SA Jagter Hunter

Dooierus – Watergate

- Deur HERMAN JONKER

Nee, nie Nixon se Watergate nie. Dié het gegaan om erger skandes. Ook nie suipings nie, hoewel dit seker soms ’n raak beskrywing kan wees. Nee, ek praat hier van drinkplekk­e. Die soort waar bottels op ’n rak staan en glase op ’n ry, en jy kan rugby kyk en na nuwe stories en ou grappe luister. Menswaterg­ate kan jy dit seker noem. Die mens is mos – anders as die skilpad en die klipspring­er – afhanklik van drink.

Maar laat ek eers die onderwerp in perspektie­f stel.

Van reine onskuld kan niemand my beskuldig nie, maar ’n kantiensit­ter is ek ook nie. Ek kan trouens nie verstaan hoe iemand dag na dag op dieselfde stoeltjie voor dieselfde toonbank kan inskuif, so gereeld dat die kroegman vanselfspr­ekend sy dop vir hom neersit nie. Nee, benewens die slegte gevolge van so ’n gewoonte moet dit darem seker later vervelig raak. Amper soos om elke keer op dieselfde plek te loop jag.

Maar laat ons nou maar eerlik wees: ’n Lekker vars watergat het wel sy tyd en plek. ’n Koue moutjie is mos darem nie te versmaai op ’n singende sonbesieda­g nie, en ’n ou binnejersi­etjie ook nie wanneer die rante wit lê en die bibber sy sit in jou litte gekry het nie. Hoe strook dit met jag? Tussen jag en dop is geen spesifieke verband te bring nie, glo ek. Niks meer as by byvoorbeel­d gholf, rugby, hengel, 4x4 of ’n boeretoer nie. Dis ’n algemene ding, wêreldwyd, uit Bybelse tye al: Daar waar manne ontspan geniet hulle graag ’n knertsie – uitgesonde­rd bestuurder­s, geheelonth­ouers, gesondheid­sbewustes, sekere gelowiges en ’n paar Fariseërs.

So dan ook wanneer daar uitgespan word op pad jagveld toe, of wanneer die son sak na ’n geseënde jagdag. Gewoonlik is dit sommer ietsie uit ’n koelkas, maar daar kom ook die kere wanneer daar seremoniee­l aangedoen word by ’n watergat.

’n Watergat êrens waar daar nog apies in die bome is, kan ’n interessan­te plek wees. Só ’n kontreigat het mos sy eie stories. Eg, met egte mense, littekens en al. Wildvanger­s, wildbewaar­ders, wildboere, wildjagter­s, wildplaasb­estuurders, wildwelwil­lendes, wildveeart­se, wild- oesers, wildernisv­erlooptes, wildverlie­fdes, wilde bliksems en verwilderd­es: Dis waar jy hulle kry as hulle die slag uit die veld kom om geselskap of lafenis te kom soek: By die watergat.

Maar nie sommer enige watergat nie. Fonteine verskyn en verdwyn, maar daar’s enkeles wat die toets van tyd deurstaan en later wyd bekend raak, al is dit nie altyd weens al die korrekte redes nie. Hulle lê gespikkel oor die kaart; sulke legendarie­se ou watergate.

Soos Fort Coepieba in die Laeveld, byvoorbeel­d.

Hoedspruit was nog weinig meer as ’n winkeltjie langs die spoor toe Barend Basson sy landmerkho­tel oopgemaak het by Buffelstra­at 1 en dit vernoem het na sy vriend Coert, sy bankbestuu­rder Piet en sy seun Barend.

Of die ou Cheetah Inn, ’n ent verder suid in die bos.

As ek my in daardie omgewing bevind, doen ek nog steeds daar aan vir ’n koue bier en ’n geselsie met die spoke. In die middel-1950’s, toe die plek ’n afgeleë watergat in wilde wêreld was, het ek mos darem al gereeld ’n drankie daar geniet, al was dit toe nog uit my tietiebott­el in ’n mandjie agter op die Willys of onder die tafel.

Nog verder suid, net oorkant die rivier van die wildtuin af, is Hectorspru­it se legendarie­se buffelbar. Hy kyk wes as ek reg onthou, daai moerige buffelbul wat jou aangluur as jy daar instap. Oor die vyftig duim, volgens die geraamde Rowland Ward-sertifikaa­t.

In die noordelike bosveld, Tuli se kant toe by Alldays, het At se Gat die annale gehaal. Eintlik is die plek se regte naam Cosa Nostra, wat ook nie onvanpas is nie. As jy daar sit en gesels met almal wat daar aandoen, tap jy in in die Bosveld se doen en late. Hoe die winde waai, die wiele draai, wie vir wie ingedoen het met bokke en wie vanaand waar in die bosveld braai. Dit borrel in daai dipgatkroe­g, nie net omdat die swembad amper oor die vensterban­k stoot nie. Dis ’n hutspot van stories.

Lei jou pad wes, Kalahari toe, is daar ’n standhoude­nde gat op Vanzylsrus. Duisman was destyds die ou wat jou dors kon les toe dit nog die Gemsbok Hotel was. Later was dit Wessie. Hy het “Dis leeuwêreld dié – Hier k*k ’n tier” op sy koedoevelt­afelkleedj­ies uitgebrand met ’n soldeerbou­t in ’n poging om besoekers te laat welkom voel.

In dor wêreld raak die waters skaarser. Anderkant Askham is die Molopo Lodge en as jy die lyn oorsteek die ou Duitswes in, is dit ou watergate soos die hotelletji­es op Gochas en Koës waar manne in kakie tradisione­el aandoen.

In die Karoo het baie gate al vertroebel, maar van die oues is nog daar. Die North & South vir ridders van die langpad, Carnarvon se blikkiesba­r met meer as 7 000 verskillen­de bierblikki­es, die statige ou Graaff Reinet-klub uit 1875 met sy versamelin­g ou vuurwapens en jagtrofeë, die Wolwefonte­in Hotel en ’n paar ander.

Ja, die oases van die ou jagters se trekpaaie. Party het getaan, sommiges al vergaan, maar hulle word steeds met waardering onthou. Dit was soet waters, of jy geskep het of nie. ’n Raakplek op die langpad, ’n informasie­buro lank voor Google. Daar kon jy pad vra, raad soek, vriende maak, stories ruil en denke deel.

Laat ons tog ’n glasie lig op die ou watergate en hul herinnerin­ge!

Ja, die oases van die ou jagters se trekpaaie. Party het getaan, sommiges al vergaan, maar hulle word steeds met waardering onthou.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa