SA Jagter Hunter

Dooierus – Deur die poorte met ’n tow-tone kombi

- Deur HERMAN JONKER

Dit was 1964. My eerste ‘groot’ jag saam met Pa. Ons het met ’n kombi gery. Een van daai ou tweeruit-modelle wat nou ’n fortuin werd is, lewend of dood. Hy was groen as ek reg onthou, two-tone. Iets tussen skorsiegro­en en turksvybla­ar, met so ’n romerige kakie onderlangs. Of miskien was dit andersom – ek kan nie mooi onthou nie.

Die kombi was tegelyk vervoer, jagkar en tent. Hy’t ons en al ons pakkerasie­s by Legogote se steilte af gedra, die wilde Laeveld in tot êrens onder ’n afgeleë maroela digby die wildtuin waar ’n vriend van Pa ’n kol laat skoonskoff­el het in die lang gras en vir ons ’n drom water afgelaai het. “Daar’s hout ook,” het hy gesê terwyl hy ons beduie het na ons kampplek toe. “Ons het ’n hoop gemaak daar vir julle, spruit se kant toe. Praat maar as ons nog moet bring.”

Die aanbod was goed bedoel en ewe goed verstaan, maar Pa sou nie praat nie. Beskeidenh­eid was die kredo van daardie era, nie vergryp nie. Dit sou ’n skande wees om te vra vir nog hout. Onnodig houtmaak sou Pa in elk geval nooit goedgepraa­t het nie, want hout was vir hom heilig. In sy vrye tyd het hy die fynste meubels gemaak uit ledemate van die ou Laeveldreu­se. Hy het die onderskeie soorte geken en hul greine op sy draaibank blootgelê soos hy sy pasiënte ondersoek het wanneer hulle aangemeld het met ’n pyn in die toon of ’n byl in die skouer.

Ek onthou hoe dit hom ont- stel het toe groot dele van die Strijdombl­ok naby Komatipoor­t ontbos is vir die aanplant van suikerriet­plantasies.

“Hulle stroop voor die voet! Groot kettingtre­kkers met sulke groot staalballe aan kettings tussen hulle, wat alles platslaan. Ek was laas week daar af vir ’n pasiënt met malaria. Hulle stoot alles plat! Onkruid, bosse of ou bome; hulle onderskei nie. Dis moord, massa botaniese moord. Eeue se groei. Van daardie ou chamfutis lê en bloei eintlik rooi soos hulle vermink is.”

Ons het die kombi onder die maroelaboo­m getrek en ons staan gekry. ’n Vuurtjie op die grond, twee seilstoele, ’n op- slaantafel­tjie, ’n watersak teen die boom, ’n graaf vir ’n toilet en nie veel meer nie.

Bedags het ons in die veld gedwaal en gejag tussen ’n Noagsark van wesens waaraan ek my verwonder het en almal se name probeer onthou het. Die ou groot swart bromvoëls met hul diep eenpond-tweesjieli­ngs stemme, ’n luiperd se spoor en sy naelmerke teen ’n boom, luislang en likkewaan, kameelperd­e wat jou uit die hoogte bekyk, krulhoring koedoeskim­me, rooibokke en stofbadseb­ras. Die Laeveld het gelewe en ek ook.

Soms het ons met die kombi gery, stadig in die tweespoor met die twee voorruite opgeslaan, en voëls gekyk. Of na sonsak ’n draai gery sodat ek kon oë soek met die flits. Saans het ons by die vuur gesit voor ons in die kombi gaan inkruip het vir die nag.

Dis die aande om die vuur wat ek die beste onthou. Vir ’n klein mannetjie was die bos groot en misterieus en die donker het ongemaklik geraak wanneer die nagapies in die takke ritsel en die groot stemme praat. Hmmmff... hUUummffff­ff... “Wat’s daai Pa?!” “Wat? O, daai? Een of ander ou lui leeu wat loop en bedel.”

Sjoe. Hoe bly is ek Pa is hier. Ek het gedog dis ’n mensvreter.

Hiënas het geroep uit die donker bos, jakkalse het gewee- klaag. Soms was daar blink oë in die lang gras aan die rand van die oopte as ek die flits swaai. Soggens was daar vars spore wat die nag se vrae beantwoord het.

Dit was ’n ervaring wat my kortgeskee­rde koppie aan die draai gesit het. Dinge was anders in die wilde bos. Die landskap en bome was anders, die lug het anders geruik. Daar was lewe in soveel vorme. ’n Fassineren­de natuur met geen einde aan geheime en kontraste nie.

Dit het met my gepraat. ’n Besondere bewustheid van die hier en nou tuisgebrin­g, want die bos het terselfder­tyd ’n ewigheid en ’n snelle snykant gehad. Tegelyk ’n warm boesem en gevaarlike kake. Ek het geleer om dinge te bekyk en te ontleed om te probeer uitvind wat rêrig aangaan. Dit was boeiend. Ek het begin oplet na aspekte soos individuel­e gedrag binne ’n trop of die strategie van ’n roofdier. Dinge soos die funksie van sy voorkoms en die taktiese gebruik van sy onderskeie sintuie het my laat dink.

Die kampvuur het ook gepraat. My jong gemoed weerkaats in die dans van sy vlamme, my beflikker met denke, drome en gedagtes. En my op ’n jong ouderdom laat besef ’n vuurtjie is ’n uitlokker van die siel, ’n verleier na katarsis, ’n ware vriend.

Selfs die hemele het gepraat. Die omvang daarvan het my kopgrense heel oopgeskiet. Ontelbaar, onverbeelb­aar groot, onmoontlik. Elke sterretjie ’n son?! Kan nie wees nie. Daar op my rug in die sand langs die vuur het die hemelruim gebewe van vitaliteit deur die lense van die ou Duitse verkyker. Die natuur is oral, het ek besef. Onmeetbaar en onpeilbaar en gebalansee­r volgens ’n meesterpla­n. Wat ons geskiet het? Wel, ek onthou dat ek ’n steenbok geskiet het met die .22 en ’n paar patryse en kwartels met die .410 en dat ons ook rooibok en koedoe afgeslag het.

Maar dis nie wat my al vir meer as 50 jaar bybly nie. Ek dink dit was in elk geval ook nie waaroor die trippie met die ou two-tone kombi juis gegaan het nie. Nee, wat eerder helder uitstaan was my ontdekking, daar diep in die hart van die oerbos, van ’n goue poort na die spirituele.

Selfs die hemele het gepraat. Die omvang daarvan het my kopgrense heel oopgeskiet. Ontelbaar, onverbeelb­aar groot, onmoontlik.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa