Bospos – Sê jou sê
WENBRIEF SPEKSKIETERS
Ek het iets op die hart. Ek behoort aan ’n paar Facebookskiet/jaggroepe en dis met kommer dat ek ’n tendens opmerk. Dit lyk vir my my jagbroeders begin nou die vismanne se maniere openbaar. Wolhaarstories begin al hoe meer wol kry en dit raak moeilik om tussen feit en fiksie te onderskei. Manne praat van 5mm-groeperings op 200m (met fotografiese bewyse!) en hoe hulle springbokke op 300m uit die vuis skiet of op 200m in die hardloop. Daar ís manne wat kán skiet, maar gemeet aan die groeperings en ander prestasies wat baie van my broeders op die Facebook-groepe plaas, is daar heelwat meer Springbokskuts as wat ek gedink het. Baie mense loop met foto’s op hul selfone van een-gat-groeperings op 100m – net ingeval iemand hul nie wil glo nie...
Feit is dat baie min gewere/ skuts dit konstant en herhaaldelik kan regkry. Die Amerikaners praat van die 1MOA- gun – die akkurate roer wat met die regte man agter hom konstant een duim op 100m groepeer. As jy net een uit tien keer ’n klawer op 100m kan skiet, beteken dit nie dat jy daardie groepering moet raam vir jou kinders se kinders nie.
’n Oom wat by ’n wapenwin- kel werk, kla oor dieselfde ding – dié vreeslike groeperings en die manne wat springbokke so in die hol skiet, en hy mag nie eens met sy kliënte stry nie. Toe ’n grootprater nou die dag oor sy groeperings spog, vra Oom hom hoekom hy nie aan skietkompetisies deelneem nie, want min sal hóm kan wen. Oom het Grootprater egter nog nooit by enige kompetisie gewaar nie...
Ons het ’n groot skietbaan naby my en Saterdag na Saterdag pak die manne hom vol. Min sien ek egter die groeperings wat elke tweede man op Facebook plaas...
Jag en skiet is ’n lieflike sport, maar ek is bevrees nuwelinge gaan vroeg ophou skiet as hulle op Facebook boer vir raad, want hulle gaan dalk dink hulle kan glad nie skiet nie! CORNÉ SMITH * Corné wen die Safari Outdoor-geskenkbewys van R500.
DIE KORT EN DIE LANK
Ek stem hartlik saam met Eugene Harmse (Augustus-uitgawe) rakende sy antwoord op Johan Viljoen se brief. Ek en my seun is toegewyde jagters met ’n opregte liefde vir ons sport. Ons beoefen beide kortafstandjag (met skote korter as 250m) sowel as langafstandjag waar skote tot 400 meter (plus) geneem word.
Dis belangrik om daarop te let dat kort- en langafstandjag verskillende tipes toerusting en taktiek benodig.
Vir korter afstande is swaarder koeëls en groter kalibers dikwels verkieslik (180gr-koeël en swaarder in kalibers vanaf .308 tot sê maar .375, ens) omdat jy soms nie anders kan as om deur takke te skiet nie. Jy gebruik ook oop visiere of ’n teleskoop met relatief lae vergroting en ’n wye sigveld vir vinnige aanlê. Die skut moet vinnig uit die vuis of van skietstokke af kan skiet.
Daarenteen benodig langafstandjagters platskieters soos die .270 Win, .300 Win Mag of .300 Weatherby. Ligter koeëls (130gr tot 180gr) en ’n teleskoop met ten minste 12x-vergroting is verkieslik. Verder kan die geweer voorsien wees van ’n gemonteerde tweepoot of doelgerigte langafstand-skietstut. Die jagter het normaalweg meer tyd om sy geweer op te stel en aan te lê aangesien die bokke verder is en baie keer glad nie bewus is van die jagter nie.
Beide hierdie tipes jag verg vernuf en oefening en elk het hul eie uitdagings. Beide verg selfbeheersing om nie onverantwoordelike skote te neem nie, maar die langafstandjagter moet bepaald meer oefen.
