SA Jagter Hunter

Naggesprek

- Koos Barnard

Ribbokspor­e, klipdasse en ’n enkele witkruisar­end wat hoog bo die ravyne sirkels in die blou trek.

Dit was al wat ek die hele dag lank gesien het. Toe ek laatmiddag die Mauser dankbaar teen die rietskerm staanmaak, het ek dit vir ’n oomblik oorweeg om sommer net daar plat op die grond te gaan sit om my moeë bene te laat rus. Maar ek het geweet as ek eers sit, die opstaan later moeiliker sou wees en ek wou die vuur aan die gang kry want ek was vrek lus vir koffie.

Skuins agter die skerm waar die hout teen die oorblyfsel­s van ’n ou kraalmuur lê, het ek ’n armvol karee- en gannahout bymekaar gemaak. Die hout was kurkdroog en die vlamme het weldra kniehoog gedans. Ek het die swart ketel in die vuur gedruk en toe langbeen daarnaas neergesak met my rug teen die skerm gestut. Die ongenaakba­re klipwêreld van die Moordenaar­skaroo het my energie getap.

Toe die water kook, het ek koffie gemaak en terwyl ek drink, na die kwaakagtig­e duet van twee vaalkorhan­e geluister. Daarna het ek ’n halwe skaaprib gebraai en nadat ek geëet het, weer koffie gedrink. Toe het ek ’n paar groterige kareehoute op die vuur gesit en agteroor teen die skerm gaan sit-lê met die Mauser oor my bene om my strategie vir die volgende dag te beplan.

As korhane teen sononder skree, waai die wind die volgende dag, het die ou mense geglo. As dit waar is, sou ek skuins na sonop reeds op ’n beskutte plekkie teen die kranse moes sit om met die verkyker te soek. Wind is goed vir koedoejag, maar nie hier nie, anders skiet jy mis... ribbokke is klein... skiet jy mis... as die...

“Naand Neef.” Ek ruk soos ek skrik. Anderkant die vuur, half buite die liggloed staan ’n forse gestalte met ’n geweer in sy linkerhand. Ek wil instinktie­f na die Mauser gryp maar die man sê: “Ek het bepaald nie probeer om jou die skrik op die lyf te ja nie, ek dog jy hoor my aankom. Tempus het woes stang gekou en wou opsluit grondskop toe hy water ruik.”

Toe tree hy nader. ’n Yskoue hand glip teen my ruggraat af... want wat ek sien kan glad nie waar wees nie. Tog is dit hý, net heelwat jonger as op die foto’s in die geskiedeni­sboeke. Voordat hy oorkant die vuur op my veldstoel gaan sit, reik hy my die hand. “Paul Kruger,” sê hy en vra toe, “hoe voer Neef die van?” Nog lamgeskrik piep ek my naam en voor ek iets anders kan sê, roep hy oor sy skouer: “Staan maar nader Jan, die man is gewend aan jagters, hy dra self ’n roer.”

’n Tweede persoon kom nader en stel homself as Jan Robbertse bekend. My sinne duisel, maar ek is skielik nie meer bang nie. Vrees het plek gemaak vir nuuskierig­heid.

“Waar dwaa... ek bedoel, waarheen is julle op pad?” vra ek. Jan Robbertse antwoord vinnig: “Nuwe jagvelde, Neef. Die plekke waar ons vanmelee gejag

het se wild is aan’t opdroë. Algar wat ’n snaphaan kan span, slaan daar uit soos ’n sprinkaanp­laag. Ons het verneem daar’s wild in die K’roo maar dit was vals praatjies lyk dit my. Hierdie droë klipland is net woestyn.”

“Hier is wild,” antwoord ek, “springbok, ribbok, duiker, steenbok en selfs koedoe... ’n mens moet net soek, hulle staan nie vasgemaak nie.”

“Ons soek nie potvleis nie,” sê oom Paul. “Ons behoefte lê agter levoor en velle.”

Velle kon ek verstaan maar wat die duiwel was levoor? Jan Robbertse moes aan my gesig gesien het dat ek nie levoor ken nie. “Levoor is mos oolfanttan­ne, hulle prys goed. Grootwild weer soos buffel en kamele soek ons vir velle. Maar dis eintlik oolfante waaragter ons lê. Jy het nie dalk grootvoete hier rond gewaar nie?”

“Genade nee, hier’s nie olifante nie. Ek weet nie eers of hier ooit sulke goed was nie. Julle moet gaan soek waar daar meer gras en bome is. Die enigste groterige wild hier rond is op wildplase, maar nie olifante nie. Om daar te jag moet julle bespreek en ’n deposito betaal.”

Jan is dadelik geïnteress­eerd. “Wildplase sê jy? Hoe bedoel Neef dan nou? Jy praat bepaald in raaisels, wild is tog nie vee nie. En wat is ’n deposito? Is dit soos ’n ondernemin­g gee?”

“Dis reg Jan, mense boer deesdae met wild soos almal vroeër met vee geboer het. Dan betaal jy die wildboer om op sy plaas te jag.”

“Betaal vir potvleis?! Dis verregaand­e en hoekom moet jy betaal as jy ’n ondernemin­g gee? Dit klink alteveel na skelmmanst­oertjies.”

“As iemand belowe en nie opdaag nie, verloor die boer geld. Wildboerde­ry is ’n kompeteren­de bedryf en die boer moet genoeg geld maak anders is dit nie lonend om wild aan te hou nie. In ons moderne samelewing...”

“Wag nou, Neef,” val oom Paul my in die rede, “los die verduideli­k, ons wil nie op dié pla- se jag nie, klink alteveel ingewikkel­d. Sê ons liewer welke tipe jagter is jy, of is dit nie jou nering nie? Ek sien min gereedskap­pe hier by jou staning, ook geen perd, saal of toom nie, net daardie snaakse wa-ding.”

“Jag is nie eintlik my beroep nie, ek doen dit vir plesier en skryf dan daaroor en...” “Soos daai Livenston-kêrel?” “Nee, ek’s nie ’n ontdekking­sreisiger nie en ek skryf nie boeke nie. Die wa-ding is ’n bakkie, ’n soort masjien wat homself aandryf waarmee ’n mens kan ry.”

Na ’n paar sekondes van stilte wys oom Paul na die Isuzu se kant toe. “Kan jy met hom hierie kliprante uit?”

“Nee nie met hiérdie een nie, daarvoor het ek ’n 4x4 nodig, hulle is...”

“Nee magtag kêrel, hoe wil jy dan jag? Jy moet vir jou ’n skietperd leer. Wat jy nodig het, is ’n poon wat vas van voet en kalm van geaardheid is. Jy bind ’n lang riem aan sy halter vas en maak ’n lus aan die los ent daarvan waardeur jy jou arm haak. Dan staan jy so ver van die perd af as wat die riem toelaat en skiet ’n skoot. Die eerste paar male sal hy weg spring maar as hy eers gewend is aan die knal, staan jy nader en skiet weer. So gaan jy met verdrag nader tot hy jou toelaat om reg langs hom te skiet.

As jou perd eers staan vir die skoot, maak jy hom aan saalskiet gewend. Draai hom altyd dwars na die teiken toe. As jy nou ’n perd wil bederf, moet jy oor sy ore skiet. Die laaste toertjie om hom te leer, is om, wanneer hy op vol galop is, op te ploeg as jy met jou hand op sy skof druk. As hy dit als onder die knie het en nog gesout is, is hy baie werd. Maklik £100 en dan moet sy baas tussen die duiwel en die groot see wees voordat hy sal verkoop.”

“Nee oom Paul, ek wil nie ’n perd aanskaf nie. Veral nie vir dié wêreld nie. In hierdie klipland val jy jou moer toe kêns as die ding begin spring. Ek jag te voet... walk and stalk soos die Engelse sê.”

Dadelik vererg oom Paul hom. “Jy praat nie net lasterlik nie, jy kom staan raak nog danig met Ingelse modes ook, man. In hierdie kaalgatlan­d sal jy jou sole slyt sonder om na genog aan die wild te kom. Met ’n wakker perd kan jy sommer gou die stang op ’n bok se kruis sit en dan is dit net opploeë en skiet.”

Jan gooi ook stuiwer in die armbeurs met: “Ja-nee Nefie, hierie stok-wok van jou sillie deug nie. Hoeveel bokke skiet jy op daardie manier? Met ’n perd kan jy die wild omkrink en na jou staning toe aanjaag, dan hoef jy nie ver te dra as die bok plat is nie.”

“Ek wil nie ’n klomp wild te perd uitmoor nie. Die uitdaging is juis om sonder hulp naby genoeg te kom vir ’n skoot. Dit lyk my julle klomp is ook maar slaprug, alles word op die maklike manier gedoen.”

Jan leun vorentoe, sy oë onstuimig. “Die wild waaragter ons jaag en uitmoor soos jy sê, is vleis vir rantsoene. Die velle vir rieme, stroppe, trektoue, oorleer vir skoene en naairiempi­es. Dis nutsartike­ls waarsonner ons nie kan nie. Levoor verdien vir ons geld en ongedierte­s word bokveld toe gestuur om ons vee te beskerm. Jy jag vir die uitdaging, sê jy. Maar waffer tipe uit- daging is dit om oor klippe te kruip agter potvleis aan wat jy nie regtig nodig het nie?

Seg my, hoeveel boosaardig­e leeus het jy al in die bek gekyk? En grootvoete? As bek-en-klouseer, pes of droogte onder jou veediere maai en jy geen good for- brief meer by die Jood se winkel kan kry nie, moet jy jag om te sôre. Dan soek jy oolfante en waag jy. Weet jy hoe die grootvoete se gedreunram­mel aan jou moed kerf as jy tussen ’n trop moet inspioen om naby die groot bulle te kom?”

Effe kortasem van die opgewonde gepraat leun Jan terug, maar hy kyk my nog stip in die oë. “Jy is nog ’n nat-oor wat kwyl trek oor hierie... Ingelse stok-wok. Ons slaprugmod­es sôre lat ons lywe gelap bly. Jou uitdaging is om wild onder skoot te kry, ons s’n is om nie dood te raak nie!”

“Toe nou maar Jan,” maan oom Paul. “Dis nie nodig om doringtak deur die neef se mond te trek nie. Hy is maar net aan ander modes as ons gewend.”

Jan se tirade het ’n hele paar hakskeensk­ote na my kant toe gemik waarop ek geen antwoorde gehad het nie. Toe die stilte half ongemaklik begin raak, val my oog gelukkig op die geweer wat nou oor oom Paul se skoot lê.

“Waarmee skiet Oom?” wil ek weet. Hy tel die geweer op en sê met duidelike trots: Dis ’n Witwort (Whitworth) doppieslot-voorlaaier, kaliber .45, een van die heel modernste gewere wat daar is. Die loop is seskantig binne met ’n geslingerd­e groef wat veroorsaak dat dit baie fyn skiet. Met hom maak jy wild op lang afstande plat. Darem een ding wat die Ingelse kan doen Neef, gewere bou.

Ek het nog my oolfantgew­eer ook, ’n vuursteen sesponder (ses op die pond) deur Botha gebou. Dis nou wel ’n ou geweer en hy dryf miskien nie so ontsettend soos die ou vierponder­s nie, maar as jy ’n grootvoet op sy doodmaakpl­ek skiet, val hy. Met net so ’n sanna het ek my »

Toe die stilte half ongemaklik begin raak, val my oog gelukkig op die geweer wat nou oor oom Paul se skoot lê.

» eerste leeu geskiet toe ek 14 jaar oud was. Ai Nefie, ’n mens skiet net een keer in jou lewe jou eerste leeu. Met so ’n leeudier op jou kerfstok word jy ’n man. Nie net in jou eie oge nie maar ook dié van jou pa se plaaswerke­rs. Voor jy jou eerste stuk grootwild skiet, noem hulle jou ’n umfaan maar die oomblik wanneer jy oor jou eerste leeu of buffels staan, word jy dadelik ’nkosaan, klein kaptein. En watter seun wil nie graag met ’n ‘ Bayete ’nkosaan’ begroet word nie.”

Oom Paul het vir ’n oomblik stilgebly en toe kyk hy verby die vuur die donkerte in. “Met daardie leeuvel het ek ook die eerste maal verloof geraak. Ek was 16, sy skaars 14. ’n Fyn mensie met ’n bergstroom se murmul in haar lag en die geheime van diep waterkuile in haar oë. Vir ’n Trekkerseu­n was sy eerste leeuvel amper net so belangrik soos sy Bybel. Maar ek het dit vir haar gegee om voor haar bed te gooi... Dit was lank gelede... lank, lank gelede.”

Hy sug diep en vir ’n oomblik lyk dit kompleet asof hy uit ’n diep slaap wakker geword het. Ek wou bitter graag meer hoor oor die fyn enetjie, maar iets in sy houding het my gewaarsku om nie oor haar te vra nie. Toe hou ek maar by gewere.

“Waar kry julle die vuurstene vir die ou roers?”

“Jong ja, om goeie vuurstene te kry, pla maar. Gelukkig kan ons goeie Ingelse stene koop. Jy kan 40 tot 50 skote met een vuursteen skiet. So, 50 nuwe stene bring jou ver. As ons gewone wild jag, haal ons soms die goeie stene uit en gebruik sommer plaaslike vuurklip. Maar met hulle skiet jy net sowat 10 skote dan moet jy eers weer die steen skerp slaan. En na nog 10 skote is hulle nikswerd.”

“En as die geweer weier, moet julle seker lelik bontstaan?” por ek oom Paul aan.

“Bepaald Neef. As die vuursteen weier, moet jy dit met ’n ander ruil en dit vat tyd. Met ’n doppieslot slaan jy net die slagdoppie af en sit ’n ander op. ’n Gekweste buffelkoei het my eenmaal amper groot ergernis besôre. Dit het die vorige nag gereën en ek het haar vroegoggen­d gekwes. Sy het in ’n ruie boskol naby ’n dieperige waterpoel loop wegkruip en toe ek haar kry en wou skiet, het die geweer geweier. Vir vuursteen ruil was daar nie tyd nie, ek moes grondskop water toe. Ons het albei in die poel beland waar sy my wou gaffel. Gelukkig was sy swaar gekwes en kon ek haar kop onder die water hou. Maar nie vir lank nie. Sy’t losgeruk en gelukkig koers gekies en so het ek oorleef. My geweer wat ook in die water beland het, was toe van geen nut meer vir die terugtog na die waens toe nie.

Daarna het ek altyd gewere in koppels (pare) gedra. As jy ’n geweerdrae­r het, dra hy die een. Skiet jy ’n skoot, ruil jy dit gou terwyl die geweerdrae­r jou ander roer laai.”

“Wat van kruit en lood?” wou ek weet.

“Dié kry ons van transportr­yers en op die trekpad maak ons ander planne om lood te spaar. Soms vat ons ronde klippies en gooi dit in die gietblokki­es, dan smelt ons die lood rondom dit. Ons meng ook lood met tin. Baie eetgerei is van tin gemaak en so ook nagviole. As ’n jaggeselsk­ap by jou oorstaan, moet jy maar jou nagviool goed oppas anders is jy dit kwyt as hulle weer aanbeweeg.”

Ek het nie geweet wat ’n nagviool is nie en op my vraag het oom Paul half ongeduldig geantwoord: “Kamerpotte man, waarin jy jou blaas leegmaak. Gebruik jy nie een nie?”

Voordat ek kan antwoord gaan hy voort. “Hierdie klip- en tinkoeëls was ligter en is net op gewone wild gebruik. Ons het hulle in gekleurde lappies toegedraai om hulle te merk. Jy moet natuurlik jou geweer se skoot leer ken met die verskillen­de koeëls. Vir lol met die visier is daar nie tyd nie, jy vat maar knap of hoog na gelang van die tipe koeël of afstand.”

“Maar wag, ek raak nou baster moeg gepraat. Maak koffie en vra vir Jan jou vrae. Hy het baie avonture in Betsjoeana­land beleef waaroor hy kan storie.”

Terwyl ek afkyk, ’n paar kareestomp­ies op die vuur sit en die ketel dieper die vlamme indruk, laat ’n skielike koue windvlagie my ril. Ek kyk vinnig op... en trek my asem in van skrik. Jan Robbertse is weg en op die veldstoel sit daar nou die ineengedok­e figuur van die bejaarde ou president van die ZAR. Oor sy skoot lê daar ’n Mauser.

Dis al asof ek ’n groot eensaamhei­d in hom kan aanvoel. Terwyl hy in die kole staar begin hy moeisaam praat. “Bly op die spoor van die waarheid Neef en onthou wie die waarheid verloor, erf verdriet.” Hy hou die Mauser na my toe uit, sy stem is skielik sterker. “Skiet raak... want dwaalkoeël­s land dikwels waar dit die seerste maak.”

Ek leun vorentoe om die geweer te vat, maar die ou president is skielik nie meer daar nie...

Rondom my was net die Karoonag met sy miljoene helder sterre. Die gebeure rondom die vuur was só werklik dat ek nie kan glo dit was net ’n droom nie. Maar daar was geen ander siel nie... net ’n hopie dowwe kole en my Mauser oor my skoot.

 ??  ?? Hierdie storie het 17 jaar gelede in MAGNUM verskyn. Koos het dit effens aangepas vir SA JAGTER/HUNTER. Koos se beloofde opvolgarti­kel oor die .44 Magnum staan weens onvoorsien­e omstandigh­ede oor tot die volgende uitgawe.
Hierdie storie het 17 jaar gelede in MAGNUM verskyn. Koos het dit effens aangepas vir SA JAGTER/HUNTER. Koos se beloofde opvolgarti­kel oor die .44 Magnum staan weens onvoorsien­e omstandigh­ede oor tot die volgende uitgawe.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa