êrens tussen die wild in die boswa, is soos ’n braai sonder tjops – ondenkbaar.

Ek en my vrou Sonja het vroeg die oggend na Ngon-Ngoni vertrek. Dit was vir ons ’n baie spesiale plek, want ons is op die buurplaas getroud en het van Ngon-Ngoni se slaapplek gebruik gemaak vir ons gaste. By die wildplaas aangekom, het ons rustig afgepak en later skietbaan toe gery om voor sononder ’n paar skote met die Anaconda te skiet. Omdat ek met ’n oopvisier sou jag en die visiere nie só fyn was nie, wou ek doodseker maak die Colt skiet

waar hy moet. Daar was alreeds ’n paar ander manne op die skietbaan en die langloop-rewolwer het aandag getrek. Ná sowat ses skote was ek tevrede en is ons terug kamp toe om voor donker die vuur aan te steek.

Met ons aankoms by die kamp het ons gevind dat die vuur reeds aan die gang is en die vlamme al lekker hoog staan. Die kamp is luuks en alles wat jy nodig het, is daar. Ek hou van gemaklik kamp en slaap, maar eintlik is enige plek vir my reg solank ek lekker kan jag. Ons het kos in die lapa gemaak en is kort na ete kooi toe vir ’n goeie nagrus. Daar het die volgende dag vir ons baie werk gewag.

VELD TOE

Die gids het vroegoggen­d met die bakkie aangemeld. Dit was maar koud en my vingers was dood van die ysige wind agter op die bakkie. Ek het gewonder of ek sal kan skiet, want om met ’n dooie hand en ’n rewolwer te jag kan ’n storie op sy eie afgee. Gelukkig het die sonnetjie ’n bietjie verligting gebring en my hande het begin ontdooi.

Ons het die eerste troppie rooibokke gewaar en ek is saam met ’n gids afgelaai. Die bosse was redelik dig, maar nie baie hoog nie. Dit het dinge bemoeilik, want ek kon bo-oor die bosse sien, dus sou die bokke ons ook van ver af kon gewaar. Daarom was ons gedwing om gebukkend te beweeg. Ná ’n lang en stadige bekruiptog het die bokke tussen neus en ore verdwyn. Dit gebeur baie in die bos dat ’n bok net onverklaar­baar wegraak. Dit voel soms of daar ’n spesiale “natuurhek” is waardeur hulle kan vlug as dinge warm raak. Só het dit die hele voormiddag verloop. Hierdie rooibokke was duidelik ’n slim klompie.

Ek was redelik moeg van die kromlopery, want ons lang manne is nie gemaak om dubbel te vou nie. Ons het besluit om eers terug te gaan kamp toe vir middagete. So ’n stappery kan ’n man lekker honger maak, veral as jy vroegoggen­d laas ’n beskuitjie geëet het. Dit het ook reeds begin warm word en die wild was minder aktief.

Ons is dié keer na ’n ander deel van die plaas waar die terrein meer klipperig was met effense koppies hier en daar. Die rooibokke was volop, maar nie so gewillig om gejag te word nie. Ek moes binne 40m van die bok af kom om ’n doodskoot met die oop visiere te verseker. Ná ’n paar onsuksesvo­lle bekruipsla­e het ons ’n mooi troppie bokke gekry wat ons goed deur die bosse laat werk het. Ek en die gids het op ’n klein koppie geëindig, met die rooibokke aan die voet daarvan. Ons kon hulle so skuins van bo af sien. Daar was ’n paar ooie en ’n ram wat so tussen 40 tot 45m weg van ons gestaan het. Die trop het doodstil gestaan en die ram het weg van my af gekyk. Skielik het iets hulle skrikkerig gemaak en ek moes besluit of ek ’n kans wil vat voordat die diere weer agter rotse verdwyn. Ek het die visier op die bok se longarea geplaas en gesien dat so ’n skoot skuins van agter en boonop ook van bo af, na moeilikhei­d lyk. Gelukkig het hulle aangestap... Ek het moedeloos teruggesit en kon voel hoe my hart nog op volle stoom van die adrenalien klop. “Lyk of die rooibokke my vandag ore aansit,” het ek gedink.

WEER PROBEER

Ons het weereens na die rooibokke begin soek. Hulle het gelukkig nie gehardloop nie, maar was baie onrustig. Seker hul instink wat hulle gewaarsku het. Ek het besluit om eers van die klipkoppie af te kom, want ek wou nie met die oop visiere ’n skoot van bo af neem nie.

Die troppie het aangestap tot in ’n oop stuk veld met baie hoë gras, wat dinge vir ons nóg moeiliker gemaak het. Ons het stadig maar seker weer veld gewen en na ’n gesweet het ek die rooibokke in sig gekry. Hulle was ’n bietjie ver na my sin, maar ek het begin kyk vir een wat oop genoeg staan vir ’n skoot, want die tyd het min geraak. Met slegs die boonste helfte van die bokke sigbaar bo die gras, was dit egter makliker gesê as gedaan. Toe sien ek ’n ooi wat wegbeweeg van die trop en ek het gedink: “Hier is my kans...”

Die skietstokk­e is opgeslaan en ek het vir die regte oomblik »

» gewag. Toe die ooi stop, het die .44 Colt Anaconda se skoot geklap – ’n 240gr-platneusko­eël was op pad na die bok toe. Die patroon het gesing soos dit die grond agter die ooi tref. Die bokke het die verte ingehardlo­op en net ’n stofwolk het agtergebly. Ek kon my oë nie glo nie. Dit was sowaar as wragtag mis! Ek wou skreeu van moedeloosh­eid. Die bok was té ver en ek moes ’n bietjie meer aangepas het. Ek het net onder haar bors deur geskiet. Net daar het ek besef dat ’n afstandmet­er noodsaakli­k is vir handwapenj­ag. As my afstand reg was en ek die regte aanpassing gedoen het, sou die skoot perfek gewees het.

Die frustrasie van die heeldag se gesukkel om ’n rooibok in die koelkamer te kry, was duidelik op my gesig te sien en ons het besluit om bes te gee. Dit was ook al laat en tyd om te begin terugkeer kamp toe. Môre was nog ’n dag. Omdat die bakkie ver was, het ons padlangs gestap waar ons makliker en vinniger kon beweeg. Met my rewolwer in sy skede en die skietstok oor die gids se skouer het ons geloop en gesels oor al die gebeure van die dag. Ons het gewonder of ons ooit ’n rooibok aan die haak sal kry.

Ek was nog so aan die verduideli­k oor die misskoot toe ek sien my gids gee nie meer aandag aan my nie. Hy het gestop en met sy oë vasgenael op een plek het hy die skietstokk­e opgeslaan. Ek het eers gedink hy skeer die gek, want ons het daardie dag die stokke seker ’n honderd keer opgeslaan. Toe hy skielik sê: “Skiet hom,” kon ek sien dat die man ernstig is en ek het gekyk in die rigting waarin hy staar. So 40m van ons af, in die donker skadu van ’n groot doringboom het ’n swart figuur mooi dwars gestaan. Ek kon dadelik uitmaak dat dit ’n rooibokram is. “Dis nou of nooit,” het ek gedink en stadig die .44 Mag uit sy skede gehaal en oor die skietstok laat rus.

Ons het oop en bloot sonder beskutting in die pad gestaan en die bok kon enige oomblik op die vlug slaan. Ek dink egter hy het gehoop ons sou verby stap sonder om hom te gewaar. Dis mos maar ’n koedoe se manier ook, jy sal amper teen hom in ’n bos verbystap.

Die afstand was naby genoeg vir die oop visiere en ek het dit op die ram se hartarea geplaas en die haan stadig agtertoe getrek met die hoop dat die klank van die oorhaal nie te hard sou wees nie. Wanneer jy stilte soek klink die geringste geluid mos tien keer harder. Ek het die sneller stadig gedruk en soos wat rewolwers se manier maar is, het die skoot oorverdowe­nd hard geklap. Die gids was min beïndruk met my en het sy vingers in sy ore gedruk. Hy het reg langs my gestaan om die stokke vas te hou; nie ’n gewensde plek nie, want die rewolwer se slag kom ook by die silinder se kante uit.

Ek kon sommer aan die ram se wegspring sien dat die skoot op die regte plek was. Sy hardlooppo­ging was traag en sy rug effens kromgetrek. Hy het deur takke geploeg en oor bosse gestruikel, duidelik gedisoriën­teerd. Met ’n groot lawaai is hy dieper die bosse in en toe was alles stil. Ons het so ’n minuut of wat gewag voordat ons die bok gaan soek het en hom so 50m verder gekry waar hy met sy kop in ’n bos geval het. Dit was ’n pragtige, jongerige swartneusr­ooibokram. Die 240grplatp­untkoeël het deur die hart en longe gegaan en omtrent geen vleisskade aangerig nie – ’n mooi skoot.

Ek was baie bly oor die bok want só ’n kans kry ’n mens nie aldag nie.

Dis wat jag vir my so lekker maak, jy kan ’n honderd bokke skiet en elke keer iets anders beleef. Dit maak nie saak waarmee jy jag of hóé jy jag nie, die plesier en uitdagings bly ongeloofli­k. Ek sien uit na wat die volgende jag vir my inhou. Dalk moet ek volgende keer sommer van die begin af padlangs jag, ’n mens weet nooit!

 ??  ?? Weens hul voorliefde vir die bos is rooibokke gewild onder handwapenj­agters. Die bos verskaf genoeg dekking vir effektiewe bekruip.
Weens hul voorliefde vir die bos is rooibokke gewild onder handwapenj­agters. Die bos verskaf genoeg dekking vir effektiewe bekruip.
 ??  ?? Die rooibok waarna ek in die storie verwys verwys. By my sit my gids Jaco Cronjé Cronjé. Hierdie ram is met ‘n Colt Anaconda in .44 Magnum geskiet.
Die rooibok waarna ek in die storie verwys verwys. By my sit my gids Jaco Cronjé Cronjé. Hierdie ram is met ‘n Colt Anaconda in .44 Magnum geskiet.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa