In my visier
Sit die manne eendag doer in die vroeë 1950’s by ’n kafee naby die ou jetty in Swakop in Suidwes. Dis nou Grootkoos, sy broer Willem en Martiens Barnard, hul oom.
Die kêrels was honger en dors, en toe die dametjie die bestelling neem, sê oom Martiens, “Ons wil net ’n paar paaie hê dame, en koffie.”
“Wat se pies Oom?” wou sy weet. “Ag kind, skilpaaie, wapaaie, grondpaaie of teerpaaie, reguit paaie of slingerpaaie, maak nie saak nie. Solank daar net vleis in is, sal ons tevrede wees,” laat oom Martiens toe glo droogweg hoor.
Soms op my bospaaie dink ek aan hierdie ou storietjie. Oom Martiens was heeltemal reg, paaie moet “vleis” in hulle hê, en dit geld vir enige pie of pad. Anders kom jy maklik “leë- maag” en onvergenoegd by jou eindbestemming aan.
Ek het onlangs ’n lekker stukkie “vleis” vir my bospad gekry. Ene wat begin het met vreeslike swak skietwerk.
In die 1980’s en 1990’s het ek gereeld met ’n .44 Magnumrewolwer gejag en so baie daarmee geoefen dat ek sommer goed bekwaam was met dié stukkie John Wayne. Toe ek egter hierdie jaar die Ruger Super Blackhawk naderhark, moes ek tot my skande agterkom dat ek en die Blackhawk nie heeltemal op dieselfde noot sing nie.
Daar by Johannes Schoeman op die plaas Lerwick bewe ek ’n vlakvarkteiken vol gate oral waar die doodmaakplekke nié sit nie en op Fred Camphor se plaas kwes ek ’n vark. Einde van ’n lang storie is dat ek my skietstokke bekyk – ek sou moes planmaak.
Terwyl ek rondkyk tussen al die skroot in my motorhuis, val my oog op ’n stukkie plank wat so half aan dolfhout herinner. Dit het as blad van ’n koedoehoring-asbaktafeltjie gedien wat my pa, Grootkoos, gemaak het toe ek ’n kind was. Hierdie tafeltjies het ’n houtvoetstuk gehad waarop ’n enkele koedoehoring gemonteer is en bo-op die afgesaagde horingpunt, ’n stukkie hout waarop ’n gehekelde doilie as plekmatjie gepas is vir die glasasbakkies wat Grootkoos gebruik het.
Die betrokke stukkie hout is deur ’n ander een vervang maar ek kon dit nooit oor my hart kry om dit weg te gooi nie. Dit het deur my pa se hande gegaan en alles wat hy gemaak het, is vir my heilig.
Kyk ek na die stukkie hout, sien ek vir Grootkoos voor ons motorhuis op Dordabis met ’n koedoehoring en vyl oor sy skoot, besig om horingtafeltjies te maak.
Met ’n klein bietjie saagwerk, houtlym en skroewe prakseer ek toe ’n rus vir my Ruger-rewolwer wat kan vasskroef bo-op ’n driepoot-skietstok. Niks fênsie nie, bloot ’n stukkie blad wat as rus vir my hande kan dien en ’n stut vir die rewolwer se loop. Vir my is hierdie ’n stukkie herinnering – “vleis” waarmee ek my bospaaie kan vul as ek en die Ruger koers kies veld toe.
So was Grootkoos, wat lankal weg is, weereens saam met my toe ek onlangs ’n waterbokkoei met die Ruger geskiet het. Ja nee, oom Martiens was reg, paaie móét vleis in hê.