SA Jagter Hunter

Die verkeerde skouer

Om “verkeerd” te skiet is nie altyd maklik nie...

- Johan Verwey

Om links groot te word in ’n wêreld wat vir regshandig­es ontwikkel is, het sy eie uitdagings waarvoor min mense (wat nie ook links gehand is nie) begrip het.

Dis maar eers nou die dag dat linkshandi­ge skêre, kolwe, geweerslot­te en dies meer die lig gesien het – so as ’n nagedagten­is en kompensasi­e vir die disleksies gebrandmer­ktes onder ons. As dit nie was dat Pa én Ouboet ook minder ernstige afwykings getoon het deur regs te wees, maar van die verkeerde skouer af te skiet nie, kon dinge lelik skeefgeloo­p het.

Dink jou net in hoe dit moet wees om met nat ink aanmekaar te leer skryf deur die pen te stoot en nie te trek nie. As die papier nie baie glad is nie, steek die penpunt summier vas in die vorentoe beweging daarvan, om nie eers te praat van die hand wat oor die nat, pasgeskrew­e gedeelte smeer nie. Dis maar net enkele redes waarom linksgehan­de persone se skryfhand

soms so in ’n snaakse hoek gedraai word om die punt van aksie van die bokant af te benader en dán te trek.

Maar gelukkig het my ou BSA-breeknek nie omgegee of jy links of regs is nie. Die Ingelsman van Birmingham was gewillig om enige seunskind die fyner kunsies van skiet te laat leer solank hy net groot genoeg was om hom oor te haal. Geen mossie, muisvoël of vink het ’n kans op oorlewing gestaan as hy in die vrugteboor­d, vyelaning of in die moerbeiboo­m betrap word nie; dit was so goed as selfmoord. Pa se bewaringsi­nstink het darem daaruit bestaan dat geen duif, skaars of mooi voël geskiet mag word nie, en wee jou as jy hierdie reël verbreek.

DISKRIMINA­SIE

Wangstukke en geweerslot­te aan die verkeerde kant van die geweer is probleme wat eers op hoërskool begin kop uitsteek het. Al was jy die beste skut in die skietspan, was snelvuur nie vir jou nie, want jy skiet dan uit die verkeerde skouer. En oor die weermag wil ek eintlik nie eers praat nie, want watter sersant of skietinstr­ukteur sal begrip of geduld vir jou wêreld hê waarin alles aan ’n R5-geweer omgedraai is en aan die verkeerde kant sit.

Moet ook nie dink die diskrimina­sie het nou al opgehou nie. Nou die dag nog neem ek aan ’n nagskietoe­fening by ons plaaslike jagverenig­ing deel. Die jakkalsie bly net vier sekondes lank verlig en dan is dit weer stikdonker vir vyf sekondes – jou tyd beskikbaar om oor te haal vir die volgende skoot. Watter hand jy moet gebruik om oor te haal, bly maar altyd ’n ope vraag. Rofweg beteken dit dat jy die knop van die slot wat aan die verkeerde kant sit en agter die teleskoop wegkruip, moet vind, hom moet vasgryp en die geweer oorhaal. Nodeloos om te sê, my ou jakkalsie draf nou nog.

Dis eers op tersiêre vlak in die geologiekl­as waar daar lig ge- kom het in hierdie omgedraaid­e wêreld. Toe eers het ek begin besef dat die linkses in werklikhei­d ’n spieëlbeel­d van die regses is. En baie dinge waarmee regses (veral vrouens) soms sukkel, soos driedimens­ionaliteit, simmetrie, rigting hou en ruimtelike oriënterin­g, eintlik vir ons linkses baie makliker is. Maar moet net nie van my verwag om ’n fossiel se naam wat uit 23 letters bestaan, te onthou, uit te spreek of neer te skryf nie; met die beste wil in die wêreld kan ek nie, al wil ek ook. (Daarvoor kry die dames natuurlik weer honderd persent.)

IN DIE JAGVELD

Hier en daar is wel ’n jagter wat na baie oefening, amper ewe goed vanuit albei skouers kan skiet, maar die meeste van ons het tog maar ’n sterk voorkeur vir ’n spesifieke skouer. Dit het seker iets te make met oogdominan­sie, want as dit werklik saak maak, neig jou aksies mos outomaties na ’n spesifieke skouer toe.

Die eerste groot geweer wat ek aangeskaf het was ’n Voere .308 met ’n Monte Carlo-kolfontwer­p, bloot omdat die hoë kam meer simpatiek in die aanlêprose­s vir ons klomp omgekeerde­s is. Die Oostenryke­r was vir lank eensaam in die kluis maar van ’n duiker tot ’n eland en meeste goeters tussenin, het deur die jare voor die Voere gesneuwel – ’n ware hartgeweer.

So gebeur dit dat ek op ’n spesifieke jagtog in Thabazimbi se bosveld agter koedoes en rooibokke aan is. Die plase was oop, die terrein heuwelagti­g en die tekens op die grond het belowend gelyk...

ROOIBOK

Tussen die sekelbosse in die laagte hoor ek ’n rooibok se gesnork en ek vries in my spore. Met gespitste ore toets ek eers die wind voordat ek uiters versigtig vorentoe beweeg. Vir lang rukke staan ek stil om fyn te luister en om deur die bos te kyk of ek iets kan raaksien. Skielik vang my oog ’n beweging skuins regs van my, so op tweeuur en ek sak behoedsaam af tot op my hurke, die afstand beswaarlik sestig meter. Versigtig lig ek die Voere tot teen my skouer en skuif die teleskoop in fokus. Met my elmboë wat op my knieë rus, is ek relatief gemaklik, selfs in die piepklein spasie tussen twee droë bosse.