Ek, my seun en ’n kollega het onlangs in die Petrusville/Vanderkloofdam-omgewing springbokke en rooihartbeeste gejag. Die naaste bok was 280m en die gemiddelde skietafstande op springbokke 350m. Ons het agt springbokke geskiet waarvan vyf kop/nekskote was en een van die twee rooihartbeeste is op 412m geskiet. Geen bok is gekwes nie en elke skoot was met groot verantwoordelikheid geneem. Die toerusting was ’n .300 Win Mag, 3-18x50 Swarovski Z6-teleskoop, ’n .300 Weatherby Mag met 5-25x52 Swarovski Z5 en ’n .30-06 met ’n 3-12x50 Swarovski Z3. Ons jag was net so bevredigend as om ’n koedoebul in die bosveld op 75m met ’n .375 of .308 te jag!
Ek wil nie ’n debat uitlok nie, maar bevestig dat beide tipes jag ’n wonderlike manifestasie van ons sport is en elk sy bepaalde uitdagings stel aan die verantwoordelike jagter! JAN EN CHRIS SMALL
DIE EINDE VAN HUNTEX?
Ek verwys na Johan van Vuuren se skrywe, Die einde van HuntEx? (Julie 2017-uitgawe).
Ons is ’n groep van meer as 120 kennisse, jagvriende, boere, entoesiastiese skuts, beroepsjagters en jagondernemers wat elke jaar uit die uithoeke van SuidAfrika, Namibië en Mosambiek ry om by HuntEx te wees. Die afstande wissel van 400km tot 1 800km – ek en my groepie ry 995km. Hierdie uittog word ook gebruik om by familie te kuier en te rus voor die jagseisoen begin. Behalwe om die nuutste jagtoerusting te kom besigtig, bou ons ook klandisie en kontakte op.
Verlede jaar het Safari Outdoor groot gegaan, baie spasie gekoop, maar dit swak gebruik. Ek glo dis die grootste rede hoekom hulle nie vanjaar daar was nie. Ons groepe op besprekingsforums en vriende het net een woord vir wat Safari Outdoor hierdie jaar gedoen het – oneties. Hulle het op HuntEx se rug gery om kliënte met spesiale aanbiedinge na hul winkels te lok tydens HuntEx. Dis besigheid, maar dis onetiese besigheid en hoort nie in die jagbedryf nie.
Ons gaan HuntEx toe juis om al die verskaffers in die jagbedryf onder een dak te sien en dan daag van hulle nie op nie. My groepie het verlede jaar sowat R40 000 by Safari Outdoor gespandeer, hierdie jaar niks en ons sal ook nie in die toekoms nie. Julle het 120 kliënte verloor wat elke maand produkte bestel het, maar dit nou op ander plekke koop.
Johan, jy sal nie weet watter plesier dit was om by HuntEx te wees dié jaar nie – daar was geen gedruk en vertrapping nie. En BBP-dag is ’n geleentheid vir uitstallers om kliënte en verskaffers te nooi om te sien hoe hulle die produkte gebruik en uitstal. Dis ’n perfekte dag om kontakte te bou. JOHN OOSTHUYSEN * Die redes waarom Safari Outdoor nie langer HuntEx bywoon nie is op geen manier teen die skou gemik nie en die laaste HuntEx was inderdaad ook ons heel beste een en glad nie ’n teleurstelling of mislukking nie. Dit help dalk om te noem dat Outdoor Investment (wat Safari Outdoor besit) ook twee groothandelbesighede besit wat wel uitgestal het op die skou (Inyathi Sporting Supplies en Formalito) en het dan ook heelhartig die ander handelaars ondersteun met bemarkingsbydraes, personeel en voorraad.
Dit is jammer Safari Outdoor het John en sy vriende as kliënte verloor en ons kan maar net hoop om hul mettertyd terug te wen met goeie diens. Die belangrikste is dat die manne passievol is oor jag en die buitelewe en of hul nou by Safari Outdoor koop of nie, ons is bly om die passie te sien. MARCO VAN NIEKERK (HUB, OUTDOOR INVESTMENTS)