SA Jagter Hunter

In my visier

-

Vader Son skop deesdae sy kooigoed soggens al vroeër af en dit beteken winter het oplaas sy ry gekry. Die voëls in my tuin het dit ook agtergekom en hulle jil gewoonlik al vrolik rond hier van vuilskemer­tyd af. Die dae is langer ja, maar daar is baie om te doen. Dis broeityd...

Oral in my tuin is daar ’n vreeslike gevryery. Die pampoenvre­termannetj­ies (olyflyster­s) draf hangvlerk agter aanvallige dametjies aan en by my visdam probeer galante tortelduif­here met opgeblaasd­e kroppe, diep buigings en basstemme hul bes om wyfies, wat ’n lafenis kom soek, te beïndruk.

Bome bot met mening en selfs my grasperk is stadig maar seker besig om die winterslaa­p uit sy oë te vee.

Die seisoen verander en veranderin­g is goed... wel, gewoonlik. Maar hier by ons is dit nie net die seisoen wat verander nie. Ons jag- en skietbedry­f het ook hierdie jaar veranderin­ge gesien.

Die Kaapse HuntEx het gesneuwel en die Oos-Kaapse een het hierdie jaar sy swanesang gesing. Alle aanduiding­s is dat daar volgende jaar net een HuntEx sal wees, die grote in Gauteng. Is dit ’n teken? Goed of sleg? Die tyd sal leer.

Kleurwild, en selfs sekere ander wildsoorte se waarde het skielik afgeneem. Naby Baltimore verneem ek van ’n man wat baie moeite gedoen het met sy teelplanne. Wild gekoop, kampies gemaak en so aan. Nou is sy hele trop wild van 16 (wat glo nog nie begin aanteel het nie) soveel werd as wat hy twee jaar gelede vir die teelbul alleen betaal het. Sommiges sê nou, “Ons het julle mos gewaarsku...” Telers sê, nee wat, dis normaal, hulle het dit verwag.

’n Grand Slam is volgens baie iets wat jy met moeite behoort te vermag. ’n Soort van ’n prestasie. Iets waarop jy trots kan wees omdat dit moeiliker is as hoender koop by KFC. Maar hier by ons kan jy nou verskil- lende soorte Grand Slams skiet – sommer so binne een dag of selfs in ’n voormiddag. En jy hoef nie eens stof op jou skoene te laat kom nie.

Lees ek op Vleisboek die ander dag iemand sê as Jan of Piet of Klaas sy buffel in ’n boma wil kom skiet, het dit niks met enigiemand uit te waai nie. Jag in Suid-Afrika is vinnig besig om onherroepl­ik te verander.

Uit die Natalse Middelland­e verneem ek dat wilddiefst­al nou ongekende afmetings aanneem in dié streek. “Jagpartye” van tot oor die 30 man sterk, met troppe honde by hulle, sak op plase toe. En boere is magteloos om iets te doen. Die landskap en wildplase soos dit vir jare in dele van KZN geken was, kan dalk binnekort onherroepl­ik verander. Dan wonder jy of hierdie situasie nie dalk na ander dele van die land gaan uitbrei nie.

Dit lyk darem of dinge by die Sentrale Vuurwapenr­egister nog dieselfde bly. Die hernuwing van my lisensies het flink verloop... ander mense s’n ook. Sommiges het binne ’n maand al hul nuwe kaartjies ontvang. Maar ander wag al maande lank sonder enige taal of tyding van wat daar in Pretoria aangaan.

KPMG gooi gat om oor SARS. Politieke moorde, plaasmoord­e en wetteloosh­eid neem toe. Bid by Bloemfonte­in het geen veranderin­g gebring nie.

Die Bokke se veranderin­g, hulle sogenaamde “speel vir mekaar”, die nuwe strukture en nuwe hulpafrigt­ers het toe ook geen veranderin­g gebring nie, altans nie teen die All Blacks nie.

Ons Titanic is besig om te sink... Maar solank die bome bot en duiwe in my tuin koer, sal ek bly hoop.

Mooi loop!

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa