Stil, stiller, Sus-Tac
Knaldempers is besig om baie gewild te raak onder ’n groot aantal geweerentoesiaste. Daar is selfs al sekere jagplaaseienaars wat die gebruik van knaldempers verpligtend maak vir diegene wat op hul eiendomme wil kom jag.
Dis ’n feit dat knaldempers gewere langer, swaarder en lomper maak om te hanteer. Daar- om is hulle nie vir alle tipes jag of skyfskietdoeleindes geskik nie. Tog kan ’n mens die voordele van knaldempers nie ontken nie – hulle kan die terugskop van gewere met tot 60% verlaag en die klank van die knal tot so ’n mate demp dat jy ’n geweer sonder ongemak kan skiet sonder om oorbeskerming te dra.
Diegene wat te voet jag en hul gewere die hele dag lank dra, asook mense wat in ruie bos jag, verkies korter, ligter gewere wat maklik hanteer. Daar is egter ’n groot gros mense wat voorsitjag doen en baie wat hul wild van jagvoertuie af skiet. Vir sulke jagters maak ’n langer, lomper geweer nie saak nie. Daar is ook sekere skyfskietdissiplines waarin ’n lang, swaar geweer geen nadeel het nie, so
sommige skyfskietskuts maak ook gebruik van knaldempers.
Knaldempers is nie heeltemal so geskik vir skyfskietdissiplines waar lang stringe skote in relatief kort periodes afgevuur word nie. Soos almal sekerlik weet, raak ’n knaldemper baie gou baie warm en dit veroorsaak hittegolwe bo die knaldemper wat die skut se sig kan belemmer as hy/sy deur die teleskoop kyk.
Hoe dit ook al sy, die twee genoemde voordele wat knaldempers bied, is vir baie mense meer as genoeg om te kompenseer vir al die nadele daarvan.
Ek het onlangs die geleentheid gehad om die Sus-Tac-knaldempers wat Susman Engineering maak (hulle is van Edenvale naby Johannesburg) van naderby te besigtig en te toets en ek was hoogs beïndruk met die kwaliteit van hierdie produkte.
Gerry Susman, die eienaar van Susman Engineering, sommige van sy spanlede asook Francois Joubert van Fan-Atac, wat betrokke is by konsultasie en bemarking, het sowat twee maande gelede van hul produkte op die Premierskietbaan naby Cullinan gaan toets en ek het die toetssessie bygewoon. Om te sien hoe hulle produkte met van die ander op die mark vergelyk het die Susmanspan ’n hele paar ander fabrikate saamgebring en ook getoets. Terloops, Susman Engineering vervaardig onder meer ook teleskoopringe en Picatinny rails, en hul eie skyfskiet- en jagkoeëls asook teleskoop- bubble levels sal binnekort beskikbaar wees.
Sus-Tac se knaldempers kom in verskillende modelle wat geskik is vir kalibers van die .22LR tot die .50 Browning Machine Gun. Gerry-hulle het gestop om refleks-knaldempers te maak (dis die modelle wat ’n ent terugskuif oor die loop) omdat hulle glo dit dra geensins by tot die verhoging in effektiwiteit nie. Besoek gerus hul webblad om meer daaroor te lees.
Ek het gedink dit sou interessant wees om die bevindinge aan ons lesers te bring, want ek word gedurig gevra watter die beste, effektiefste, stilste of duursaamste knaldemper is. Dit is ’n vraag wat uiters moeilik is om te beantwoord. Jy kan net sowel vra, “Hoe lank is ’n stuk tou?”
Die vraag oor die duursaamheid is maklik om te beantwoord. Daar is nog glad nie enige vergelykende toetse in Suid-Afrika gedoen met knaldempers om te bepaal watter fabrikaat die langste sal hou nie.
Wanneer dit gaan oor effektiwiteit, kan ’n mens met ’n redelike mate van sekerheid veralgemeen dat “grootte tel”, mits die ontwerp natuurlik goed is en die korrekte tegnologie in die knaldemper gebruik word. Langer, groter knaldempers met meer skotte (baffles) in, sal oor die algemeen stiller wees en meer terugskop wegneem. Daar is deesdae ’n geneigdheid om knaldempers en die sogenaamde muzzle brakes of blitsbrekes te kombineer en vervaardigers van hierdie modelle maak daarop aanspraak dat hulle beter werk as ’n standaard-knaldemper en nie dieselfde slegte uit- »
» werking het as standaardmuzzle brakes nie (met hulle baie harder knal en trompflits, asook gasse wat terugblaas, skokgolwe veroorsaak en stof en klippers opskop).
Ek het al ’n paar van die kombinasiemodelle getoets en is nog nie seker of die integrale muzzle brake aan die voorkant van die knaldemper werklik ’n groot praktiese verskil maak om terugskop te help demp nie. Volgens my ondervinding het die knaldemper reeds die meeste van sy werk gedoen die oomblik wanneer die koeël die knaldemperbuis verlaat. Die vervaardigers glo anders en omdat hulle ontwerptoetse gedoen het, moet hulle natuurlik eerder geglo word as my leke-persepsie.
Ongelukkig vir baie knaldempergebruikers het die SA Jagtersvereniging onlangs alle knaldempers met integrale muzzle brakes by hul skietkompetisies verbied. Die rede wat aangevoer word, is dat muzzle brakes alreeds verbied is by hul skietkompetisies. Om die reël dus eenvoudig en maklik toepasbaar te maak en enige moontlike geredekabel oor die neweeffekte van knaldemper/ muzzle brake- kombinasies wat mede-skuts tydens kompetisies mag ervaar of opper, te vermy, is die kombinasiemodelle ook verbied.
Die Sus-Tacspan se toetse het behels dat die mate waarin elke knaldemper die klank demp, gemonitor word – dis gedoen deur eers Francois Joubert se Sako .30-06-geweer se knal te meet sonder enige knaldemper in plek en dan met die knaldempers in plek (drie skote met elk). Hierdie geweer is op ’n recoil sled of terugskop-slee gemonteer en die hoeveelheid terugskop wat elke knaldemper tem, kon dus ook gemeet word. Verder is die temperatuur naby die tromp ook gemeet. Ons het elke keer gewag dat die loop tot ’n sekere temperatuur afkoel voordat ons met die volgende sarsie skote begin het. Na hierdie toetse is elke knaldemper op ’n ander geweer gesit en ek het dan ’n drieskoot-groepering daarmee geskiet. Laastens het ek met elke knaldemper ook een skoot uit die staande posisie geskiet net om die gevoel van die knaldemper te kry en my persoonlike persepsie te gee oor die demping van die terugskop – dit het natuurlik nie altyd heeltemal ooreengestem met die terugskop wat die slee gemeet het nie. Onthou egter dat daar baie faktore is wat persoonlike persepsie kan beïnvloed.
Die geraasmeter wat ons gebruik het, was ’n Larxon Davis LXT en dis volgens die aanvaarde Milspec-standaarde opgestel. Waar ons opstelling egter verskil het, is dat alle skote onderdak afgevuur is en dat die skietpunt se vloer van sement is, in plaas van gras soos deur die standaarde voorgeskryf. Die geraasmeter is ook onderdak opgestel en die negatiewe effek wat dit veroorsaak, is dat die geraasvlak van elke skoot dus harder sal registreer omdat die dak en die sementvloer ’n weerklank veroorsaak. Dit sal egter dieselfde wees vir al die knaldempers wat getoets is.
Kyk gerus na die resultate van die toetse wat hier in ’n tabel saamgevat is. Een ding is duidelik en dit is dat daar nie ’n enkele knaldemper is wat as die ideale all-rounder beskou kan word nie. As jy die stilste knaldemper wil besit sal jy noodwendig ’n groter, langer model moet kies. Diegene wat te voet jag, sal ligter, kleiner knaldempers verkies. Besluit self wat die toepassing is waar jy die knaldemper die meeste gaan gebruik en laat dit jou lei wanneer jy jou geld neersit.
Om af te sluit kan ek noem dat die Sus-Tac-produkte baie goed presteer het in ons toetse (soos julle kan aflei uit die tabel) en dat ek beïndruk was met hul afwerking en boukwaliteit. Hierdie is produkte wat ek met vrymoedigheid aanbeveel. * Vir meer inligting oor Sus-Tacknaldempers, kontak die span by 076-563-3860.