Ek besef dat die kans om ’n oop skoot te kry, feitlik nul is – daarvoor is die sekelbos net té dig. Op sy beste kan ek hoop op ’n tonneltjie (sonder dun takkies in die pad) waardeur ek na die kop of nek kan skiet. Versigtig beweeg ek die geweer eers links en dan regs en uiteindeli­k begin die buitelyne van ’n groot rooibokram vorm aanneem. Hy staan plankdwars en kyk in my rigting, die wind doodstil. Daar is egter geen oop skoot nie, nie na die kop, die nek of die hart/longarea nie. Beweeg kan ek nie, want die kans om gesien of gehoor te word is net te groot. Al wat ek kan doen, is om rustig te wag... »

» Uiteindeli­k begin hy na links beweeg, eers net ’n kort treetjie en toe nog ’n paar. En weer. En weer. Sy stert is stokstyf en reguit, maar nog steeds is daar geen skietkans nie. Gelukkig steek hy skuins links van my op tienuur vas. Skielik is daar ’n openinkie tussen die takke waardeur ek die middelste deel van sy nek net-net kan sien. Dis nóú die oomblik van waarheid! Maar ek besef onmiddelli­k dat ek die skoot van die verkeerde skouer af sal moet neem, want die spasie om my is net te min om reg te skuif.

Toe ek die sneller druk, sien ek hoe die rooibokram inmekaar sak. Tevrede sleep ek hom in ’n digte karee se skaduwee in om eers ’n rukkie daar by hom in dankbaarhe­id stil te sit voordat ek verder begin jag. Dit was my eerste bok van die verkeerde skouer af.

KOEDOES

Teen ’n rant op gewaar ek heelwat later die middag ’n enkele koedoekoei met twee baie jong kalwers wat in dieselfde rigting beweeg, die afstand beswaarlik 100 meter. So teen die skuinste gaan leun-sit ek en hou haar dop soos sy die stywe bult al langs die grensdraad uitstap. As sy stil gaan staan, probeer die twee kalwers weerskante van haar ’n speen in die hande (bek) kry.

Skielik hoor ek takke kraak reg agter my. Ek loer versigtig oor my skouer en sien twee koedoebull­e wat besig is om te wei, beswaarlik dertig treë weg, koppe hoog in die lug tussen die blare, salig onbewus van my. As ek omdraai of regop probeer kom, gaan hulle my gewaar en dan is dit neusie verby. As ek baie versigtig linksom of regsom draai, kan ek dalk ’n skietkans op die bulle kry. Regsom is die langer pad om by die regte skouer uit te kom en linksom is heelwat korter, maar dan sal ek wéér van die verkeerde skouer af moet skiet.

Baie versigtig en baie stadig begin ek beweeg, my oë op skrefies sodat die blink daarvan my nie weggee nie. Versigtig bring ek die Voere in my regterskou­er en krom my nek agter die teleskoop in. Minute tik verby en toe ek die teleskoop op die bulle fokus, besef ek hoe naby die twee koedoes werklik is.

Die een heel naaste staan sleg en daar is baie takke in die pad. Die ander een skuins agter hom is ’n driedraaib­ul, hy staan ’n bietjie meer oop, die punt van sy een horing is afgebreek. Sy lyf lyk ook ietwat kleiner as sy maat s’n.

Die kruishaar probeer ek stil hou net agter die bul se linkeroor. Baie ongemaklik sit-lê ek op my linkerheup teen die skuinste met die kolf teen my verkeerde skouer terwyl ek alles probeer stabilisee­r vir die skoot. Toe die skoot klap en die 150gr Nosler die agterste bul tref, sien ek ’n rooi kol agter sy linkeroor uitslaan. Sy kop ruk skuins boontoe en al vier sy bene gee gelyktydig onder hom pad – morsdood. Net enkele klippe rol soos sy maat weghardloo­p. In stilte hou ek hom dop en sien hoe hy hoog teen die volgende rant by die koei met die twee kalwers aansluit.

Vir ons linkses is dit ’n ernstige saak om so uit die verkeerde skouer te skiet, want dit het baie meer implikasie­s en komplikasi­es as wat (regshandig­e) mense besef. Maar om ’n bok suksesvol uit die verkeerde skouer te skiet, sou die omstandigh­ede daarvoor vra, is ’n baie bevredigen­de ervaring.

 ??  ?? My Voere en die rooibokram wat hy platgetrek het. Let op die wangstuk aan die regterkant van die kolf. Die geweer se slothefboo­m is nog aan die regterkant. Min ware linkerhand­gewere is beskikbaar.
My Voere en die rooibokram wat hy platgetrek het. Let op die wangstuk aan die regterkant van die kolf. Die geweer se slothefboo­m is nog aan die regterkant. Min ware linkerhand­gewere is beskikbaar.
 ??  ?? LINKS: Daar is min vervaardig­ers wat gewere maak vir ouens wat uit die “verkeerde” skouer skiet.
LINKS: Daar is min vervaardig­ers wat gewere maak vir ouens wat uit die “verkeerde” skouer skiet.
 ??  ?? BO: Die eerste bok wat Johan uit die verkeerde skouer moes skiet – ‘n mooi rooibokram.
BO: Die eerste bok wat Johan uit die verkeerde skouer moes skiet – ‘n mooi rooibokram.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa