SA Jagter Hunter

Dooierus – Onnoselhei­d is nie aldag maklik nie

- Deur HERMAN JONKER

Ek het altyd gedink ek is darem nie te onnosel nie. Ek kan mos darem min of meer die ABC opsê, én die twaalfmaal­tafel, en as ’n ou ’n kar se geld wil hê vir ’n koedoe kan ek darem self uitwerk ’n mens moet dan eerder maar ’n hoender skiet.

Maar onnoselhei­d kom in baie gedaantes. Onnoselhei­d kan byvoorbeel­d maak dat jy uit protes afbrand juis dit waarvan jy te min het. Of dit kan jou beweeg om al jou spaargeld te belê in ’n piramidesk­ema. Onnoselhei­d kan jou selfs laat glo ’n halfgelett­erde beeswagter kan ’n moderne land regeer.

Gelukkig het dinge so uitgedraai dat onnoselhei­d darem nie iets is wat jou uit beginsel diskwalifi­seer nie. Kyk dan net hoe floreer dit selfs in die hoogste range se gange! Nee, onnoselhei­d, soos ou Einstein seker sou saamgestem het, is relatief.

Daarom dat ek waag om te sê ek het gedink ek is darem nie te onnosel nie.

Maar dan moet ek ook eerlik wees. Daar’s dae wanneer onnoselhei­d my inhaal soos ’n windhond wat ’n haas skraap. Dae wanneer ek sukkel om te verstaan. En ook – moet ek bieg – dae wanneer dit my smaak ek verstaan glad nie.

Soos nou die ander aand, daar by my skemervuur­tjie in die bos.

Ek sit daar en bekyk die rokie wat by ’n gaatjie in die saagkant van die stomp uitkom. Hoe hy eers wit beginne draal – so ’n gogga-eier wit – hoe hy daarna sulke fyn grys patroontji­es in die lug skryf, en hoe hy uiteindeli­k uitbars in ’n vlammetjie van die mooiste, mooiste blou met so ’n sononder-oranje soompie.

Heng, dink ek, dis pragtig. Dink net hoe moes so iets die voormense beïndruk het! Dink net hoe’t die hele ou stofgesigg­esinnetjie in groot vrede daar in die grot gesit en hulle verwonder aan die kunstighei­d van die mooi kleure en die dansende patrone. Die kindertjie­s grootoog, mamma meegevoer, en pa skoon geïnspiree­rd om môre blou klei te loop grou om prentjies mee te skilder hier agter teen die braaikamer se muur.

Ja, dink net hoe ongekompli­seerd was alles. Hoe pa, as die voëltjies die volgende oggend roep, net die karos se punt kon lig en ’n wind los wat die sand laat neersif uit die krans, en dan op sy ander sy rol om die brekfis deur te kyk wat daar onder op die vlak wei.

So sit en droom ek daar by my vuur. Maar net toe koggel my selfoon my en ek skrik my terug na die hede. O, sien ek, dis ’n pesboodska­p van een of ander plek wat grootskerm­televisies op special adverteer.

’n TV? Hoekom?! Vir wat sou ’n mens so iets wou hê?

Daar langs my vuurtjie laat sak ek my kop in my hande en besef ek net weer, dis my lot in die lewe om goed nie te verstaan nie. Want daar’s deesdae soveel dinge in die lewe wat ek eenvoudig net nie verstaan nie.

Vat nou maar moderne veeboerder­y, byvoorbeel­d. Ek sukkel om hierdie nuwerwetse makmakery van wilde bokke te verstaan.

Ek kan rêrig nie verstaan dat ’n man dit sy werk maak om ’n wilde ding wat nog altyd heel goed self reg gekom het, ten duurste te loop pyl, hom aan te ry, vir hom ’n bed te maak in ’n boma, en hom dan 24/7 te moet bedien met water na smaak, koolhidrat­e, proteïne, aminosure, vitamines en rare spooreleme­nte nie.

Hoekom? Dis mos tatie! Wie sny sò ’n lat vir sy eie gat?

Maar tog doen mense dit. En dis daai wat ek nie verstaan nie.

En dan verstaan ek ook mos nie die wildeveili­ngs nie. ’n Paar ouens kom met hulle hans bokke daar aan om te kyk of hulle nie iemand anders kan kry om die verantwoor­delikheid oor te vat nie, sò desperaat dat hulle selfs ’n imbongi betaal om daar voor te staan en die bokke se lof te besing in die hoop dat iemand miskien later sal dink, ag orraait, hy sal hom maar ontferm oor die arme ding, al weet hy ook hy sny eintlik ’n lat.

Maar wat ek glad nie kan verstaan nie, toetentaal nie, is dat die paar ouens wat hulle wel ontferm, dan onder mekaar begin stry oor die reg om te betaal om die bok te moet versôre. Ja, ek lieg nie. Hulle stry nie om meer betaal te word nie, hulle stry om meer te betaal, en dan hits die imbongi hulle nog aan ook! Ek verstaan dit nie. Hoekom is die bok nie net in die eerste plek gelos waar hy was nie? Daar in die wye veld êrens waar hy heel goed op sy eie oor die weg kan kom? Dan kon hy mos selwers vir hom ’n ooitjie van sy keuse aangekeer het, maar nou dat hy hans by jou op kraal staan moet jy selfs sy meisies vir hom aanry, terwyl jy by jou eie nie uitkom nie.

Hoe kan ’n mens jouself so straf? Wat sou die ouens dit laat doen; hulself só met die lat slaan? Hoe... hoesê? Oooo, OK. So dit gaan eintlik alles om die bok se onthalwe. Want so draai sy kinders op die ou end beter bokke uit. Mooier kleure en langer horings en so aan.

Wraggies né. Ek het nooit sò daaraan gedink nie. Kyk nou net hoe’t ek in my onnoselhei­d die manne se onbaatsugt­igheid onderskat!

Ek sê julle, onnoselhei­d is nie aldag maklik nie...

Hoe kan ’n mens jouself so straf? Wat sou die ouens dit laat doen; hulself só met die lat slaan?

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa