Veld toe met die .44 Magnum
Veldtoetse het bewys dat ligter koeëls en ligter ladings in die .44 Magnum dodelik op wild kan wees.
Waar ek met my rug teen ’n soetdoringboom gestut gesit het, het die winter se laaste stuiptrekkings erg aan my ore, neus en hande begin knaag. Dit was ’n koue middag op Snymanshof, Piet Snyman se stukkie wildparadys.
Die son was basies reeds onder en die skemer se vaalte het saam met die koue luggie oor die veld neergedaal. Nog vyf minute, dan roep ek halt, het ek besluit. Maar skaars ’n minuut later het die waterbokke asof uit die niet verskyn. Hulle was so 60m weg, maar op pad om reg voor my verby te beweeg.
Ek het die Ruger Super Blackhawk so saggies as moontlik oorgehaal en met die loop op my rewolwerrus gestut, gewag. Die waterbokke het stadig nader gekom maar effens na regs beweeg. Om hulle onder skoot te hou, moes ek ’n bietjie verskuif en my baadjie het ’n ligte skuurgeluid teen die soetdoring se stam gemaak. Die koei wat voor gestap het, het die geluid
gehoor, geskrik en omgespring. Daar was ’n beroering onder die bokke, maar alhoewel hulle effens uitmekaar gespat het, het hulle nie weggehardloop nie.
’n Groot, jong koei het mooi oop gestaan en reguit in my rigting gekyk. Die Bushnell 2-6x32 se kruishaar het op haar bors tot stilstand gekom en toe druk ek die sneller. My Ruger het vuur gespuug en ek kon die trefslag van die 240gr-koeël hoor. Die waterbok het egter geen reaksie getoon nie, net omgedraai en saam met die res van die troppie weggehardloop. Toe hulle so 60m verder vassteek, was sy heel agter en het dadelik eenkant toe gesteier en neergeslaan. Ek het haar angstig dopgehou, maar sy het stil bly lê. Die Peregrine Hogkoeël het sy werk gedoen.
Ons sou later vasstel die skietafstand was 32m. Ek vertel nounou meer oor die waterbok en die Peregrine-koeël.
LIGTER LADINGS
In ’n vorige uitgawe het ek vertel van my .44 Magnum, ’n New Model Super Blackhawk-rewolwer met ’n 7½”-loop. Omdat my oë te swak is om die rewolwer met oop visiere te gebruik, het ek eers ’n Aimpoint- dotsight op die rewolwer gemonteer en hierdie jaar ’n 2-6x32 Bushnell-teleskoop.
Voor kragtiger rewolwerkalibers bekend gestel is, was die .44 Magnum die kragtigste een op die mark en die voorkeur-rewolwerkaliber vir baie handwapenjagters.
Soos baie weet, is die standaard-koeëlgewig vir die .44 Magnum 240gr en die fabriekspesifikasies daarvoor sowat 1 350vps tot 1 500vps uit rewolwers met lope van 6” en langer.
Handwapenjagters was gretig om groot wildsbokke, buffels en selfs olifante daarmee aan te durf. Gegote loodkoeëls, die sogenaamde hard cast, semi-wadcutters, was en is nog steeds gewild. Deur meer sink (tin) en antimoon by die lood te voeg, kan sulke koeëls taamlik hard gemaak word, wat verhoed dat hulle maklik vervorm in wild. Deesdae »
» verkies baie egter monometaalkoeëls van geel- of rooikoper.
Alhoewel die 240gr-koeël goed gewerk het vir die meeste boksoorte, is dit in sommige gevalle te lig gevind vir diere soos ons eland en natuurlik vir gevaarlike wild. Handwapenjagters het dus met hard-gegote 300- en 320gr-loodkoeëls begin eksperimenteer. Hierdie harde loodkoeëls wat voor stywe ladings kruit gelaai is, het die .44 Magnum se vermoëns verbeter en selfs buffels is met sulke lading/ koeëlkombinasies omgedop.
Swaar ladings eis egter gou hul tol op enige vuurwapen en dit was net rewolwers wat baie robuus gebou is, soos dié van Freedom Arms en Ruger (die Super Redhawk byvoorbeeld) wat ’n volgehoue dieet daarvan kon weerstaan. Breeknek-aksies soos die Thompson Contender val in ’n ander klas, ek praat hier spesifiek van rewolwers.
Ek is van nature konserwatief met ladings vir enige tipe vuurwapen. Maksimum ladings gebruik ek slegs by hoogste uitsondering. In die meeste gevalle is medium-ladings meer as voldoende om jou biltong aan die haak te kry of jou trofee teen die muur.
In die vorige artikel het ek die redes genoem hoekom ek aanvanklik ligte koeëls en meer gematigde ladings in my Super Blackhawk begin gebruik het. Behalwe vir die minder slytasie wat ligter ladings veroorsaak, het die teleskoopmonteerbasis wat Numenor vir my gemaak het, voorsiening gemaak vir net twee skroewe wat dit vashou op die raam. Hoë-lading/swaar-koeëlkombinasies laat die rewolwer meer skop en plaas veel groter spanning op die monteerskroewe.
Omdat ek meestal mediumgrootte bokke met die .44 sal skiet, is my uitgangspunt dat ligter koeëls teen 1 250vps tot 1 600vps meer as genoeg penetrasie behoort te verskaf.
Swaarder koeëls, wat langer neem om die loop te verlaat, veroorsaak meer loopwip en skiet veel hoër uit my rewolwer as die ligter koeëls en ek sukkel dus om hulle in te stel op 45m.
Ek was gelukkig om onlangs ’n doelgemaakte Leupold-basis vir Blackhawk-rewolwers van Formalito in Pretoria te bekom. Met hierdie monteerbasis en Leupold-ringe in plek (wat Danie Joubert van Pretoria vir my gemonteer het) kon ek koeëls van tot 240gr gemaklik instel op 45m.
Ek het egter besluit om vir gewone rooibokgrootte wild te standaardiseer op ligter koeëls. Ook omdat ek alreeds ’n groot hoeveelheid 200gr Hornady XTP’s en 200gr Noslers besit. Kobus du Plessis van Impala Bullets het ook vir my 100 van sy rewolwerkoeëls gegee om te toets. Dis ’n soliede semi-wadcutter van geelkoper wat slegs 160gr weeg.
Die Impalas het uit die staanspoor goed uit my Blackhawk gegroepeer en die terugskop daarmee is minimaal. Alhoewel ek goed bekend is met die penetrasievermoë van monometaalkoeëls in gewere, was ek tog skepties oor hoe goed so ’n ligte rewolwerkoeël sou presteer.
PENETRASIETOETSE
Om die platneus-Impala se penetrasievermoë te toets, het ek ’n sogenaamde wetpack voorberei (pakke tydskrifte wat oornag in water geweek en daarna saamgepers is). Ek het die Impalas en vier ander koeëls toe op 25m in die wetpack geskiet om die penetrasie te vergelyk. Die ander was ’n 225gr Hornady Leverevolution-koeël, PMP se 240-greiner en twee van Peregrine se Hog-koeëls wat 180gr en 240gr weeg. Eintlik het ek die 180gr Hog eers later ontvang en dit toe apart getoets.
Uit vorige jagondervindings weet ek dat 200-greiners teen 1 250vps genoeg slaankrag het vir rooibokgrootte wild tot op 75m en daarom was die ladings wat ek in my huidige Blackhawk gelaai het vir die penetrasietoetse ook redelik konserwatief.
Al die koeëls behalwe die skerppunt-Hornady van 225gr lewer goeie jagakkuraatheid uit my rewolwer.
Ek het met die 160gr-Impala begin. Gelaai voor 12.5gr MP200 was drie koeëls se gemiddelde snelheid 1 465vps. Die Impala het 26.3cm in die nat boeke gepenetreer en nodeloos om te
sê, die koeël het sy vorm behou en ook 100% van sy gewig. Die “wondkanaal” deur die wetpack was deurgaans net groter as die kalibergrootte, maar die Impala het vir die laaste sowat 7cm deur die boeke getuimel.
Peregrine se 240gr Hog wat spesifiek ontwerp is vir hefboomaksiegewere (lever-actions) was volgende. Alliwyn Oberholster van Peregrine het genoem dat dié koeël nie teen lae rewolwersnelhede gaan omklink nie. Hierdie mean looking koeël (soos die Engelse sal sê) het ’n snelheid van 1 144vps voor 19.5gr S265-kruit gegee.
My verbasing was groot toe dié lang monometaalkoeël wél oopmaak (sien foto). Die vier insnydings in die koeëlpunt het die Hog mooi laat blom en die “blare” het teen ’n hoek van sowat 90° in verhouding met die koeëlskag oopgevou. Soos te verwagte, het dit ’n baie groot “wondkanaal” deur die boeke gemaak. Hierdie vergrote frontale area van die koeël veroorsaak meer weerstand en daarom het die Hog net 14.8cm diep gepenetreer. Teen hoër impaksnelhede sal die koeël meer omklink en dus dieper penetreer. Ook die Hog het 100% van sy gewig behou.
Ek het later die 180gr Hog in ’n wetpack geskiet en gelaai voor 12.5gr MP200. Toe was die snelheid 1 297vps. Penetrasie was 13.9cm en die koeël het ook sy gewig 100% behou. Met 11.8gr MP200 het die trompsnelheid verlaag na 1 221vps, maar ek het nie die Hog teen hierdie spoed in die wetpack geskiet nie.
Hornady se 225gr-skerpneuskoeël voor 21gr S265 verlaat die loop teen 1 291vps. Ek het twee koeëls in die wetpack geskiet aangesien die eerste een ietwat op die kant van die boeke getref het. Hulle het 17.7cm en 18.2cm diep gepenetreer en mooi omgeklink. Die gewigsretensie was 192.7gr en 192.4gr, wat ’n gemiddeld van 85.5% beteken.
Volgende was PMP se 240grkoeël teen 1 148vps (19gr S265). Hierdie koeël het 16.6cm diep gepenetreer en net soos die ander mooi omgeklink. Die gewigsretensie was 173.3gr (72.2%) wat verbasend laag is.
Hornady se 200gr-XTP teen 1 238vps (11.5gr MP200) het 13.9cm gepenetreer, pragtig omgeklink en 181.1gr (90.55%) van sy gewig behou.
Laastens het ek die 200gr Nosler-koeël in die boeke geskiet. Teen 1 297vps (12gr MP200) het dit 14.2cm diep gepenetreer en taamlik erg omgeklink. Gewigretensie was 191.4gr (95.7%) wat baie goed is. Dié koeël se “wondkanaal” deur die boeke was naas die Peregrine Hog s’n, die grootste van al die koeëls. Dis die koeël waarmee ek verlede jaar die rooibok geskiet het waarvan ek in die vorige uitgawe vertel het.
BLESBOKJAG
Die toetse in die wetpack het bevestig dat die 160gr-Impala inderdaad baie goed penetreer en ek het besluit om iets soos ’n rooibok te probeer skiet. Gelukkig het vriend Johannes Schoeman van die plaas Lerwick naby Verkykerskop goedgunstiglik ’n blesbokram geskenk vir die doel.
Om in daardie oop vlaktewêreld naby genoeg aan bokke te kom is ’n uitdaging, maar ons het ’n ram naby ’n kol bome bekruip. Omdat ek langer skote verwag het, het ek die rewolwer ingestel om sowat 5cm hoog te skiet op 75m. Ek moes net onthou om laer te mik op korter afstande.
Toe die bok binne skietafstand kom (56m), vergeet ek dit natuurlik en brand hom so ’n velskoot op die bokant van sy rug. Gelukkig het hy nie geweet waarvandaan die skoot kom nie en reguit na my toe gedraai op omtrent 40m waarna ek hom reg van voor af in die bors geskiet het. Die ram het weggespring, »
» maar na ’n entjie plankdwars gaan staan, duidelik swaar getref. Ek het hom toe met ’n skoot deur beide blaaie platgeskiet. Wat ’n gesukkel! Dit was duidelik dat ek veel meer gereeld met die rewolwer sou moes oefen. Maar gelukkig was die bok dood en het ek die geleentheid gekry om die Impalas se penetrasievermoë uit twee hoeke te toets.
Ons was verbaas dat die skoot reg van voor nie die ram dadelik platgetrek het nie. Toe ons hom oopsny, was die buikholte vol bloed wat daarop gedui het dat die longe getref is.
Die Impala-koeël reg van voor het twee ribbes in die bokant van die borsholte gebreek en net die bopunt van die een long gevang. Die koeël is deur die grootpens onder die rugstring langs en deur die linkerboud. Ons het die Impala onder die vel op die agterkant van die linkerboud uitgehaal (sien foto). Dit is byna 1m se penetrasie. Behalwe vir die loop se groefmerke was dié monometaalkoeël basies ongeskonde.
Die laaste skoot op die dwarste was ook effens te hoog, het die bopunt van die longe gevang asook die rugwerwels gebreek. Hierdie koeël het ten volle gepenetreer.
Alhoewel die Impala dus ’n liggewig is en ek dit slegs op ’n blesbok getoets het, wil dit voorkom asof hierdie geelkoperkoeël sy man sal kan staan in groter bokke. Ek het intussen die lading verhoog na 13.5gr MP200 wat ’n trompsnelheid van 1 585vps gee. Penetrasie behoort dus nóg beter te wees teen hierdie snelheid. Wat egter opgeval het, was dat die Impala in beide die wetpack en die blesbok getuimel het en beide die koeëls is met hul agterkante na vore herwin.
’N WATERBOKKOEI
Nadat ek die blesbok geskiet het, het Piet Snyman van Snymanshof goedgunstiglik die waterbokkoei geskenk sodat ek die Peregrine-koeël kon toets. Ek het Somchem se herlaaigids geraadpleeg en besluit om 10.8gr MP200 agter die 240-greiner te laai. Ek het gehoop dat dit ’n trompsnelheid van so 1 150vps sou gee, maar nadat ek die waterbok geskiet het, het ek die spoed gemeet en tot my verbasing gevind die snelheid was maar 1 092vps.
Het ek vooraf geweet die snelheid is so laag, sou ek dalk nie die waterbok daarmee geskiet het nie. Die Hog-koeël het soos te verstane nie oopgemaak nie, maar die penetrasie was uitermate goed alhoewel geen groot bene getref is nie. Die koeël is voor by die bors in, dit het een van die are bo die hart gesny, is deur die een long en die skade wat dit aangerig het, dui daarop dat die koeël moes getuimel het. Ons het die Peregrine uit die grootpens gehaal (nadat ons die pensinhoud op ’n sinkplaat uitgegooi het).
Dit wys net hoe goed ’n stadige, swaar koeël wel kan penetreer en hoe dodelik dit kan wees. Die vereiste is natuurlik net dat dit geen groot bene moet tref wat die penetrasie kan stuit nie en dat skootplasing 100% akkuraat moet wees.
Toe ek oorspronklik die 240grkoeëls by Peregrine gekry het, het hulle nie 180-greiners in voorraad gehad nie, daarom is hulle nie op die waterbok getoets nie. Nadat ek die 180gr Hog-koeëls van Alliwyn gekry het, kon ek dit darem op een rooibok toets. Met 11.8gr MP200 as dryfmiddel is die snelheid by die tromp 1 221vps en 12.5gr gee 1 297vps uit my Blackhawk. Ek het per abuis die patrone met die ligter lading gegryp toe ons veld toe is.
Ons het op Zinnshoek gejag anderkant Vaalwater waar die bos plek-plek ongelooflik ruig is en dinge het amper verkeerd verloop. Gelukkig kon ons ’n troppie rooibokke tot op 35m bekruip, maar weens die ruie veld moes ek probeer om die koeël deur ’n nou tonnel te stuur. Toe die skoot klap, het die rooibokram op die plek neergeslaan, maar ek het my verbeel ek sien stof trek soos ek ’n tak raakskiet. My seun, Marco, het ’n video geneem van die jag en daarin kan jy duidelik sien hoe ek die tak raakskiet (11m vanwaar ek gestaan het).
Dit was ’n droë tak omtrent so dik soos my duim en dié het die koeël ongeveer 9cm na regs laat deflekteer. In plaas daarvan dat die Hog op die voorkant van die blad getref het, het dit toe die nek geslaan. Dit het nie die nekbeen solied getref nie, maar wel beskadig en beide die groot are in die nek afgesny. Toe ons by die bok kom, het hy nog effens uit refleks geskop, maar hy was reeds dood.
Die uitgangswond (sien foto) het getoon dat die Peregrine wel oopgemaak het. Of die tak (wat maar vrot was) ’n bydrae gelewer het, sal ek nie weet nie. Alliwyn Oberholster van Peregrine sê die koeël moet nog heelwat vinniger geskiet word om dit betroubaar te laat omklink.
Ek sien uit daarna om die Ruger Blackhawk veel meer tydens jagte te gebruik en ek moet sê, alhoewel ’n rewolwer se reikwydte uiters beperk is, dra dit darem baie lekker lig in die veld.