Die dag van die njala
Toe die bul vassteek en oor sy skouer kyk, dreun die Remington...
Hy het skielik van die skadu’s voor ons losgeraak, oor ’n klein oopte geskiet en toe in die ruie bos verdwyn. Sy heldergeel “sokkies” was die laaste wat ek kon sien.
Ons het vasgesteek, Modise Mathe die gids, ek, en Marco, my seun. So word jy die slagof- fer van ongeduld, het ek by myself gedink. ’n Ent agtertoe het ’n njala-ooi en haar lam voor ons ’n droë loop gekruis. Onbewus van ons teenwoordigheid het die ooi gestop en oor haar skouer gekyk na die bos waar iets haar aandag getrek het. Ons het haar blik gevolg, maar niks gesien nie, en aangestap. Toe die tweetal ons sien, het hulle stil- weg die ruigtes ingeglip.
Toe ons ontspan en vinniger aanstap, het dit veroorsaak dat nie een van ons die njalabul betyds sien nie.
Gelukkig was die veld sanderig en die bul se hardloopspoor duidelik sigbaar. Ek het vir Modise gesê ons moet uiters stadig en versigtig op die spoor aanstap. In digte bos het Modise Mathe se oë geen gelyke nie. Hy het by verre die skerpste oë van al die gidse met wie ek al gewerk het.
Die bul het nie ver gehardloop voor hy begin stap het nie. Maar selfs sy stapspoor was maklik om te volg in die sanderige grond omdat hy meestal in ’n wildspaadjie gehou het. Ons het baie stadig gevorder, ek was vasbeslote dat die bul ons nie weer onkant moes vang nie.
Die son het neergebak, sweetstraaltjies het teen my rug begin afloop. Voor my het Modise skielik verstyf. My oë het regs en links geflits en toe sien ek hom ook. Net sy agterlyf was sigbaar... skaars 20 treë voor ons. Marco moes skiet en ons moes hom geluidloos op die skietstokke probeer kry. Die njala was egter nie al wat ons in gedagte moes hou nie. Sowat 70m verder het ’n rooibokram staan en wei, met sy kop byna reguit in ons rigting.
Met gebaretaal het Modise gewys hy dink ons moet eers die rooibok skiet en dan kyk wat die njala maak. Daarvoor was ek nie te vinde nie. Ek wou hê Marco moes dié betrokke njala skiet (al het ons net vermoed dat dit dieselfde bul is wie se spore ons gevolg het).
Met hande, oë en ’n uiters sagte gefluister is daar planne beraam... totdat Marco uiteindelik sy .308 op die skietstokke gereed gehad het, met die Night-
force-teleskoop se vergroting afgedraai na 5x toe. Daar was egter geen kans op ’n skoot nie. Die bul het met sy hele voorlyf reg agter ’n digte bos gestaan. Minute het verbygetik...
Ek het net gewonder hoe lank ons daar in die son sou moes bly staan, toe die njala die besluit vír ons neem. Hy het skielik omgedraai en reguit weg van ons af gestap. Toe ek my mond oopmaak om na hom te roep, het Modise se stem gedemp skuins agter my opgeklink: “Hey!” Die bul het vasgesteek en oor sy skouer gekyk...
PLEK VAN HERINNERING
Zinnshoek, Chris Derksen-hulle se plaas, dis waar ons gejag het. ’n Plek wat altyd in my geheue geprent sal bly, want dis waar ek my grootste koedoebul (horinglengte) geskiet het. Na die droogtydperk het hy 62⅞” gemeet. Só ’n koedoe skiet jy dalk net eenmaal in ’n leeftyd.
Hierdie groot en ruigbegroeide lap grond lê tussen Vaalwater en Ellisras. Dis uitdagend om daar te jag, veral aan die einde van die seisoen, maar dis hoekom ek en Marco weer Zinnshoek gekies het. Ook omdat daar net te voet gejag word (ons gunsteling-manier van jag), jagters hul eie ding kan doen (binne perke natuurlik) en jy in enige van drie unieke jagkampe kan bly.
Moderne lodges is goed, maar waar ons kan, bly ons graag meer primitief. As ons jag, wil ons juis ’n bietjie wegbreek van sommige van die moderne geriewe wat jou elke dag in die stad omring.
Behalwe ons, was daar geen ander jagters op Zinnshoek nie, dus kon ek en Marco in die hoofkamp bly. Dis ’n pragtige plek met baie atmosfeer en meer as goed genoeg ingerig dat jy al jou kos op oop vure in die buitelug kan maak. Sonpanele verskaf energie vir enkele lampies wat snags aangeskakel kan word vir lig. Ons het verkies om net by die vuurlig te sit. ’n Donkie word gestook vir warm water. Die kampopsigter en gekwalifiseerde sjef is Ananja Makoga, ’n man wat amper geaffronteerd lyk as hy nie vir jou iets kan doen nie (meer hieroor ’n bietjie later).
Een van vele dinge wat hierdie kamp so interessant maak, is dat daar ’n voer- en drinkplek vir voëls amper reg langs die vuurmaakplek is. Boomeekhorinkies, bosveldakkedisse, muise en ander werweldiere is ook gereelde kuiergaste. Ek en Marco het letterlik honderde foto’s geneem van onder meer geelborswillies, swartkopwielewale, rooikophoutkappers, rooikopwewers, blousysies, bospatryse, Natalse fisante, geelvlekmossies, neushoringvoëls, duiwe, kanaries en vele meer. Marco het dadelik besluit dat die naam swartkopwielewaal te lank is en hy het dié voëls sommer wawiele genoem.
Ek deel nie maklik ’n jagkamp met ander mense nie, maar dis vir my heerlik om saam met my seuns te kan jag. En soms is dit nodig dat jy dit een-een met hulle doen. Hierdie keer was dit my en Marco se beurt.
Op Marco se lys was ’n koedoe, blouwildebees of waterbok en twee rooibokke en ek wou ’n rooibok met my Ruger .44 Magnum-rewolwer probeer skiet. »
» Soos almal weet, is daar geen enkele geweer- of kaliberkombinasie wat as die perfekte allrounder beskou kan word nie. Sommige kombinasies kom wel naby daaraan.
Jag jy op Zinnshoek, moet jy jou klaarmaak vir ruie bos en kort skietafstande. Daar is net enkele plekke waar jy ’n roer se bene so ’n bietjie kan rek. Vir die bos is ’n kort, ligte geweer in ’n redelike kragtige kaliber die antwoord as jy groterige bokke wil skiet. Iets soos ’n kortloop-.308 Win byvoorbeeld. Wel, Marco besit ’n .308 maar dis waar syne se ooreenkoms met ’n bosroer stop.
Sy geweer is ’n langloop-Remington met ’n sogenaamde taktiese kolf van sintetiese materiaal. Dis toegerus met ’n 5-25x50 Nightforce-teleskoop en die Remington weeg net so kort duskant ’n ton!
Dis egter sy enigste geweer en dis waarmee hy gejag het want, “Pa, ’n mens jag nie met iemand anders se geweer nie”. Daarmee kon ek nie fout vind nie. Dié Remington het ’n voorliefde vir 168gr Nosler CC-koeëls, veral as jy hulle redelik stadig aanjaag. Dus het Marco die Noslers gelaai dat hulle net so ’n knapsie onder die 2 400vps uit die loop wegspring. Hierdie kombinasie, het ons geglo, sal ook werk vir koedoe of blouwildebees as jy jou skote versigtig kies.
Soos tevore genoem, is die wild aan die einde van die seisoen baie skugter. Veral die rooibokke, wat baie gejag is, was erg paranoïes. Op die eerste jagdag kon Marco niks onder skoot kry nie. Na ’n versigtige bekruiptog kon hy op die tweede dag »
» ’n mooi rooibokram op sowat 80m met ’n hoë nekskoot plattrek. Die waterbok-, koedoe- en blouwildebeesbulle het ons egter bly ontwyk. Ons het nooit eens ’n waterbokbul onder oë gekry nie. So loop dinge mos maar soms met ’n jag. Waterbok- en koedoekoeie was volop.
Laatmiddag op die tweede dag loop ons toe ’n prag van ’n koedoebul raak. Hy het teen ’n rant gestaan en ons al die tyd in die wêreld gegun om hom te skiet. Dat sy horings hoog in die 50” sou meet, was gewis. Ek kon dit egter nie oor my hart kry dat Marco hierdie bul skiet nie. Ons het ’n spesiale vergunning gekry om nie trofeepryse te betaal nie en om dan so ’n mooi trofeedier te skiet, sou nie reg wees nie. Dus het Marco die koedoe deur sy geweer se teleskoop afgeneem. So het ons dié bul met ons eie weergawe van ’n “green hunt” gejag. Modise het my vertel dat iemand gedurende die 2017-jagseisoen ’n 58”-koedoebul op Zinnshoek geskiet het.
Daardie aand het ons met Chris Derksen ooreengekom dat ons ’n njala in die plek van enige van die groot bokke kon skiet.
LEKKER SMUL
Alhoewel ek en Marco op ’n selfsorgjag was, kon Ananja nie die versoeking weerstaan om ons op sy kookkuns te trakteer nie. Eers het hy uit sy eie vir ons ’n gebakte poeding op die vuur gemaak en toe ons een middag uit die veld kom, het hy heerlike, groot, tuisgemaakte samoesas voorgesit – beslis die lekkerstes wat ek seker nóg geëet het.
Beide my seuns is lief vir kosmaak en tydens hierdie jag kon ek saans heerlik agteroor sit terwyl Marco sorg dat ons mae gevul word. Ek het darem een aand rooiboklewer gaargemaak en ook ’n hoenderpotjie gemaak.
Vir my was die lekker gesprekke, die grappe, die saam kuier en kosmaak ’n hoogtepunt. Marco het die een middag vir ons jaffles gemaak en terwyl die proses aan die gang was, het ek hom duidelik laat verstaan dat my jaffle ’n gourmet- ene moet wees... ek wou nie ’n “moer my”- jaffle hê nie. Dis wat met die “sjef” sou gebeur as die jaffle nie na wense was nie! Dis sulke verspotte grappies wat die samesyn met jou kinders lekker maak.
Omdat hulle as kinders in die Noord-Kaap grootgeword en meestal daar gejag het, is die Bosveld en sy diere nog vir my seuns ’n relatief nuwe ervaring. En soms gebeur dit dat diername effens vreemd onthou word. As julle ooit vir Marco raakloop, vra hom tog wat vir ’n dierasie ’n steekmuis is!
Ek is ook ontsettend dankbaar dat jag vir Marco oor veel meer gaan as nét skiet. Voëls, insekte, reptiele, ander gewerweldes, bome en bosdinge fassineer hom net soveel as die jag self.
WEES WAKKER!
Wat jag op ’n bosveldplaas soos Zinnshoek so lekker maak, is dat elke sessie in die veld ’n verrassingspakkie is. Jy moet gedurig op jou tone wees, stadig en so sag as moontlik beweeg en jou oë die hele tyd wawyd oop hou... en jy weet glad nie waarin jy jou volgende gaan vasloop nie. Ons was verskeie kere baie naby aan wild, maar die bos was só ruig dat jy glad nie kan skiet nie. Dis uitdagend, want jy moet saam met die wild probeer beweeg sonder om jou teenwoordigheid weg te gee.
Om die windrigting te alle tye in ag te neem, is uiters belangrik en jy moet regtigwaar baie fyn kyk, want in ruie veld smelt die wild baie goed saam met die omgewing. Die twee dinge wat jagters die meeste weggee, is hul reuk en beweging. En as jy naby aan wild is, enige onnatuurlike geluid, soos wanneer metaal teen metaal kap.
Zinnshoek is ook die tuiste van bruin hiënas en luiperds. Ek het juis met ’n vorige besoek helder oordag ’n luiperd gesien en een nag het ’n luiperd bobbejaan se kind op ’n krans reg bokant ons kamp kom vang. Bosvarke is ook volop daar en ek het by twee geleenthede van húlle helder oordag gesien. Terug na die njala... Toe die donker bul vassteek en omkyk, het die .308 skaars ’n sekonde of twee later gedreun en die dier het net daar in sy spore geval. “Herlaai,” het ek gesê. Terwyl Marco die volgende patroon in die loop stoot, het Modise hier skuins agter ons dringend gefluister, “Die rooibok, die rooibok, hy staan nog”. Weer het die .308 gedreun en ook die rooibok is, asof deur ’n onsigbare hand, platgeslaan.
Daar was ’n oomblik stilte en toe juig ons aldrie saam! Dis hoe ’n jag moet eindig. Ons het die afstand na die njalabul toe afgetree, dit was 37 treë. Die 168gr Nosler CC het hom net onder die linkeroog getref en ons het die koeël onder die vel uit sy nek aan die agterkant van sy kop herwin.
Die rooibok was so 70m weg en hy het ’n Nosler skuins bo die regteroog ontvang. Hierdie koeël het dwarsdeur sy kop gefluit. En so het Marco se jag op Zinnshoek, net soos my vorige een, ook op ’n onvergeetlike noot geëindig.
PERFEKTE EINDE
Nadat ons die bokke geslag het, is ons die namiddag weer veld toe en hierdie keer was die geluk aan ons kant. Ons kon ’n troppie rooibokke in ’n digte stuk bos bekruip danksy ’n ligte bries wat in ons guns gebly het. Ek het ’n groot ram op 35m platgetrek, maar ’n tak 11m voor die Ruger Blackhawk-rewolwer se loop raakgeskiet. Die koeël het effens gedeflekteer en waar dit bedoel was om die voorkant van die blad te tref, het die koeël die nek gevang en ook hierdie ram het in sy spore laat val.
Vir my en Marco sal Zinnshoek, (“die plek van die groot koedoe” en “die plek van die njala”) altyd ’n besondere stukkie bosveld bly. Ons het daar jagherinneringe gemaak wat ons lewenslank sal onthou. * Diegene wat belangstel om op Zinnshoek te gaan jag, kan gerus vir Chris Derksen kontak by chris@zinnshoek.com