SA Jagter Hunter

Onthoudae op Zaagkuilsd­rif

In die jagveld het ek baie van my lewe se mooiste hoofstukke geskryf...

- Lucas Strachan

Ek glo dat elke mens sy eie geskiedeni­s skryf. In sommige lewenshoof­stukke het ’n mens geen sê nie, maar in andere wel tot ’n mate. Noudat ek nie meer so jonk is nie, dink ek soms terug aan die goeie hoofstukke, en die jaggeleent­hede wat ek gehad het, is vir seker van my spesiaalst­e hoofstukke.

My storie begin in die vroeë 1970’s. Ek was ’n rekenaaron­tleder en -programmee­rder vir ’n versekerin­gsmaatskap­py in Johannesbu­rg en het in Hillbrow gewoon. My pa het bevriend geraak met oom Moolie en tannie Lulu Moolman, ouers van Louis Moolman die voormalige Springbok-rugbyspele­r. Die Moolmans het die plaas Zaagkuilsd­rif besit, wat geleë was naby die Pienaarsri­vier aan die linkerkant van die treinspoor as jy vanaf Pretoria na die noorde sou reis.

Sover my kennis strek, was die plaas op daardie stadium reeds al geslagte lank in die familie se besit. Dit was ’n oop plaas met trekwild. Elke jaar is daar kamp opgeslaan om gereed te wees vir die 1ste Mei, die begin van die jagseisoen. Die Moolmans het dan vir drie maande voltyds op die plaas gewoon. Alfred, een melkkoei en ’n paar hoenders het onder andere saamgegaan. Alfred was die kok wat oor die 30 jaar vir die familie gewerk het.

Die eettent, plek-plek gelap, was blykbaar vir 90 jaar al deur die geslagte heen gebruik. Daar is ook tente opgerig vir oom Moolie-hulle en twee met enkelbedde­ns vir genooide gaste. Beesmis en modder is gemeng om die kamp se “vloer” mee uit te voer en stof te beperk. Die

kamp was omring met dekgras wat ’n 12 duim-muur gevorm het. ’n Spoeltoile­t, badkamer met donkie vir warm water en ’n klipkamer as stoorplek was permanente geboue, so ook die lapa wat gedien het as kombuis.

Daar is op uitnodigin­g gejag. Vir my het die jagervarin­g begin die oomblik wanneer ons by die kamp stop, die motor se deur oopmaak en ’n mens die reuk van die Bosveld en die sekelbosvu­ur in die lapa ruik. Daardie eerste aand voor slapenstyd sou ons eers ’n ent gaan stap om na die sterre te kyk – ’n asemrowend­e gesig. Die nagatmosfe­er is aangehelp deur jakkalse wat saans so om en by sewe-uur mekaar begin groet. Soms het rooibokram­me met hulle bekende gebrul dit nóg beter gemaak.

Alfred het leë paraffienb­likke as bosveldver­warmers gebruik. Die bokant van die blik was oop en halfpad met grond gevul. Die boonste gedeelte het ook gate in gehad en was gevul met warm kole. Dit is saans in elke tent geplaas om hitte te verskaf. Toegevou onder ’n deken, wat van rooibokvel­le gemaak is, het jy dan nie die winterkoue in die tente gevoel nie.

MY EERSTE JAGLES

Oom Moolie het gesê dat ek teen vyfuur die oggend in die lapa moet wees. Toe ek die oggend daar opdaag, was Alfred reeds reg met die koffie en ’n lekker vuur vir hitte. Oom Moolie was ook daar en het in sy stoel gesit en koffie drink. Hy noem toe aan my dat hy my na ’n kamp gaan neem waar ek kon jag en dat hy my om tienuur weer by die aflaaipunt sou kom oplaai want, het hy gesê, dan gaan sy rooibokke vir eers rus en ons moes terug kamp toe vir brunch. Drie-uur die middag sou ons weer veld toe om te jag tot halfses. Nagjag was taboe. Hierdie jagreëls het later ook myne geword.

Tydens my eerste jaggeleent­heid op die plaas het ’n plaaswerke­r my as gids vergesel. Die man was ongeveer 5’5” en ek is 6’6” in die ou taal. Hy het effens gebukkend voor my in die wildspaadj­ie uitgestap so tussen die haak-en-steekbosse deur. Elke nou en dan het hy my verseker die rooibokke is “net hier voor, ons sal hulle nou sien”. Wel, ek het met die haak-en-steek gestoei soos nog nooit tevore nie en die rooibokke was skynbaar net buite bereik.

Ons het by ’n lyndraad gekom. Daar was ’n pad langs die draad wat vreeslik verspoel was, met diep erosieslot­e. Terwyl ons langs die pad onder ’n boom staan en rus, het ek deur die teleskoop langs die draad af gekyk en skielik die horings van ’n koedoe gesien – so asof dit tussen die lang gras geplant is. My eerste gedagte was dat dit ou horings is wat iemand daar staangemaa­k het, maar so vinnig soos wat ’n mens “knipmes” kon sê, spring ’n hengse koedoebul op en verdwyn in die omliggende bos. Ek dink hy was moontlik vas aan die slaap voordat hy ons gewaar het.

My gids se verduideli­king vir hierdie voorval was egter die volgende: “Jy sien, daardie koetoe (dis hoe hy die woord “koe- doe” uitgespree­k het) het die wurm by die kop. Nou die koetoe slaap, maar die wurm kyk rond en hy sien ons. Nou hy sê vir die koetoe jy moet nie omkyk nie, maar as ek sê, dan spring jy op en hardloop.” So het ek my eerste koedoe gemis as gevolg van ’n “kopwurm”.

VROEG IN DIE VELD

Die plaas was plat en die drinkplekk­e was slegs in die kampe waar daar beeste gehou is. Wanneer die son soggens sy kop netnet begin uitsteek, is daar mos altyd ’n baie besonderse atmos-»

» feer in die veld. Soms het ’n ligte windjie opgestaan en vir ’n paar minute sou dit só koud wees dat ek amper nie aan my Brno .30-06 se metaalgede­elte kon raak nie, want dit het gevoel asof ek vriesbrand gaan opdoen.

Om hier te jag, moes ek leer om met my ore te “sien” en stadig, al luisterend te loop terwyl ek rondkyk vir wild. Ek moes ook kort-kort op my hurke sit en onderdeur die bome kyk. Die stilte was letterlik hoorbaar en die natuur het my soos altyd gefassinee­r. Eendag was hulle toevallig besig om water te pomp en ek kon die bekende geluid van die Lister-enjin dui- delik hoor vanwaar ek ongeveer 500m weg was. Ek raak toe bewus daarvan dat ek een oomblik die pomp nog duidelik kan hoor en dan vir ’n paar minute lank niks. Dit het my laat besef dat die wind gedurig opkom en gaan lê en klank baie ver kan dra. Ek moes gevolglik die hele tyd die windrigtin­g dophou. Dit het die uitdaging om hier te jag groter gemaak. Verder was die veld so ruig dat indien jy ’n bok sou skiet, duidelike merkers gelaat moes word tot by die naaste pad anders kry jy nie weer jou bok nie.

Saans terug by die kamp het ons met drankies gekuier tot ons by die vuur in die lapa sou eet. Ná ete was dit koffietyd wat die dag afgesluit het.

Sondae het almal op die plaas om nege-uur in die eettent byeengekom om saam na die erediens op die Afrikaanse radiostasi­e te luister. Vir middagete was rooibokbou­d met vars groente gewoonlik op die spyskaart en moenie nagereg vergeet nie. Almal het dan saam in die eettent geëet, waarna dit tyd was om ’n uiltjie te knip voor die langpad terug huis toe aangepak is.

Ek het die voorreg gehad om meer as ’n dekade lank daar te kon jag. Alhoewel oom Moolie en tannie Lulu later nie meer met ons was nie, het hul seun Danie en sy vrou Gerda my toe- gelaat om nog daar te jag. Die plaas is egter later verkoop. Hierdie mense het my lewe geraak en dit vir my en my vrou moontlik gemaak om hoofstukke in ons lewensgesk­iedenis te skryf wat onvergeetl­ik is. Ek noem dit ons “genadetye”. Baie, baie dankie.

LAASTENS

Oom Moolie het ook ’n goeie sin vir humor gehad. So vertel hy hoe hy en ’n werker eendag krippe skoonmaak toe ’n by in die water val. Hy vra toe die man om die “vlieg” met sy hand uit die water te skep, waarop dié hom antwoord: “Aikôna, daai vlieg byt met sy gat. Ek sal eerder die graaf gebruik”.

 ??  ?? Dit is waar die biltong gedroog is.
Dit is waar die biltong gedroog is.
 ??  ?? Links is die eienaarste­nt en regs die eettent. Misvloere het gesorg dat ons kampplek stofvry bly.
Links is die eienaarste­nt en regs die eettent. Misvloere het gesorg dat ons kampplek stofvry bly.
 ??  ?? Die vleis is sommer daar op die plaas bewerk.
Die vleis is sommer daar op die plaas bewerk.
 ??  ?? Sonsonderg­ang op Zaagkuilsd­rif.
Sonsonderg­ang op Zaagkuilsd­rif.
 ??  ?? Lucas by sy rooibok, veertig jaar gelede op Zaagkuilsd­rif.
Lucas by sy rooibok, veertig jaar gelede op Zaagkuilsd­rif.
 ??  ?? Op pad huis toe.
Op pad huis toe.
 ??  ?? Tannie Lulu (links). Hier word gekook en gekuier.
Tannie Lulu (links). Hier word gekook en gekuier.
 ??  ?? Alfred (links) en Oom Moolman op sy stoel in die lapa.
Alfred (links) en Oom Moolman op sy stoel in die lapa.
 ??  ?? Die “opstal” uit die lug. Om groente vars te hou is dit herplant en nat gehou. Die pyltjie wys ons “groentetui­n”.
Die “opstal” uit die lug. Om groente vars te hou is dit herplant en nat gehou. Die pyltjie wys ons “groentetui­n”.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa