SA Jagter Hunter

Die kameelperd en die kortloop

Kameelperd­jag is makliker gesê as gedaan...

- Jacques de Beer

Ek was nog besig om met my handwapens kleiner wild op my spesielys te jag, toe ek al begin het om elke kameelperd wat ek in die veld raakloop, met die oog te meet. Ek het geweet die tyd om grotes met my handwapens aan te durf, kom nader en een of ander tyd sou dit dié meneer se beurt wees.

Om só ’n enorme dier te skiet, moet jy ’n kragtige handwapen gebruik waarvan die koeël genoeg vermoë sal hê om deur die dik vel en groot bene en spiere te penetreer. Óf jy moet ’n breinskoot probeer skiet. Ek het reeds ’n .500 Nitro Express in my handwapen-arsenaal gehad, maar omdat ek graag die kameelperd se vel ongeskonde wou hou, was ’n lyfskoot buite die kwessie. En hoewel ’n kameelperd tweede was op my spesielys vir groot wild (ek het toe reeds ’n eland platgetrek) moes ek eers die regte wapen aanskaf.

Soos die tyd aanstap, het my handwapens ander wild in die koelkamer laat aanmeld vir biltong maak. Op ’n dag loop ek toe (volgens my) die ideale wapen en kaliber raak vir my kameelperd­jag – ’n Thompson Contender in .300 Adrian. Dié kaliber is ’n sogenaamde wildekat-kaliber wat in staat is om ’n .30-kali-

ber, 180gr-koeël teen ongeveer 2 500vps te skiet. Ná ’n paar toetslopie­s op ander wild het ek agtergekom dat hierdie wapen baie akkuraat is en as jy ’n teleskoop met genoegsame vergroting gebruik, sou ’n kopskoot tot op 100m geen probleem wees nie. Kopskote met handwapens is nie ideaal nie, maar na jare se ondervindi­ng kan ek somtyds, wanneer ek geen ander uitweg het nie, ’n kopskoot toedien op kort afstand.

REGTE PLAAS

Vriende en medejagter­s wat al kameelperd gejag het, het my meegedeel dat dit ’n groot werk is om dié dier uit die veld te herwin en te slag weens sy ongeloofli­ke grootte en gewig. Jy moet dus ’n jagplaas kies wat goed ingerig is om swaar wild te kan hanteer indien jy jou trofee ongeskonde wil ontvang. Ek het geluister, maar niks kon my voorberei vir die werklikhei­d nie.

Ek het begin soek na ’n geskikte wildplaas en uiteindeli­k besluit op ’n 5 000ha-plaas, Wolwekop Game Ranch, in die Vredefortk­oepel wat deur Boet Wienand besit word. Dié wildplaas huisves die meeste van die Groot Vyf en fokus meestal op buitelands­e jagters, maar bied ook pakkette aan vir biltongjag­ters. Hulle was gaaf genoeg om my vir ’n dag of wat te akkommodee­r gedurende hul bedrywige skedule met die oorsese jagters. Nadat my bespreking bevestig is, het ek gereeld met die .30 Adrian geoefen tot ek op 80m gemaklik was om kopskote te neem.

Met dit onder die knie, is ek en my vrou een laatmiddag na Wolwekop toe, net ’n hanetree van my plek af. Ons het teen skemer by die hekke aangekom en op pad na die lodge toe verby ’n troppie kameelperd­e gery wat ons op sowat 20m aangestaar het. Dit het my laat dink dat dit sommer ’n maklike jag sal wees. By die lodge aangekom was ons beïndruk met die luuksheid daarvan en Willem het ons sommer gou laat tuis voel. Ek en hy het afgespreek dat hy my die volgende oggend so net ná sewe-uur sal oplaai.

Ek het min geslaap en was douvoordag reeds wakker. Die idee om ’n 1.3ton-dier met ’n handwapen te jag, was oorweldige­nd. Ná ’n vinnige koppie koffie het ek Willem se Land Rover hoor aankom en geweet die tyd het aangebreek, ek sal my staal moet wys. Ek het opgeklim en ons is veld toe. Dit was nie lank nie toe gewaar ons ’n trop kameelperd­e. Willem het hulle vinnig met die verkyker deurgekyk. Ek wou ’n bul skiet en hy moes seker maak dat ons nie ’n fout begaan en een van die teelbulle skiet nie.

Die trop was eers baie rustig, maar toe hulle ons reuk kry, was die diere skielik op hul hoede. Ons het padlangs verder gery sodat ons vorentoe kon afklim en te voet nader beweeg om die regte bul uit te kies. Met die diere weer in sig, kon ons egter geen bulle sien nie en is ons terug Land Rover toe om verder te soek. Ná ’n vrugtelose soektog het Willem besluit om bergop te ry om ’n beter uitsig te kry oor die spesifieke stuk bos waar ons gehoop het sommige van die bulle sou wees. ’n Mens sal dink dat ’n kameelperd nie te moeilik is om raak te sien nie, maar ek was verbaas oor hoe so ’n enorme dier met sy kamoefleer­kolle net kan wegsmelt in die bos.

Willem het die bos ’n ruk lank gefynkam voordat hy ’n bul opgemerk het. Ons het dadelik in sy rigting gery om vas te stel of dit ’n geskikte bul is om te skiet, maar toe ons naby hom was, sien Willem dis ’n teelbul. Ons is toe te voet verder in ’n windop rigting (op Wolwekop »

» word daar net van die voet af geskiet). Ná ’n hele ruk se stap deur die pragtige berge en bosveld het Willem ’n beweging gewaar... kameelperd­e! Hulle was onbewus van ons en ons het stadig nader beweeg om hulle beter te kan sien. Ek was verbaas om te sien hoe fyn ’n kameelperd se sintuie is. Hulle het dadelik ons reuk opgetel toe die wind ons weggee en met pote wat soos ’n aardbewing se gedreun op die klipperige grond klink, is hulle die bosse in. Ek kon nie glo dat so ’n groot dier binne sekondes oor sulke terrein net kan verdwyn nie.

KAT EN MUIS

Ons het die koeie ’n paar keer in sig gekry, maar dan was die bulle skoonveld. Ná ’n ruk se kat-en-muis speel, het Willem besluit dat ons moet terug bakkie toe om weer aan die regte kant van die wind te kom. Die kameelperd­e het teen hierdie tyd ’n hele ent gehardloop en ons moes hulle soek. Toe ons later ’n paar kameelperd­e aan beide kante van ’n pad sien, is ons te voet vort. Dit het baie sag en stadig loop geverg om naby genoeg te kom. Willem het gevra dat ek eers moet stilstaan sodat hy kan nader beweeg om die trop deur te kyk. Ek kon nie glo dat ons só na ’n kameelperd moes soek nie. Ek was onder die indruk dat dit ’n relatief maklike dier is om te jag, maar was verras oor die uitdaging wat die jag bied.

Willem het als mooi bekyk en vir my gewys dat “my” bul in die troppie is. Hy het aangedui dat ek moet nader kom en my pistool en skietstok regkry. Adrenalien het skielik deur my are gepomp – die oomblik van waarheid het aangebreek. Ek het tot by Willem gevorder en hy het vir my gesê ek moet reg wees om vinnig te skiet. Die bul het tussen twee koeie gestaan en reguit vir my gekyk. Sy kop en ’n stuk van sy nek het uitgesteek. Ek het plat op die grond gaan sit en my pistool op die skietstok laat rus. Dit was vreemd om so skuins boontoe na ’n dier te skiet. Deur die teleskoop kon ek sien dat, as ek die brein wou tref, ek die koeël effens op die neus se brug moet instuur om te kompenseer vir die skerp hoek.

Alles het binne sekondes gebeur. Ek het die kruishaar op die gekose plek gesit en die sneller stadig gedruk. Die skoot het geklap en die Hornady 180gr InterLock het die bul in sy spore grond toe laat tuimel. Dit was ’n perfekte breinskoot. Ek was baie opgewonde dat ek uiteindeli­k my kameelperd suksesvol met ’n handwapen kon jag.

DIE AFSLAG

Willem het my gelukgewen­s en ons het nader gestap. Hoe nader ek aan die dier gekom het, hoe groter het hy gelyk. Ek het nog nooit so naby aan só ’n groot dier gestaan nie. Ons het vir ’n rukkie rustig gestaan en gesels oor die jag en die dier bewonder terwyl ons vir ekstra hande gewag het. Selfs met ’n hele paar helpers was dit ’n gestoei om die dier regop te trek vir die fotosessie.

Nadat die foto’s geneem is, het die span die kameelperd met ’n laaigraaf op ’n sleepwa gelaai en na die slagplek geneem. Dit het ure gevat om die bul af te slag en boude en blaaie te sny sodat dit in die koelkamers kon pas. Teen skemer was alles gedoen en al die vleis was veilig in die koelkamers.

Ek het die volgende dag voor ons vertrek die vel gaan laai. Mense het my gewaarsku dat selfs die vel ’n aardige gewig het. Gelukkig het ek my sleepwa met ’n wen-as gebring en kon ons só die vel op ’n palet op die wa sleep.

Ek het baie uit hierdie jag geleer en was veral verbaas oor kameelperd­e se ongeloofli­ke sintuie. Hulle vermoë om met so ’n enorme lyf te verdwyn het my ook verstom. Nooit sou ek voor die tyd kon raai dat kameelperd­jag só moeilik kan wees nie. Ek is ook bly ek het die raad van my medejagter­s gevolg en seker gemaak dat die plaas waar ek gaan jag goed ingerig is vir groot diere. Die boude en blaaie op hul eie moes deur vyf mense hanteer word en selfs tóé het dit inspanning geverg. Ek stel voor dat jy ten minste agt tot tien helpers en goeie gereedskap het om die karkas te hanteer. Voldoende koelgeriew­e vir sulke groot stukke vleis is ook ’n moet. Volle krediet aan Wolwekop se personeel. Die karkasgewi­g het kort duskant ’n ton gedraai.

My kameelperd­jag was ’n ervaring wat my altyd sal bybly. Dis ’n lekker uitdaging en die inspanning wat dit geverg het, het my verras. Aan die manne wat dit oorweeg om ’n kameelperd te jag, is my raad dat jy jou huiswerk baie goed doen. Anders gaan ’n jag wat potensieel ’n ongeloofli­ke ervaring kan wees, ontaard in ’n frustrasie.

Dit was vir my ’n voorreg om een van die grotes met ’n handwapen aan te durf en as alles volgens plan verloop, gaan ek binnekort op ’n buffel se spoor stap. Sou jy groot wild met ’n handwapen wil jag, moet jy goed voorberei, maar die belangriks­te is om elke oomblik van jou jag te geniet en die natuur met al sy wonders in te neem.

 ??  ?? Jacques en PH Willem by die kameelperd waarvan Jacques in die storie vertel.
Jacques en PH Willem by die kameelperd waarvan Jacques in die storie vertel.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? BO: Die span besig om die kameelperd op te stel vir die foto. ONDER: Die manne van die laai- en slagspan was opgewonde om saam met die kameelperd op die foto te verskyn.
BO: Die span besig om die kameelperd op te stel vir die foto. ONDER: Die manne van die laai- en slagspan was opgewonde om saam met die kameelperd op die foto te verskyn.
 ??  ?? Die luukse-akkommodos­ie op Wolwekop.
Die luukse-akkommodos­ie op Wolwekop.
 ??  ?? Die kameelperd­vel op sy dikste deel, dubbel gevou. Hierdie is die dunste deel van die vel.
Die kameelperd­vel op sy dikste deel, dubbel gevou. Hierdie is die dunste deel van die vel.
 ??  ?? Jacques het die kameelperd met ‘n kopskoot neergetrek.
Jacques het die kameelperd met ‘n kopskoot neergetrek.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa