Wolwekop se koedoebul
06H10
Die Samsung-selfoontjie se alarm klink onnatuurlik hard langs my op die bedkassie en in ’n naarstigtelike poging om die alarm stil te kry voor my hele familie wakker word, laat val ek dit met ’n groot geraas op die harde teëlvloer. “Lekker jag,” sê my vrou gesmoord en draai op haar sy. Ek strompel kaalvoet die koue gang af om De Wet te gaan wakker maak. Hy is egter reeds amper klaar aangetrek.
Twintig minute later is ek en hy op pad na Highlands, ’n veeplaas met lae grensdrade, so 20 minute se ry van East Cape Safaris af, vriend Grant Abrahamson se plek waar ek en my familie oorbly. Ek jag al vir byna 20 jaar elke jaar op Highlands. Ons (ek en my vriende) skiet altyd vir die eienaar, Bill Brown, ’n paar koedoes en word dan blyhartig vergoed met ’n gestreepte goevermentsbesie van my eie. (Sê mos nou die dag vir die vrou terwyl ons in die kooi lê en gesels, dis wrintiewaar moeilik om te glo my en ou Bill se voorsate wou mekaar nie so doodlank terug nie morsdood skiet by Majuba en Magersfontein. Pleks hulle net meer sake gedoen het soos ek en meneer Brown!)
O6H54
Ek skakel die wit Hilux af en stap na waar Pietie agter sy netjiese witgekalkte werkershuisie besig is om sy oggendtakies af te handel, die belangrikste om soveel moontlik melk uit die stokou Jerseykoei se uier te probeer kry. Pietie is Highlands se amptelike uitvoerende direkteur van grondsake, waterwese, hoofdraadmaker, sommer selfaangestelde PH en hoofslagter ook by tye, as dit moet. Bill bly op die Browns se familieplaas anderkant Somerset en Pietie boer Highlands eiehandig terwyl Bill een maal ’n week ’n draai kom maak.
Besondere jagervarings word mylpale wat jy en jou kinders altyd sal onthou...
Ons groet en ek vra Pietie uit oor die droogte, die vee, sy gesondheid en natuurlik Highlands se huidige koedoepopulasie. “Nee, hier’s for sure minder koedoes as altyd, die droogte het gamaak dat hulle nie kalf nie,” antwoord hy. Ek stel voor ons gaan kyk in Wolwekop maar tot my verbasing het Pietie ’n ander voorstel. Hy lig my in dat sy twee skaaphonde vanoggend so by vieruur vreeslik aan’t blaf geraak het en toe hy effe benoud by sy kamervenster uitloer, hy ’n troppie koedoes in sy groentetuin gewaar, die bul se wit horingpunte eintlik so blink in die helder maanlig. Daarom reken hy moet ons gaan loer in die lang kloof onder sy huis – daai troppie groenteplunderaars behoort daar te wees.
Ek en De Wet kry dadelik die roer en skietstokke reg terwyl Pietie die emmertjie Jerseymelk bêre. Die woeste noordwestewind het genadiglik bedaar toe ons driemanskap koers kies na die lang kloof toe. Dié kloof strek van noord na suid, teen die plaas se oostelike grens. De Wet dra sy splinternuwe camojas – hy lyk kompleet soos ’n doringtak met bene. Pietie dra sy amper-spierwit verbleikte denimlangbroek, darem genadiglik met ’n effe donkerder kleur baadjie. By die kloof se bopunt gaan sit ons eers sodat ek met die Swarovski die kloof kan deurkyk vir enige koedoes.
07H45
Heel onder in die ruigbebosde kloof staan die einste bul wat vroeër in die groentetuin was en as die bul se horings nie in die oggendson geblink het nie, sou ek hom seker nooit gewaar het nie. Die wit horingpunte waarvan Pietie gepraat het, duidelik sigbaar, maar dié bul is eerlikwaar alles wat ’n koedoe nié moet wees nie: Sy vlakdraaihorings skaars 40” lank en sy nek is so dun soos ’n kameelperdkalf s’n. Sy lyf is dun, wollerig en vaal, hy het byna geen strepe nie en sy pens lyk potsierlik, opgeblaas. Rêrig ’n lelike koedoe. Een kyk deur die verkyker en De Wet sê natuurlik dis ’n pragtige bul, hy sal hom graag wil skiet. Pietie is baie in sy noppies dat die groentedief se lewe miskien beëindig gaan word. Eers nadat ek die bul ’n hele rukkie lank deur die verkyker bekyk het, sien ek die paar koeie net links van hom staan. Kloofaf gewaar ek genadiglik geen ander wild wat die koedoes die skrik op die lyf kan ja nie.
So stil as moontlik begin ons af in die kloof beweeg. Die bul is salig onbewus van ons. Maar skielik spring ’n vervlakste takbokooi 300m van die koedoes af op en hardloop reguit kloof-af sodat die koedoes ook hardloop en oor die grensdraad spring, in die buurman se veld in.
08H37
Aan die bokant van ’n kort, vals klofie (aan die groot kloof se onderkant) neem ek en De Wet stelling in. Pietie is met ’n lawaai kloof-op om enige koedoe wat nog tussen die ruie spekbome in die klofie skuil, op te jaag sodat De Wet hom hopelik met sy oupa se stokou Sako .308 onder skoot kan kry. Terwyl ons wag, dwaal my gedagtes en begin ek peins oor die etiek van jag en wat mense dink oor die sogenaamde dryfjagte, presies dít waarmee ek en my kind nou besig is. Hier in die Oos-Kaapse ruigtes word koedoes wel deur jagters bekruip, maar die oorgrote meerderheid word tydens aanjaagjagte geskiet. Ek self hou eerder daarvan om ’n dier te bekruip, maar ek moet sê, ek skiet baie eerder tydens ’n dryfjag op ’n oop plaas ’n koedoe voor ek op ’n toegekampe posseël van ’n paar hektaar ’n bok al in die rondte jaag...
Skielik vang ’n beweging links onder ons my oog – ’n rooijakkals, fluks besig om al hoe nader aan ons te beweeg. Meteens is die Sako op die skietstokke, patroon in die kamer en kolf teen die wang. De Wet wag opgwonde vir die vos om weer sy verskyning te maak. Oorkant die kloof verskyn hy skielik in ’n oop kol tussen die spekbome. ’n Vinnige fluit laat Vossie viervoet vassteek en sekondes later beeindig die 150gr-fabriekspatroon sy lewe. Daar is nou een minder lammerdief in die distrik! Na ’n paar foto’s stap ons terug bakkie toe.
10H23
Wolwekop is in die suidelike deel van die plaas. Dié groterige kop is min of meer die skeidslyn tussen die grasvlaktes aan die noordekant van Highlands en die spekboombedekte klowe aan die suidekant, met die westelike grens wat nie baie ver van die kop af verbyloop nie. Die voorkant van die kop is redelik kaal maar sy agterkant is ruig bebos – hier is ’n bakkransie wat ideale skuiling bied vir enige dier wat uit die wind wil uit as die noordwes so woes waai soos gisteraand. Nou kyk, daar is in hierdie ou wêreld net ’n paar dinge wat ek met alle sekerheid kan sê, een is dat die Lions beslis tans die beste rugbyspan in Suid-Afrika is, en, sou daar gisteraand enige koedoes in Wolwekop wees, hulle ongetwyfeld in daardie bakkransie sou gaan staan het om skuiling te soek teen die sterk wind.
Met al ons vorige jagte is die spannetjie aanjaers altyd aan die voet van die noordelike hang afgelaai en die manne met die roere aan die kop se agterkant. Maar vanoggend is daar egter net een aanjaer en een man met ’n roer. Ek laai vir Pietie op die gewone plek af, maak seker ons horlosies se tyd stem ooreen en gee hom opdrag om presies elfuur eers te begin lawaai. Dit sal my en De Wet genoeg tyd gee om om die kop te beweeg, stelling in te neem onder die bakkransie en die wêreld daar te bekyk deur die verkyker.
Ek parkeer die bakkie by die gebreekte gronddammetjie, ons klouter oor die draad en kort daarna sit ons op ons plek vanwaar ons die ruie hang onder die bakkransie kan dophou. Maar die bakkrans is vanoggend onverklaarbaar stil. Dit is ’n goeie 15 minute voor Pietie sy verskyning sal maak, maar De Wet vou die skietstokke solank oop, die Sako gereed met ’n patroon in die kamer, die slot oop. Afstandmeet is nie nodig nie, ek weet uit ondervinding presies hoe ver die groot witgatboom langs die oop kol onder »
» die bakkrans is – presies 267 treë soos die kraai vlieg.
“Ek hoor klippe rol,” fluister De Wet en toe sien ek die drie koedoekoeie wat onder die bakkransie opgespring het en in die voetpaadjie reguit na die groot witgat toe hardloop. Maar dit is nie die koeie wat my hart amper onderstebo laat tol nie... Agter hulle kom daar drie bulle aangehardloop, die voorste twee niks besonders nie, maar die agterste bul se horings het opvallende diep draaie en horingpunte wat na die tweede draai weer vorentoe wys – seker een van die grootste koedoes wat ek in my lewe al gesien het! Enige trofeejagter se droom.
Die koeie draf verby die witgat, maar die drie bulle gaan staan reg langs die boom, mooi in ’n ry, die groot bul steeds heel agter. Die Sako se blaf verbreek skielik die stilte, die harde klap van ’n koeël wat sy teiken tref is breukdele van ’n sekonde later duidelik hoorbaar. (Dit was nie nodig om vir De Wet te sê watter een of wanneer om te skiet nie.) Die ou grote het net daar bly lê waar hy sekondes vantevore gaan staan het. Ek is altyd bang vir daardie gevreesde vinnig-valvinnig-opstaan-scenario en probeer die bul deur die Swarovski opspoor, maar die plantergroei is net te dig... Terwyl De Wet drafstap na die plek waar die bul geval het, laai ek die Sako weer en hou die plek deur die teleskoop dop, reg om te skiet, sou die bul weer opspring
Ek het nog nooit my kind so vinnig ’n rant sien uitstap nie; in ’n absolute rekordtyd staan hy daar waar die koedoe geval het. Toe Boeta met ’n skril stemmetjie aankondig dat die bul daar lê en dat die skoot mooi op die blad is, spoel onbeskryflike emosies oor my. Met blydskap en verligting klim ek ook die rant uit. Ou Pietman kom saam met my by die koedoe aan terwyl De Wet nog steeds langs sy bul kniel.
Ons is geensins trofeejagters nie, maar koedoejag is maar net eenvoudig anders. Hoe swaar die karkas weeg, waar in die distrik die bul geskiet is en helaas, hoe lank die horings is, is ’n intergrale deel van koedoejag in die Oos-Kaap. De Wet het al baie gehoor hoe ek vertel dat ek in my leeftyd van koedoes jag op oop plase in die Oos-Kaap nog net een bul van oor die 50” kon skiet. En terwyl ek die bul se bek oopmaak om sy tande te bekyk, vra hy my die onafwend- bare: “Dink Pappa hy is oor vyftig duim?” Om teleurstelling te vermy, antwoord ek liewer nie bevestigend nie.
Daar is ’n pad tot reg onder die bakkransie wat Bill gemaak het vir presies die taak wat nou vir die drie van ons voorlê. Terwyl De Wet en Pietie die bul die skuinste begin afsleep, gaan haal ek die bakkie. Ten spyte van sy lang horings is die bul se lyf nie besonder groot nie en ek is redelik seker dat die drie van ons met ’n bietjie moeite die bok gelaai sal kan kry.
20H49
Ons sit om die doringhoutvuur terwyl een van Grant se Amerikaanse kliënte met oorgawe en passie vertel van sy “wonderful day in Africa” en ons luister na sy storie van die volstruis wat hy glo op 627m geskiet het.
Ek dink onwillekeurig aan die oggend se gebeure daar in Wolwekop. Ons kon later die middag in Grant se kantoor ’n maatband kry. Die bul wás oor die 50”. Sy regterhoring het 52.5” gemeet en sy linkerhoring 54.5” – die grootste koedoe wat geskiet is op ’n oop Oos-Kaapse plaas tydens ’n jag waarby ek betrokke was. En ek wonder: Is dit ’n goeie ding dat De Wet op so ’n jong ouderdom al so ’n groot koedoebul kon skiet? Is daar nog iets oor om na te streef ten opsigte van koedoejag in die jare wat kom? Besef hy ten volle die omvang van die geluk wat hom getref het en waardeer hy dit wat vandag daar onder die bakkransie gebeur het? Net die tyd sal leer. Al wat ek met sekerheid kan sê, is dat ek trots, tevrede en dankbaar is, en van die drie, seker meestal die dankbaarste.