My gewere en hul stories
Elkeen van my gewere het ’n besonderse storie en ’n besonderse plek in my hart...
Sommige mense se karre word deel van hulle, so ook ander se bote en ander se motorfietse. My gewere is só deel van my. Org Hamman se pragtige vertelling oor sy 8mm Mauser het hierdie artikel geïnspireer (SA JAGTER/HUNTER Januarie 2017).
As tiener het ek al besef dat mense se smaak hemelsbreed van mekaar verskil. Dit het finaal by my ingesink toe oom Pottie met sy goudgeel Cortina Big Six daar by ons dam op die plaas stilhou om te kom visvang. Oom Pottie het my verwondering as bewondering gesien. “Kom ek wys jou...” het hy gesê. Die voorste paneel was oordek met ’n lemmetjiegroen, wollerige materiaal. Fluff, het ons dit genoem. In die spasie tussen die agterruit en die agtersitplek se rugleuning was dieselfde materiaal en bo-op ’n hondjie wat sy kop op en af knik as die motor ry. In die voorste paneel was ’n 8-track- stereospeler en langs dit ’n CB( citizen band)- radio. Bo-op die lang antenna van die radio was ’n oranje lemoentjie. Wye bande om blink vellings het die kar afgerond.
MY PAND-GEWEER
My kosbaarste geweer is ’n dubbelloop CW Greener-haelgeweer met ’n loop van Damaskusstaal. ’n Erfstuk. Op ons plaas Nooitgedacht in die Wepener-distrik is ’n “uit-
spanning”. Die uitspannings is deur die ou transportryers en boere gebruik om hulle trekdiere te laat rus. Die uitspannings was so min of meer tien kilometer uitmekaar langs al die grootpaaie. Ons s’n was besonder gewild, want dit was na aan die opstal waar daar melk en ander varsprodukte gekry kon word. Dit was ook teen ’n spruit met voldoende water vir vee. In die 1930’s, net na die Groot Depressie, het ’n transportryer eendag daar oornag. Sy dogter het ernstig siek geword en hy moes met haar dokter toe. Hy het nie geld gehad nie en het vyf pond by my oupa geleen. As pand het hy die geweer aan my oupa gegee. Hy sou, as hy weer daar verbykom, my oupa die vyf pond gee en dan sy geweer vat. My oupa het hom nooit weer gesien nie.
Die geweer is tussen 1880 en 1910 in Engeland gemaak en Gerrie Coetzee van Bloemfontein het hom vir my gerestoureer. Wat sou die geweer kon vertel as hy kon praat? Waar het hy oral in ’n wa-kis rondgeswerf? Wat hy wel sou kon vertel, was hoe hy my pa bo van die miershoop afgeskop het sodat hy op die naat van sy rug beland het. Ook hoe hy my vrou, Lizette, se hele regterbolyf en arm blou geskop het. Omdat sy bang was vir die terugskop, het sy die kolf nie teen haar skouer gesit nie, maar in die mik van ’n boom. Met die skoot het die mik gebreek en die 12-boor het haar byna van haar voete af geskop. Daarna het sy die muisvoëls wat die appelkose eet maar laat begaan!
BRNO EN MAUSER
Oom Gustav van Aardt, destyds ’n bekende boer van die plaas Fleetwood, ook in die Wepenerdistrik, was die vorige eienaar van my .243 Brno de Lux. Oom Gustav is vermoor in een van die eerste plaasmoorde in ons land. Hulle het sy lyk in ’n populierbos langs die pad waarmee ons dorp toe gery het, gekry. Hy is met sy eie haelgeweer geskiet, kilometers van sy huis af. Hy was ’n huisvriend, ’n goeie man. Ek het die geweer, saam met die oorspronklike geweersak uit sy boedel gekoop. Hy het die geweer destyds nuut gekoop by Teddy’s-fietswinkel daar teen die stasie in Bloemfontein. Ek wonder wat hierdie geweer sou kon vertel van die wrede moord?
My .308 was oorspronklik ’n 6.5 Portugese Mauser. Gerrit Ballot, my oom van Kestell, was ’n magistraat in die 1960’s en hy het my pa vertel dat die staat al die 6.5’e verkoop. Oom Gerrit en my pa het toe elkeen een gekoop. Na oom Gerrit se aftrede het hy geboer op Oldenburg, wat tans deel van die Golden Gate Hoogland Nasionale Park is.
Toe die ammunisie vir die geweer in die boikotjare skaars word, het Musgrave van Bloemfontein die loop met ’n .308loop vervang. Piet Jacobs, destyds die houtwerkonderwyser aan die Hoërskool Louw Wepener het die oorspronklike kolf in ’n sporting een omskep. Mnr. Jacobs en dr. Frik Calitz was jagmaats van dr. Lukas Potgieter. (In sy boek Fonteintjies Langs My Geweerpad verwys hy na hulle. Dr. Calitz is die grootwildjagter Johan Calitz van Botswana, se pa.) Mnr. Jacobs was by toe ek my eerste bok met die einste geweer geskiet het. Dié Mauser pas my soos ’n handskoen en is my gunsteling-bosveldgeweer.
Ek weet een van die baie stories wat hy sou kon vertel, is hoe my pa twee makoue in vlug na mekaar geskiet het toe dié geweer nog ’n 6.5mm was. Ook sou hy kon vertel hoe trots sy huidige baas en die baas se pa was »
» toe hy sy eerste blesbok met ’n eenskoot-doodskoot geskiet het.
MY LANGSKOOTGEWEER
My .30-06 was ’n persent van ’n vriend, Danie Putter. Dit het ’n Lyttelton-loop met ’n RSA-aksie en -magasyn, die sogenaamde Vrystaat-jaggeweer. ’n Kennis van Danie het vir hom patrone herlaai. Een het nie kruit (dryfmiddel) in gehad nie en die koeël het dus in die loop vasgesteek. Danie het dit nie agtergekom nie en met die volgende skoot is die slot weens die enorme druk agtertoe geforseer en het dit ’n keep uit sy oor geruk. Skrapnel het sy wang en sy oogbank gesny. Gelukkig dra hy bril en daarom is sy oog nie beskadig nie. Hy het egter sy vertroue in die geweer verloor en toe kry ek dit as geskenk. Die loop het geen skade opgedoen nie en Gerrie Coetzee het al die gebreekte dele vervang en ’n mooi nuwe kolf gemaak. Die .30-06 sou kon vertel van ’n koedoebul wat aan die oorkant van ’n kloof hoog in die lug opspring en ’n entjie verder neerslaan en ’n kleinman wat trots sê: “Oupa, jy hét hom!” Hierdie .30-06 is my gunsteling-geweer waarmee ek op Mt. Marlow, die bergplaas van die De Wets in die Cradock-distrik, jag. Oor klowe moet hier soms langerige skote geneem word.
Ek laai die .243 met 100grkoeëls, my .308 met 150-greiners en my .30- 06 met 180grkoeëls. Die koeëlbane is byna dieselfde en dit maak dit baie maklik vir my as ek van gewere wil verwissel.
GROTER KALIBERS
’n CZ 550 in .375 H&H is die enigste geweer wat ek nuut gekoop het – by Monsieur Charmant, ’n wapenhandelaar in Ficksburg. Met hierdie geweer het ek my eerste buffel, seekoei en olifant geskiet. Dit het ’n lieflike, gladde, sterk aksie, tel elke keer sy patroon uit die magasyn op en is ’n ware staatmaker. Die CZ het baie stories om te vertel maar sy trotste oomblik was seker die mooi hartskoot op daardie buffel in die Zambezi-vallei.
My laaste geweer is ’n .458pasmaakgeweer met ’n P14aksie. Die geweer is vir my vriend Org Hamman gemaak en Gerrie Coetzee moes net ’n stukkie in sy kolf inlas sodat hy my kon pas. Saam met die geweer het ek ook ’n snellermeganisme gekoop wat die geweer se slagpen span sodra jy die grendel toedruk en nie wanneer jy die grendel vorentoe skuif soos die standaard-P14 nie. Met dié geweer voel ek net so ’n bietjie gemakliker as ons op groot spore loop. Hierdie geweer se stories ken ek nie en ons sal vir Org moet vra om hulle te vertel.
Vir my is ’n mooi geweer een met ’n egte houtkolf en ’n swart loop en aksie, ’n laag gemonteerde teleskoop waarvan die voorste lens 44mm of kleiner is. Die Oom Kaspaas-teleskope (die ouer Landbouweekblad- lesers van Adoons-hulle sal weet waarna ek verwys) met voorste lense van 50mm en groter word vir Europese jagters gemaak wat in swak lig moet skiet en is eintlik (volgens my oortuiging) onnodig in ons sonnige land. Ek hou nie van fieterjasies aan of op my gewere of teleskope nie. Ek is ’n jagter, nie ’n skyfskieter nie.
Lemoentjies op antennas is nie vir my mooi nie.