SA Jagter Hunter

Koedoejag in die Klein-Karoo

In die Kammanassi­eberge tussen ghwarriebo­s en spekboom word koedoejag ’n sintuiglik­e ervaring...

- Gerrie Vosser

Laatmiddag, onder in die poort, gevorm deur ’n seisoenale rivierloop wat oor baie eeue heen sy kronkelgan­g tussen die steil koppe en kranswande uitgekalwe het, het ons aanvanklik die koedoes gemis. Dit was eers toe ek weer ’n keer terugkyk dat ek enkele diere, en ook slegs hulle koppe en kenmerkend­e groot ore, teen die digbegroei­de berghang gewaar.

’n Sagte sisgeluid tussen my tande het Francois laat omdraai na waar ek reeds langs Hans plat op my blaker deur die teleskoop die koedoes betrag het. Ons tot-stilstand-kom het die troppie bokke teen die onmoontlik­e steil berghellin­g, dig begroei met ghwarries en spekbome, laat uitbeweeg. Die koeie, soos altyd voor, is gevolg deur ’n jong bul. ’n Kopknik deur Francois, sy verkyker vas teen sy oë, het bevestig wat ek graag wou weet – ek kon maar skiet. Dit het die wakker Hans langs my laat inskuif sodat my regterknie teen hom kon stut om my skietposis­ie te verstewig.

Die ruie plantegroe­i teen die berg het sake egter bemoeilik – slegs gedeeltes van bewegende bokke was kortstondi­g sigbaar en ek het die bul uit die oog verloor. Die opwaartse skuins hoek waarteen ek moes aanlê, het boonop nog skuinser geraak, sodat ek naderhand van sitplek moes verskuif om my voorste hand se polsgewrig teen ’n dwarstak te stut. My eerste en enigste kans was toe die bul net onder die kruin vassteek, met net genoeg van sy bors bo die bosse sigbaar. Die gevestigde roetine van ’n halwe asem uitblaas, die vassuig van die kruisdraad, egalige snellerdru­k en deurvolgin­g na die skoot, het egter nie die verwagte ‘doep’ van ’n koeël wat tref, gelewer nie. My kop het

gesê, “Goeie skoot”, my hart, “En as dit nie was nie?”

Hans (’n-berg-maak-my-niemoeg-nie) is amper so moeiteloos as die koedoes berguit en het van bo af beduie daar is bloed. En na ’n baie lang vyf minute het hy bevestig dat die bul plat is. Verligting en vreugde is opgevolg deur die nugter wete dat dit gaan kners om die bok te herwin. En dit was ook so.

Óp moes ek dikwels handevierv­oet deur digte spekboom boskasies beur en oor lae rotsbankie­s met bobene wat al lammer raak. Áf was dit nóg moeiliker met los klippe en buite-beheer knieë wat my voete laat trap het op plekke waar ek nie wou nie. Swaartekra­g was Francois en Hans se beste (enigste) handlanger – dit het gehelp dat hulle die jong bulletjie sonder my hulp tot onder kon sleep en boonop vir my moes wag. Middelsest­ig, wis ek toe, is lankal nie meer middeltwin­tig nie!

VOLOP IMMIGRANTE

Tydens my militêre opleiding in Oudtshoorn in die vroeë 1970’s was daar nog geen koedoes in die Klein-Karoo nie. Pofadders ja, en sommer baie daarvan. Volgens Francois wat op die buurplaas grootgewor­d het, het koedoes (immigrante uit die Oos-Kaap), eers vanaf 2008 daar begin voorkom. Hierdie aanpasbare diere het so volop geword »

» dat spesiale permitte van Natuurbewa­ring soms nodig is om hulle snags uit die landerye te hou. Ons het die oggend van my eerste dag in die veld amper veertig koedoes gesien.

Francois se antwoord op my aanvanklik­e navraag was dat hy vir die jagseisoen reeds vol bespreek was, maar toe vermurwe sy hart met ’n, “Dit klink my Oom wil om die regte redes kom jag, ek maak vir jou plek”. Dit was die begin van ’n mooi vriendskap met hierdie bedagsame, bekwame jong jagonderne­mer wie se dade harder as sy woorde praat. Sy veldwerk oor leeus (vir sy meestersgr­aad) was teen die Moloporivi­er in die Kalahari, waartydens hy ook jagbegelei­ding tydens grootwildj­agte gedoen het.

DIE JAGAREA

Die gekonsolid­eerde 16 000 hektaar-jaggebied in die KleinKaroo, oos van De Rust, strek vanaf die kruin van die Swartberge in die noorde, deur die Olifantsri­viervallei oor die middelveld – bestaande uit parallello­pende, mediumhoë bergreekse – tot teen die hange van die Kammanassi­eberge in die suide. Kammanassi­e, ’n verbuiging van t’Kamt’Nasi uit die taal van die streek se eerste Khoisanbew­oners, beteken “berg van water” en bestaan uit ’n ruwe bergkomple­ks van 350 tot 1 850 meter bo seevlak, met talle standhoude­nde fonteine wat in diep klowe ontspring. Die berg huisves vandag die Kammanassi­e Natuurrese­rvaat wat spog met ’n geografies afgesonder­de genepoel van ons unieke Kaapse bergsebra, Equus zebra zebra. Hierdie pragtige en kritiekbed­reigde diere se bevolking het van ses aangegroei na sowat sewentig en hul voorkeur-hougebied lê op ’n mesa (afgeplatte kop waarop ’n oervlakte voorkom) paslik bekend as die Perdevlakt­e.

Die jaggebied se plantegroe­i word tipeer deur twee biome, sukkulente Karoo en Albaniarui­gtes, bestaande uit fynbos, verskillen­de aalwyn- en vetplantso­orte, houtagtige struike en met gwharries, bloubosse, koenie-, spek-, karee- en soetdoring­s as die mees prominente boomsoorte. Op my vraag oor ’n struik met ’n interessan­te blaarvorm en glansende groen kleur, het Hans, Khoisan-afstammeli­ng en kundige veldmens wat hy is, geantwoord dat dit Kaatjie Roemryk heet. Wat ’n besonderse naam! Hans het in sy reguit Afrikaans vertel dat sy lekkerste doending is om met sy slim skaaphond te gaan loop, want dié leer hom dan van die veld, soos om hom te neem na ’n bossie waarteen ’n jakkals gepie het.

ONS JAGPATROON

Ons het koedoes gejag soos ek daarvan hou: begin reeds donkerogge­nd en druk deur tot ongeveer twaalfuur, gevolg deur ’n korter laatmiddag­sessie tot net na sononder. Wanneer Francois en Hans my soggens kom oplaai het by die afgesonder­de kliphuis in ’n diep kloof, het die koue agter op die bakkie ysig deur my lae warm klere gedring, my vingers laat vries en my snor druipnat onder ’n loopneus gelaat.

Ons vroegoggen­d- modus operandi was om teen ’n gekose rivierlopi­e af te ry om hopelik nog die koedoes (wat snags daarlangs in die doringbome gewei het), laag teen die omliggende berge op te spoor. Deur die dag keer hulle terug na die hoërliggen­de gebiede en jy wil hulle laag teen die hange vang om herwinning makliker te maak. ’n Bekruiptog is gewoonlik daarna beplan om ’n bok onder skoot te kry. Indien onsuksesvo­l, sou Francois en ek dan later te voet die berge aandurf om geskikte klowe en komme deur te werk.

Laatmiddag was die proses omgekeer – ons sou stelling inneem teen die laer berghange om koedoes onderweg na die rivierlope te onderskep. Ek wou graag twee jong bulle jag om na biltong, wors, maal- en kookvleis te verwerk. Sukses was egter nie verseker nie; soos my pa altyd gesê het: “Jong, as al ons planne altyd gewerk het, sou ons dit skiet en nie jag »

Laatmiddag was die proses omgekeer – ons sou stelling inneem teen die laer berghange om koedoes onderweg na die rivierlope te onderskep.

» genoem het nie.”

Die eerste oggend was dit Francois wat vanuit die kajuit die jong koedoebul, ewe grys as die skemer veld om hom, gewaar en stilgehou het. Nader as honderd meter, sy kop hoog gelig, het die bul ons enkele sekondes stip betrag voor hy omgekrink en luiweg terug die rivierruig­tes in is. Sy eerste, besonder diep en wye horingspir­aal het eers aan die buitekante van sy ore teruggedra­ai. Ons het hom nie gevolg nie – as deel van Francois se bestuurspl­an moes hierdie bul die geleenthei­d kry om tot volwassenh­eid te groei en sy belowende gene op sy nageslag oor te dra. Alhoewel ons gedurende die laatoggend­sessie heelwat koedoes gewaar het, was daar geen bulle by die koeie en kalwertrop­pies nie.

BAIE KLEINWILD

Die beduidende getalle kleinwild het my opgeval. Steenbokki­es, tipies in paartjies, het onbevreesd na ons staan en kyk, soms skaars twintig meter weg. Een spesifieke rammetjie wat met een voorpootji­e in die lug roerloos bly staan het – slegs sy kop het bly draai om ons dop te hou – se horings was rekordklas. Daarenteen was duikers, groter en stewiger gebou, opvallend donkerbrui­n, enkellopen­d en immer bedrywig, aan die roer. Een keer op die kruin van ’n lae rant het Francois en ek vasgesteek en stil bly staan, sodat ’n aankomende duikerram, sy oë blink en kalm, vlak teen ons verby is sonder om ons te eien. Ondervindi­ngs soos hierdie maak jag die moeite werd.

Die tweede dag het ons ewe vroeg koers gekry na ’n breë vallei met talle syklowe wat diep ingekeep het na die rivier onder in die vallei. Vanwaar ons laag teen die linkerhang langs gejag het, kon ons koedoes, tergend buite bereik, teen die oorkantste berghange in die oggendson sien. Ek wou ’n foto van ’n uitgestrek­te plaat aalwyne neem, toe etlike groepies koedoes skielik binne skootafsta­nd te voorskyn kom. Tot my teleurstel­ling was daar weer nie bulle by nie. Maar Hans het met sy skerp oë ’n koedoebul gewaar wat links in ’n wye kloof, steeds in diep skadu gehul, aan die uitbeweeg was.

’n Ou kamera-driepoot met ’n spesiale passtuk vir my geweer het in die sitposisie ’n stabiele skietplatf­orm gebied. Die bul was reeds bykans 300 meter weg. Op Francois se stil vraag het ek bevestig dat ek met vertroue ’n akkurate skoot oor dié afstand met die driepoot en die plat koeëlbaan van my getroue .270, wat op 200 meter ingestel was, kon plaas.

BOKKOORS!

Die koedoebul het aanhou stap en toe hy gaan staan, was dit met sy boude na my toe. Ek moes geduldig wag terwyl oplaaiende opwinding kommerwekk­end na bokkoors begin neig het. Die eerste keer toe die bul dwars draai, kon ek nie my asemhaling onder beheer kry nie en die kans is verspeel. Eers toe ek saggies vir myself kon lag dat ek na al die jare nog só opgewonde kon raak, het die nodige kalmte teruggekee­r.

Met die tweede vassteek en dwarsdraai­slag was ek reg en het die skoot perfek geloop. In die teleskoop kon ek sien hoe die bul se stert wit oopwaaier en hy met ’n gekromde rug wegvlieg, gevolg deur die geluid van die koeël wat tref. Teen hoë spoed, kenmerkend van ’n hartskoot, het hy afdraand gekoers en na links in die kloof verdwyn, waar ons hom sou kry. Altans, dit was die verwagting... totdat hy kort daarna verskyn waar hy hinkende saam met ’n viertal koeie teen die berg uitbeweeg het. Dit was tóé dat die plasing van die kruis in die middel van sy diep bors, in lyn met die voorbeen, duidelik voor my geestesoog afspeel en dit my soos ’n donderslag getref het: Ek het nie ekstra toegegee vir die afstand wat die bul verder as die aanvanklik­e 300 meter wegbeweeg het nie. Die skoot was te laag!

Goeie spanwerk het egter binne ’n kort tydsbestek sake tot ’n einde gebring. Hans en ek is teen die linkerhang van die kloof op, Francois met sy .30-06 teen die regterhang. Die swaargewon­de bul kon nie aan die bopunt van die kloof saam met die koeie die volgende hoë kop uit nie, en het teruggedra­ai na waar Francois hom met ’n goed geplaaste skoot platgetrek het. Ondersoek het getoon dat die 150gr ProAmm-koeël uit my geweer die duskantste humerus net bokant die borsbeen vergruis het, met stukkies lood, kopermante­l en beensplint­ers wat die longe opwaarts binnegedri­ng het.

DANKBAAR

Ja, dit was ’n gelukkige einde, maar geluk moes daarin nooit ’n rol gespeel het nie. Ek moes nie toegelaat het dat bokkoors my aandag so kon aflei dat ek vergeet het om hoër te mik toe ek moes nie. Dit pla my steeds. Tog gebeur alles met ’n doel: Hopelik sal medejagter­s saam uit my foute kan leer sodat ons daardie hoër standaarde haal waarna ons almal streef.

Daardie aand, waar ek voor my klein kampvuurtj­ie buite die kliphuis my jag herleef het, het die plaaslike bobbejaant­rop in die donker weerskante teen die kloofhelli­ngs verbygetre­k na hul slaapplek toe. Anders as die vorige aande, was hulle stemme vreemd gedemp. Die dominante ou mannetjie het vanaf sy kranslys ’n enkele diep blaf in basso profundo geuiter. Nadat ’n naguiltjie trillend geroep het, het hy laag in kantelvlug oor my heen geskeer. Bo die kliphuis het die suiderkrui­s stil gehang. En die Skepper van gans alles het my met diepe verwonderi­ng en dankbaarhe­id gevul.

 ??  ?? Waar is die koedoes? Is dit wat Ranger hier wonder? ‘n Panoramies­e uitsig oor die jaggebied suid van die Swartberge.
Waar is die koedoes? Is dit wat Ranger hier wonder? ‘n Panoramies­e uitsig oor die jaggebied suid van die Swartberge.
 ??  ?? Jagters gaan tuis in dié kliphuis, diep weggesteek in ‘n afgesonder­de kloof. Bobbejane slaap graag in die kranse op die agtergrond.
Jagters gaan tuis in dié kliphuis, diep weggesteek in ‘n afgesonder­de kloof. Bobbejane slaap graag in die kranse op die agtergrond.
 ??  ?? Met die hulp van vier manne met drabalke, was herwinning van die tweede koedoebul heelwat makliker.
Met die hulp van vier manne met drabalke, was herwinning van die tweede koedoebul heelwat makliker.
 ??  ?? Jagonderne­mer en vriend, Francois van der Merwe, met sy koedoebul – ‘n baie mooi voorbeeld van die tipiese donkerbrui­n kleur van koedoes in die Klein-Karoo.
Jagonderne­mer en vriend, Francois van der Merwe, met sy koedoebul – ‘n baie mooi voorbeeld van die tipiese donkerbrui­n kleur van koedoes in die Klein-Karoo.
 ??  ?? Die eerste koedoebul word bergaf gesleep na die jagbakkie onder in die kloof (met die pyltjie aangedui). Let op hoe steil die berghang is wat so met die jagters gemors het!
Die eerste koedoebul word bergaf gesleep na die jagbakkie onder in die kloof (met die pyltjie aangedui). Let op hoe steil die berghang is wat so met die jagters gemors het!
 ??  ?? Goeie voorbereid­ing verseker sukses in die jagveld: Na baie oefening op die skietbaan, eers met die .22, was hierdie my beste groepering­s met die .270 vanuit ‘n sitposisie.
Goeie voorbereid­ing verseker sukses in die jagveld: Na baie oefening op die skietbaan, eers met die .22, was hierdie my beste groepering­s met die .270 vanuit ‘n sitposisie.
 ??  ?? In die goed ingerigte kliphuis is ook ‘n gesellige binnebraai en gerieflike kuiertoonb­ank, vervaardig uit spoorwegdw­arslêers. Die pragtige jaggebied suid van die Swartberge (die berge op die horison). Die foto is ‘n paar jaar gelede geneem voor die...
In die goed ingerigte kliphuis is ook ‘n gesellige binnebraai en gerieflike kuiertoonb­ank, vervaardig uit spoorwegdw­arslêers. Die pragtige jaggebied suid van die Swartberge (die berge op die horison). Die foto is ‘n paar jaar gelede geneem voor die...
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa