In my visier
DIE PERSONEEL VAN SA JAGTER/HUNTER WENS AL ONS LESERS ’N GESEËNDE KERSTYD TOE. VEILIG RY!
Teen die tyd dat julle hierdie uitgawe ontvang, weerklink die klanke van Jingle bells en Drummer boy, soos elke jaar, alweer lustig in al wat ’n inkopie-sentrum is.
Dit beteken nóg ’n jaar gaan binnekort op pensioen. Kinders en ouers stres nog vir oulaas ’n bietjie oor eksamenskryf... maar ook nie te erg nie wat, want afsaaltyd is hier. Deposito’s is betaal, verlof is ingesit en jy kan jou amper verbeel dat selfs die mouter in jou garage óók bewend in afwagting die kalender dophou...
Margate en Plet se plesier roep, of kreefduik by Kommetjie in die Kaap.
Terwyl Desember ’n sorgelose maand vir baie is, wag daar meer ernstige dinge vir ander. Dis ’n tyd van beplanning en om visums in orde kry, want kort nadat die kuier en die kreef hul lêplek gekry het, vertrek ’n swetterjoel jagondernemers oorsee. Terwyl sommiges swoeg om skoolklere te koop en boeke oor te trek, woeker dié manne en vroue anderkant die water om jagters vir die komende seisoen te werf. En hulle sal ’n grootse poging moet aanwend, want die aantal buitelandse jagters wat Suid-Afrika besoek, is besig om te daal.
In 2007 het 16 400 jagters opgedaag, in 2014 was daar 7 400 en in 2016 slegs 4 300. Is hierdie insinking ’n tydelike tendens of het buitelanders klaar besluit? En dis nie net buitelanders wat wegbly nie, baie plaaslike jagters doen dieselfde.
Waar lê die fout? Pryse? Klein plasies? Mak wild? Gewaarborgde trofeë? Of ’n “supermark shopping” manier van jag?
Goeie ekonomiese beginsels skryf voor dat jy binne die kortste moontlike tyd en met die minste uitgawes die maksimum wins moet probeer behaal. Maar werk dit altyd ten goede in alle bedrywe? In die jagbedryf wil dit voorkom asof die beginsel van “skiet en skoert” die norm begin raak. Hoe gouer, hoe makliker, hoe beter.
Maar wurg ons nie daardeur die JAG in jag dood nie? Let wel, dit het NIKS met etiek te doen nie, maar met die jagervaring. Om jou bokke sommer net so vinnig op die heel maklikste en gouste manier te moet skiet, is amper soos wanneer ’n rugbymal, 14-jarige seun sy Kersgeskenk met groot opgewondenheid oopmaak en vind dis ’n legkaart van ’n blommerangskikking, in plaas van die rugbybal en toks wat hy verwag het.
Vinnige, maklike, “mak” jagte is goeie geld vir die boer/ondernemer, maar is dit ALTYD die regte ding vir die bedryf? Wil jy een keer vinnige geld maak maar daarna deur jagters vermy word? Buffels is baie gewild by buitelandse jagters, maar in 2015 het minder as 10% van besoekende buitelanders buffels in Suid-Afrika gejag. Hoekom? Is peperduur, mak buffels met oor- tags op klein plasies dalk die oorsaak?
Daar is baie ondernemers wat goeie, unieke jagervarings aan hul kliënte bied en ons salueer hierdie mense. Almal is dit eens dat jag nie meer bedryf kan word soos 50 jaar gelede nie, maar ons jagondernemers sal vorentoe slim moet “boks” om meer oorsese EN plaaslike jagters te lok.
’n Baie positiewe ontwikkeling is dat die getalle van vrylopende koedoes in veral die Oos-Kaap só toegeneem het dat hulle in sekere distrikte as ’n las beskou word. Vrae word nou gevra oor die argaïese manier waarop die datums vir die koedoejagseisoen vasgestel word. Sommiges bepleit ’n langer seisoen en dat boere self moet kan besluit oor die datums en getalle wat gejag mag word. Dis ’n harde neut om te kraak, want waar vrylopende wild ter sprake is, kan ondeurdagte besluite tot chaos lei.
Mooi loop!