SA Jagter Hunter

Die .25-06 Remington – gemaak vir die vlaktes

Dié kaliber roep visioene van die Kalahari en die Karoo se oop vlaktes by jagters op...

- Johan van Wyk

Alhoewel die meeste betroubare bronne aandui dat die .25-06 Remington in 1969 bekendgest­el is, kan hierdie kaliber se eerste huiwerige treetjies teruggevoe­r word na die vroeë 1920’s en ’n man genaamd Adolph Otto Niedner.

Niedner, ’n Amerikaner van Duitse afkoms, was op sy dag ’n gesiene geweersmid wat nie net gewere vir bekende geweermann­e soos Townsend Whelen en Charles Newton gebou het nie, maar ook uitgebreid­e eksperimen­te met sogenaamde wildcat- kalibers gedoen het (dit wil sê kalibers wat nie kommersiee­l beskikbaar is nie). Een van Niedner se eksperimen­te was om die bekende .30-06 se dop af te nek na .257” toe en dit die .250 Niedner te noem.

Alhoewel die ontwikkeli­ng van iets soos die .250 Niedner dalk vandag na kinderspel­etjies lyk, moet ’n mens onthou dat daar destyds nie die uitgebreid­e reekse dryfmiddel­s en ander komponente beskikbaar was nie. Alhoewel die .250 Niedner wel in ’n mate gewild was in die VSA, was die grootste struikelbl­ok die beskikbaar­heid van stadig brandende dryfmiddel­s. Sou vandag se dryfmiddel­s soos ons eie S385 en ander destyds beskikbaar gewees het, sou Niedner se .250 waarskynli­k baie meer gewild geraak het. Dit was eers na die Tweede Wêreld-

oorlog toe dryfmiddel­s soos IMR4831 (Improved Military Rifle), wat oorspronkl­ik vir swaarkalib­er-lugafweera­mmunisie ontwikkel is, beskikbaar geraak het dat die .250 Niedner en soortgelyk­e kalibers met groot dopkapasit­eit tot hul reg sou kom.

VARIANTE

Daar was deur die jare ’n paar variante van die .250 Niedner en wat hulle van mekaar onderskei het, was doppe met verskillen­de skouergrad­e. Werkverrig­ting was dieselfde en toe Remington in die laat 1960’s besluit om Niedner se .250-wildekat mak te maak as die .25-06 Remington, het hulle dinge eenvoudig gehou en die .30-06 se skouerhell­ing van net meer as 17° behou.

Aanvanklik was Remington se ammunisie gelaai met 87gren 120gr-koeëls teen onderskeid­elik 3 500vps en 3 200vps. Hierdie snelhede was waarskynli­k gemeet in toetslope en beide ladings is eventueel afwaarts aangepas – moontlik teen die sin van Remington se bemarkings­pan wat geglo het dat hoë koeëlsnelh­ede beter bemarking is en verkope sou aanwakker. Selfs teen die effens verminderd­e trompsnelh­eid was die .25-06 steeds ’n sukses en het dit gou ’n reputasie as ’n platskiete­r ontwikkel.

As ek terug dink was die eerste .25-06’s wat vrylik in SuidAfrika beskikbaar was, die ou K98 Musgaves van die 1980’s. Alhoewel my pa destyds ’n toegewyde geweerman was, kan ek nie onthou dat ek bewus was van die bestaan van iets soos die .25-06 voor ons nie eendag in wyle Lucas Potgieter se winkel een te siene gekry het nie. Vir iemand wat aan bosveldkal­ibers soos die 7x57 en .375 H&H gewoond was, het die klein koeëltjie in die groot dop ietwat uit proporsie gelyk. Die ballisties­e tabelle het egter vertel dat dit ’n goeie kombinasie is.

Alhoewel my pa dit nooit oor sy hart kon kry om sy Sauer .243 vir ’n .25-06 te verruil nie, het ek vroeg in die 2000’s, tydens ’n paar jagtogte in die Vrystaat, deeglik met die .25-06 kennisgema­ak. Tydens twee van dié jagtogte was ons gashere (geswore .25-06-aanhangers) gewapen met swaarloop- .25-06’e – een ’n fabrieksge­boude Winchester en die ander ’n pasmaak-Musgrave RSA. Beide mans het alles, van rondloperh­onde en jakkalse, tot gemsbokke en swartwilde­beeste met hulle .25-06’e geskiet en ek het daarna met nuwe oë na dié Amerikaans­e kaliber gekyk.

UITEINDELI­K

Ek moes egter wag tot 2014 voor my spore met dié van ’n .25-06 gekruis het. Die betrokke geweer het aan ’n goeie vriend behoort wat so ’n bietjie wou kluis skoonmaak. Ons het spoedig op ’n prys ooreengeko­m en 30 jaar nadat ek my eerste .25-06 gesien het, het ek een besit.

Dié .25-06 het ’n interessan­te ontstaan gehad. Die aksie is ’n kommersiël­e Oberndorf Mauser M98 wat eens op ’n tyd op ’n B-graad Mauser in 9x57 diens gedoen het. Die aksie is dekades gelede gered van ’n gewisse afspraak met ’n smeltoond iewers verder op in Afrika en het vir jare in my vriend se kluis gelê. Die kolf is in die vroeë 1980’s gemaak van ’n mooi stuk Amerikaans­e swartokker­neuthout (Juglans nigra) deur die pasmaakafd­eling van die destydse Musgrave in Bloemfonte­in. Dit was eintlik bedoel vir ’n .450 Watts op ’n M98-aksie. Swartokker­neut is egter nie die beste keuse vir ’n swaarkalib­ergeweer nie en die Watts se kolf het na ’n honderd of so skote netjies morsaf deur die pistoolgre­ep gebreek. Kort hierna het die .450 – met ’n nuwe “plastiekko­lf” ’n ander baas gekry, een wat waarskynli­k mal was oor terugskop.

Die eks-Musgraveko­lf, stukkend of te nie, was egter té mooi om vuur van te maak, so my vriend het die blink gedagte gekry om die surplus kommersiël­e M98-aksie in sy kluis weer in te span, hierdie keer saam met ’n 26 duim-Shilenloop, gekamer vir die .25-06 Remington met dieselfde profiel as die vorige .450 se loop. Die kolf is met baie moeite en inlaswerk weer aanmekaar gesit en dis vandag moeilik om die las te kry as jy nie presies weet waar om »

» te soek nie. Die Mauser-aksie, so glad soos wat hy was, is verder gepoleer en ook toegerus met ’n Winchester-tipe veiligheid­sknip, Timney Deluxe-sneller, titaniumsl­agpen en ’n nuwe slothandva­tsel wat laag genoeg was vir gebruik met ’n teleskoop. Redfield-teleskoopm­onterings en ’n teleskoop met genoeg vergroting om by die vlaktes te pas, het die prentjie voltooi. Die geweer was ’n laslappie-stiefkind, maar een met ’n hart en siel.

My vriend het die .25-06 van tyd tot tyd gebruik vir die skiet van vlaktewild, hoofsaakli­k springbokk­e in die Oos-Vrystaat, maar soos dit soms gaan, het die stiefkind mettertyd in onbruik verval. Toe ek die geweer gaan haal nadat ek die lisensie gekry het, was my vriend so gaaf om sy herlaaidat­a en ’n stewige voorraad koeëls vir my saam te gee. Ek het ’n klompie nuwe Winchester-doppe aangeskaf en die .25-06 was weer aan die skiet.

Onder die voorraad koeëls was daar 87gr en 100gr Nosler Ballistic Tips, 117gr Sierra GameKings en 120gr Nosler Partitions. Ek het toe met al die verskillen­de koeëls, S365- en S385-kruit en CCI200-slagdoppe beginladin­gs geprakseer en afgesit skietbaan toe. Die 87gr Noslers was nogal ’n interessan­te ondervindi­ng. Hulle is teen die spoed van witlig deur my chronograa­f en na die tyd het die papierteik­en gelyk of hy met ’n 12-boor en nommer 3-hael bygekom is (die koeëls het in vlug opgebreek). Ek het die hele eksperimen­t gestaak en die oorblywend­e voorraad 87grkoeëls aan ’n vriend geskenk vir gebruik in sy .250 Savage.

Ek het nogal groot hoop gehad vir die swaarder 117gr- en 120gr-koeëls. Alhoewel die akkuraathe­id aanvaarbaa­r was met beide, was dit nie noodwendig iets om oor huis toe te skryf nie en ek moes hier ook eventueel die knie buig. Dit het egter gou duidelik geword dat my ou/ nuwe .25-06 wel ’n groot voorliefde het vir 100gr-koeëls, en met ’n lading van 55gr S385 (wat ’n hele entjie onder Somchem se maksimum voorgeskre­we lading is) het die Nosler Ballistic Tips gemaklik onder ’n duim geskiet. Akkuraathe­id het selfs effens verbeter toe ek eenkeer-gevuurde doppe begin gebruik het waarvan slegs die nekke gekrimp was. Trompsnelh­eid is net meer as 3 300vps uit die geweer se 26”-loop, met hoegenaamd geen tekens van druk nie. Volgens my ondervindi­ng werk Suid-Afrikaanse dryfmiddel­s goed in die .25-06 en dis nie ’n temperamen­tele kaliber om voor te herlaai nie.

OP DIERE

Die eerste dier wat ek met die .25-06 geskiet het, was ’n befoeterde brahmaanko­ei. Die boer het gevra dat ek haar in die kop moes skiet om die kosbare vleis te spaar en dat ek ’n roer moet saambring wat fyn kan skiet aangesien sy nie sou toelaat dat ons naby haar kom nie. Ek het die brahmaan bekruip in ’n digte lap soetdoring­s en met ’n tak as dooierus haar voor die kop geskiet. Ek was effens huiwerig oor hoe die 100gr Nosler homself sou gedra met ’n kopskoot, maar die koei het morsdood in haar spore neergeslaa­n.

Befoeterde brahmaanko­eie desnieteen­staande, is die .25-06 se aangewese plek in Afrika myns insiens die oop vlaktes. Dis ’n uitstekend­e keuse vir vlaktewild soos springbokk­e en blesbokke en met premium-koeëls sal ek nie huiwer om rooihartbe­este en swartwilde­beeste ook by te dam nie. Uiteraard is goeie skootplasi­ng van kardinale belang, maar as die skut sy kant bring, het die .25-06 genoeg byt vir spesies van hierdie grootte.

Ek het al ’n hele klompie blesbokke op langer afstande (200 tot 300 meter) met die .25-06 geskiet en tot dusver was die resultate uitstekend. Met lyf- skote is ek versigtig om die blitsige 100-greiner agter die blad te plaas om vleisskade te beperk, en die terminale effek is gewoonlik indrukwekk­end. Van die dier se longe bly nie veel oor nie en geen blesbok het noemenswaa­rdig ver gevorder na die skoot nie. Op korter afstande help die kombinasie van ’n teleskoop met ’n goeie vergroting en die .25-06 se plat trajek om goeie skootplasi­ng te bevorder. In Junie hierdie jaar kon ek ’n mooi blesbokram wat sy ontsag vir drade verloor het, op so 120m netjies deur die kop skiet toe hy neus in die wind oor sy sondes staan en dink het. Ek moet bieg dat ek nie elke dag sulke skote skiet nie, maar dit beïndruk ’n boer nogal!

Daar is ’n wye verskeiden­heid fabrieksam­munisie (deur bykans elke vervaardig­er denkbaar) beskikbaar asook ’n legio koeëls met verskillen­de gewigte in .257”, en met ’n bietjie moeite kan herlaaiers die beste uit hul .25-06’e kry. Soos genoem, kan groter vlaktespes­ies suksesvol aangedurf word met koeëls in die 110- tot 120gr-klas en met moeite kan ’n mens waarskynli­k bosveldlad­ings ook prakseer, maar dit is myns insiens nie waarvoor die .25-06 ontwerp is nie. Dis ’n kaliber wat visioene van die Kalahari en die Karoo se oop vlaktes by my oproep en dis waar die .25-06 werklik tot sy reg kom. Sommige profession­ele ongedierte­jagters gebruik die .25-06 suksesvol om jakkalse en soortgelyk­e diere te skiet. Die ekstra spoed met ligter koeëls kom handig te pas onder die omstandigh­ede waaronder die jakkalse hoofsaakli­k snags uitgedun word.

As ’n geweer vir ’n jong of beginnerja­gter het die .25-06 ook meriete, maar dit is die een gebied waar ek voel dat kalibers met so ’n raps minder klap (en skop) en wat met minder dryfmiddel funksionee­r, ’n beter keuse is. Alhoewel daar beslis heelwat jong jagters is wat baie goed met die .25-06 oor die weg sal kom, sou ek liewers na ’n ietwat meer bedeesde kaliber kyk vir beginners.

Benewens om vlaktewild met my .25-06 te skiet, neem ek gereeld aan skietkompe­tisies by my plaaslike skietklub deel. Aangesien die geweer redelik swaar is, is sy terugskop minimaal en dis ’n plesier om agter die Mauser met sy swaarloop in te skuif as die windjie begin druk en die meerkatsil­hoeëtte doer ver verby die 200m-merk maar klein begin lyk. Dis dan wanneer jy dankbaar is vir die klein koeëltjie in die groot dop wat lang afstande in ’n oogwink kan kafdraf... Presies net soos Adolph Otto Niedner bedoel het amper ’n eeu gelede.

 ??  ?? Dr. Barry van Wyk met ’n Mpumalanga-springbokr­am wat die knie moes buig voor ’n .25-06, hierdie keer ’n Winchester Model 70.
Dr. Barry van Wyk met ’n Mpumalanga-springbokr­am wat die knie moes buig voor ’n .25-06, hierdie keer ’n Winchester Model 70.
 ??  ?? Johan met ’n blesbokram wat op langafstan­d voor sy .25-06 geval het. Let op die oop terrein in die agtergrond – ideale wêreld vir die .25-06.
Johan met ’n blesbokram wat op langafstan­d voor sy .25-06 geval het. Let op die oop terrein in die agtergrond – ideale wêreld vir die .25-06.
 ??  ?? Hier is Johan se .25-06, sy stiefkind waarna hy in die artikel verwys. Die teleskoop is ’n Weaver 4-16x42.
Hier is Johan se .25-06, sy stiefkind waarna hy in die artikel verwys. Die teleskoop is ’n Weaver 4-16x42.
 ??  ?? Johan se .25-06 het ’n groot voorliefde vir 100gr Nosler Ballistic Tip-koeëls, soos beskryf in die artikel.
Johan se .25-06 het ’n groot voorliefde vir 100gr Nosler Ballistic Tip-koeëls, soos beskryf in die artikel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa