Vra vir Kassie
Wanneer beginners patrone herlaai, fokus hulle hoofsaaklik op die meganika van die laaiproses. Die meganiese fasette word deur doktrine “voorgeskryf” en het te doen met HOE en WANNEER die herlaaitoerusting tydens die herlaaiproses hanteer behoort te word.
Soos wat die herlaaier meer bedrewe raak, word die dinamiese faset vir hom meer uitdagend en kry hy te doen met die manipulering van veranderlikes om by ’n voorafbepaalde of gewenste resultaat uit te kom. In ’n dinamiese omgewing is daar ’n gebrek aan eksakte antwoorde of oplossings, want daar is altyd veranderlikes ter sprake en aanbevelings behoort altyd voorwaardelik te wees. Dit is dus beter om gesonde beginsels toe te pas eerder as om iemand se voorskrif te volg. Goeie raad kan egter gebruik word om vinniger rigting te kry, maar dan moet nuuskierigheid jou aanpor om die beste resultaat vir jou per- soonlike omstandighede te kry. Kom ons kyk na ’n paar situasies waarmee herlaaiers te doen kry:
VRAAG:
Sal daar ’n verskil in prestasie wees tussen patrone wat met dieselfde lading S341 gelaai is, maar sommige word met die slagdoppie na bo vervoer en ander met die koeël? Sal dryfmiddel met fyner grein soos S341 se korreltjies wat deur die vlamgaatjie tot op die slagdoppie lek, verskillend presteer as ’n patroon wat nie dryfmiddel deur die vlamgaatjie lek nie?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Ek dink ’n verskil kan eintlik toegeskryf word aan ’n verskil in ladingdigtheid eerder as die posisie waarin die gelaaide patroon vervoer word. S341 het ’n baie fyn grein (klein korreltjies) en in die meeste kalibers waarvoor dit geskik is, kan daar ’n redelike groot lugborrel in die gelaaide patroon wees. Hoe groter die lugborrel hoe meer onvoorspelbaar raak die posisie daarvan in die patroon wanneer die skoot gevuur word. As die kruit in al die patrone op dieselfde manier in die dop op die slagdoppie lê met die afvuur van die skoot, behoort die skote se prestasie dieselfde binne aanvaarbare toleransies te presteer. Wanneer die lugborrel egter reg voor die vlamgat geposisioneer is, beïnvloed dit die ontsteking van die kruit sodanig dat die prestasie soveel van vorige skote mag verskil dat die verspreiding van trompsnelhede te groot word vir kompeterende akkuraatheid. S341 wat met grafiet behandel is, vloei maklik. Dit is onwaarskynlik dat ’n lading met ’n digtheid van minder as 100% binne ’n kort tyd, van sê ’n jaar, sal “koek”. Die vervoer van redelik “vars” gelaaide ammunisie, regop of onderstebo, behoort geen verskil aan die prestasiepatroon van die ammunisie te maak nie. Die bestuur van die ladingdigtheid (deur die gebruik van vullers) en/of die manier waarop die patroon met die laai daarvan in die geweer hanteer word, sal eerder die konstantheid van die skote beïnvloed.
Ek is nie bewus van enige formele proewe of uitslae om te bepaal wat die effek is op skootprestasie van kruit wat deur die vlamgaatjie tot op die slagdoppie lek nie. Persoonlik dink ek nie dat dit enige noemenswaardige praktiese effek kan hê nie. As dit enigsins skadelik kan wees, of ’n verskil in konstantheid sou veroorsaak, sou verantwoordelike ammunisievervaardigers daardie probleem reeds ondervang het met die ontwerp van doppies en dryfmiddels. Leketoetse se uitslae kan erg verdag wees omdat dit baie moeilik behoort te wees om die hoeveelheid kruit wat tussen verskillende patrone lek, buite laboratoriumomstandighede te moniteer. Dit behoort egter interessant te wees as sulke proewe onderneem kan word. Tot tyd en wyl formele uitslae beskikbaar raak, dink ek nie ons herlaaiers behoort ernstig hieraan aandag te skenk nie. »
VRAAG:
» My .44 Magnum-doppies se bekke kraak in die lengte. Wat veroorsaak dit en is daar iets wat ek kan doen in die herlaaiproses om dit te voorkom of te vertraag?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Wanneer ’n doppie se metallurgiese eienskappe so verswak het dat die doppies lengtekrake wys, moet hulle ongelukkig geskrap word, ongeag die aantal skote wat hulle geskiet het. Elke keer wanneer die doppie gelaai word, word die bek oopgerek om die volgende koeël te ontvang. Nadat die koeël geplaas is, word die doppie se bek weer gekrimp om die koeël in die krimpgroef te knyp en wanneer die skoot gevuur word, rek die doppiebek weer. Hierdie konstante krimp/rekproses veroorsaak dan dat die metaal verhard tot die punt waar die doppie se bek/nek skeur of bars. Hierdie is moontlik die mees algemene rede hoekom doppies verloor word. Die verliesfrekwensie kan vertraag word deur die bek nie meer te rek as wat nodig is en nie onnodige harde krimp toe te pas nie, tensy dit nodig is om die lading effektief te maak.
Handwapendoppe se leeftyd kan ook deur uitgloeiing verleng word, maar handwapendoppies is kort en ongemaklik om tydens uitgloeiing te hanteer. Herlaaiers verkies meestal om die doppies eenvoudig net te vervang. Die langer magnum-doppies hanteer darem beter en kan wel uitgegloei word.
VRAAG:
Is dit noodsaaklik dat doppies skoongemaak word van smering nadat hulle gevorm is, of kan ek die doppies laai en die patrone dan vuur al is daar nog smering aan die doppies?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Doppies moet altyd smeringvry gemaak word nadat hulle in die matryse gevorm is. Hulle moet aan die binnekant vry wees van nat smering om te verhoed dat die kruit besoedel word en om die doppie se nekgreep om die koeël te verseker. Aan die buitekant moet dit skoongemaak word sodat stof nie buite-om die patroon saampak nie, en om te keer dat onnodig hoër druk op die slot se gesig (grendelkop) geplaas word.
Die tegniese span by Sierra verduidelik dit soos volg: “Wanneer die skoot gevuur word, swel die doppie se wande oor die hele doppie uit en byt teen die wande van die kamer vas. Die druk val byna onmiddellik na die skoot, met die gevolg dat die doppie feitlik dadelik loskom van die kamerwande en dit dan uitgetrek kan word. As die doppie gesmeer is, kan dit nie na behore teen die kamerwande vasbyt nie en dit lei daartoe dat die volle krag van die druk die doppie se kop teen die slotgesig laat vasbots. In ekstreme gevalle kan hierdie verskynsel, wat bolt thrust genoem word, die geweer beskadig, veral as die geweer nie ’n sterk aksie het nie.”
Vir wat dit werd is, Britse proefhuise het op ’n stadium dié tegniek gebruik om patrone met hoëdruksmering behoorlik te smeer vir die proef van wapens, in teenstelling met die sogenaamde “blou pille” wat in die VSA en elders gebruik word om wapens te proefvuur.
Ek gee baie keer aan .303-eienaars die raad om die patrone liggies om die skouers te smeer sodat die doppe nie byt en dan rek om kopskeur te veroorsaak nie. Dit help om ’n .303, wat geneig is om ’n veerkragtige grendelbeweging te toon met die vuur van die skoot, se dopleeftyd te verleng. Dit sal dan ook beter wees om in sulke gevalle die lading selfs met ’n halwe grein te verminder. As die dopleeftyd nie vir jou ’n belangrike faktor is nie, maak die doppie skoon voordat jy die skoot vuur.
VRAAG:
Toe ek ’n jong seun was, het die grootmense altyd gesê dat gewere met lang lope akkurater skiet as dié met kort lope. Ek merk egter op dat gewere wat vir die Benchrest- skietdissipline gebruik word, se lope baie kort is en dat hulle bekend staan as van die akkuraatste gewere ter wêreld. Maar wat sal die beste vir akkuraatheid wees in ’n jaggeweer; ’n lang of kort loop?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Afgesien van die inherente akkuraathede van sekere kalibers, produkname en ammunisie, was langloopgewere as akkurater beskou, omdat hulle met yster- of oop visiere toegerus was (’n aparte korrel en visier). Hoe langer die visierstraal, bedoelende hoe verder die visier en die korrel uitmekaar is, hoe beter kon die skut die twee “oplyn”, met ander woorde hoe akkurater kon die wapen gerig word. Die teenoorgestelde is waar vir korter lope.
Met die koms van die teleskoop as algemene riginstrument, was looplengte nie meer ’n faktor wat akkuraatheid beïnvloed nie en het korter lope vinnig hul merk begin maak in kompetisies. Korter lope lewer minder loopvibrasie en loopmodulasie en is meer hanteerbaar as langer lope. Die goeie herlaaier het gewoonlik nie ’n probleem met looplengte uit ’n herlaaiperspektief nie. Die regte keuse dryfmiddel en die regte trompsnelheid met die regte koeël trek die wa deur die drif, ongeag die lengte van die loop.
Onthou, ’n lading word vir elke individuele geweer ontwikkel vir die afstand waarop die geweer aangewend gaan word. Dit is hier waar die dinamika van herlaai tot sy reg kom.
HOE MEER JY WEET VAN DIE INVLOEDE OP DIE KOEËL SE GEDRAG, HOE BETER KAN JY DIE VERANDERLIKES BESTUUR.