SA Jagter Hunter

Dooierus – ’n Lang lang dag

- Deur HERMAN JONKER

Die langste dag van die jaar, sê hulle, is 21 Desember. Dis die dag wanneer die son by sy suidelike keerpunt, die Steenboksk­eerkring daar anderkant Steenbokpa­n, kom draai voor hy weer sy neus noord druk en gas gee om betyds vir Ramadan in Abu Dhabi te wees.

Dit is inderdaad so dat die 21ste Desember ’n lang dag is. So skuins voor Kersfees skyn die son mos al soggens halfses by jou tent in en dan sak hy eers agtuur die aand agter die weskus se branders.

Dat dit ’n pynlike lang dag raak as die vorige aand se vuur eers na sononder aangesteek is en daar met oorgawe by die kreefpot gewaak is tot skuins voor dagbreek, het ek ook al geleer. En dat dit ’n nóg langer dag kan raak as jy êrens voor ’n rak vol speelgoed vasgedruk staan met jou trollie vol krismiskal­koen en ballonne terwyl Jingle Bells deur jou skedel weergalm, weet ek ook.

Maar dat dit die langste dag van die jaar is, is eenvoudig nie waar nie. Nie eers naasteby nie. Om die waarheid te sê die langste dag van die jaar val nie eens in die somer nie. Dis gewoonlik in die winter êrens, hier in Junie of Julie rond. Want die langste dag van die jaar – en ek is seker daar’s baie manne wat dit weet – is die Maandag na ’n jag.

Kyk, ’n Maandag is klaar ’n lang dag. Dis loshande die langste dag van die week. Maar die Maandag ná ’n jagvakansi­e, daardie eerste dag terug by die werk na ’n salige week of wat in die veld, duur ’n ewigheid. Op só ’n Maandag voel dit of die aarde bêriengs geslaan het en vasgesteek het op sy as, keerkringe ten spyt.

Daardie oggend kruip die horlosie soos ’n ou rumatieksk­ilpad wat bult-uit sukkel. Elke keer as jy kyk, staan hy maar nog steeds min of meer daar waar hy was. Teen tienuur is dit nog steeds kwart voor nege.

Die tyd sloer en binne in jou kriewel dit want behalwe vir werk, gaan daar by die kantoor niks aan nie. Die hele plek voel ook sommer nie reg nie. Hier’s nie eens vensters waardeur ’n mens kan buitentoe kyk nie, net kunsmatige lig en lugreëling. En behalwe vir die sekuriteit­swag se foon wat soos ’n hoenderhaa­n lui, hoor jy geen natuurlike geluid nie, nie eens ’n ou vinkie of die gezoem van ’n brommer nie.

Teen elfuur bel jy jou jagmaat. Miskien sal sy geselskap jou ’n bietjie opbeur.

Hy sug. “Ons het ’n baie groot fout gemaak om terug te kom,” sê hy. “Ek weet nie of ek dit gaan maak deur hierdie dag nie.”

Terwyl die Maandag so teen ’n slakkepas voortpoer-poer leer jy darem ’n paar dinge.

Jy leer dat ’n strepieshe­mp se kraag nie so lekker om ’n mens se nek sit soos ’n camo- hemp s’n nie. Jy leer dat koffie wat uit ’n ketel oor ’n oop vuur kom, lekkerder smaak as elektriese koffie. En jy leer ook, tot jou groot frustrasie, dat jou kollegas – almal behalwe daai spykerkuif in admin wat sê sy eet in elk geval niks wat ’n geluid maak nie – elke goeie jagstorie kelder met “so wanneer bring jy vir ons biltong?”

Nie dat die dinge wat jy leer só ’n Maandag gouer laat verbygaan nie. Inteendeel. Daai horlosie teen die muur se wyser loop en draal soos ’n bang hond op ’n leeuspoor. Dit voel of jy vasgevang is, nie net in ’n onaardse plek saam met verwyderde wesens nie, maar in ’n heel vreemde tydsbestel.

Jou baas het egter duidelik nie dieselfde probleem nie. Hy kies hierdie Maandag om jou in te roep en met mening uit te trap – seker oor hy gatvol gesukkel is terwyl jy weg was.

Jy sit en luister hoe hy tier en skel en dreig, die arme gestresde vent. Jy bekyk hom, so met sy bleek hande en bewende brilletjie. So iets sou darem erg onvanpas gewees het in die veld, dink jy. Stel jou voor; sulke onsmaaklik­e gedrag êrens onder ’n kremetart of iewers teen ’n rantjie waar twee jagters gesels. Ondenkbaar, so ’n verbreking van spangees en respek...

Jy kyk na die horlosie en probeer om nie te sug nie. Die sekondewys­er sit en wik soos ’n biddende hottentots­got.

Uiteindeli­k – na eeue – breek middagete aan en jy glip gou weg wapenwinke­l toe, net om ’n slag tussen mense te kom wat verstaan.

Jy voel sommer klaar beter wanneer jy daar instap. Voor die ammunisiet­oonbank staan drie mans en gesels. Ook pas terug van ’n jag af – hulle praat oor hulle skote. Jy luister hulle stories en begin vertel van jou koedoejag, van die bul wat gelyk het of hy gaan stop en dwars draai, maar toe glip hy agter ’n hardekool in en toe vat dit jou drie ure op sy spoor voor jy hom weer onder skoot kry, en toe...

O blikbeker, sien jy skielik, middagete is lankal verby! Jy’s al amper ’n uur laat!! Jy hardloop uit kar toe en haas jou deur die verkeer. Jou baas gaan ’n ystervark baar, jy weet dit sommer. Hy’t jou mos al klaar ’n waarskuwin­g gegee vanoggend. Ontslag, besef jy met ’n skok, is nou ’n wesenlike moontlikhe­id.

Jy toet ongeduldig vir ’n taxi wat dubbel geparkeer staan. Jy verstaan dit nie. Hoe het dit gebeur dat die tyd so vinnig verbygegaa­n het?!

O blikbeker, sien jy skielik, middagete is lankal verby! Jy’s al amper ’n uur laat!! Jy hardloop uit kar toe en haas jou deur die verkeer. Jou baas gaan ’n ystervark baar, jy weet dit sommer.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa