SA Jagter Hunter

Dit gaan wild!

“Ons wil geranch wees, ek en my familie wil vooruit boer...”

- Tuba van der Walt

Wat jou vies maak, is die persepsie dat wildboere net rondry en kyk dat die krippe vol en die grensheini­ngs heel is. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Die moderne wildboer is deel van die korporatie­we wêreld waar tyd geld is. En dit verg fyn beplanning om deel van die hoofstroom te bly. So nie, beland jy in ’n droë lopie.

Soos enige ander besigheid, begin jou dag ook met ’n bestuursve­rgadering waartydens jy die trekkerbes­tuurder se pligte uiteensit. Jy bespreek met die hoof-uitvoerend­e beampte waar die wild vandag gevoer moet word. Dit alles vind plaas in die raadsaal waar jy raad gee hoe om ’n monopomp waarvan die rod afgedraai het, onder uit die boorgat te kry. In die administra­tiewe afdeling is Vrou besig om jou aktemandji­e te pak, want jy vertrek na ontbyt op ’n sakereis. Oningeligt­es sal verstaan dat jy en Jerman die water en drade moet nagaan.

As alles glad verloop: die windpomp pomp water, nie wind nie; die trekpale trek en die Listers is nog lus, dan stop jy en Jerman net mooi koffietyd onder die maroela by Koedoekrip. As gevolg van die hedendaags­e werksdruk is daar nie meer tyd vir Jerman om (soos vroeër) eers vuur te maak nie. Hy gebruik sommer die Primus vir kookwater. Net nie water uit ’n fles nie, dis warm water wat lank gelede kookwater was – soos ’n louwarm rugbyspele­r wat maar net nie wil uittree nie. Alhoewel, met vandag se moderne mediese behandelin­g vir oumansklie­rkwale en ’n goeie bifocal bril is daar geen rede waarom ’n speler nie op 50 nog vir sy land kan uitdraf nie. Vra maar vir Heyn... of nee, hy is mos getrans-“vomeer”.

Laastens laai Jerman vir Siësta, die plaashond, van die bakkie af. Dié gewoonte het ontstaan toe hy ’n klein hondjie was. Mettertyd het hy so lywig en swaar geword dat hy nie meer self kan afklim nie. Siësta is ’n boerboel.

Terwyl die water kook, dink jy aan die gemaksugti­ge Engelse kultuur met al die fieterjasi­es van ’n high tea met cupcakes en komkommert­oebroodjie­s. Dié dat jy maar by jou laeprofiel­koffie hou – moerkoffie. Net nie die “decapitate­d” kitskoffie wat jy by die kinders moet drink nie – dit laat jou lighoofdig voel.

Jy moes half ingesluime­r het toe Siësta sy kop oplig en windpomp se kant toe kyk. Dadelik besef jy iets buitengewo­on is aan die gang, want hy steur hom gewoonlik nie aan aardse dinge nie. So onderdeur jou hoed se rand sien jy die brandwagbo­bbejaan kom aangestap met ’n kleinneef van hom aan moederskan­t en hulle kom sit voor jou op die Cruiser se bull bar. Jy skrik jou helder wakker, want jy sien die kleinneef is dan bont, so baldadig bont soos Vrou se basaarrok!

Omdat jy deur die jare leer Bobbejaans praat het, vra jy wat die probleem is. “Ons het op “Whats-Aap” gesien hoe goed wild in klein kampies versorg word,” sê die veldkornet. “Ons wil ook geranch word! Jy en die ou tante kan maar hier op die plaas vergaan van ellende, maar »

» ek en my familie wil vooruit boer. Lucky hier, is ons big break. Sy diverse gene gaan ’n aanwins vir die wildbedryf wees.”

“Chacma,” sê die veldkornet, wat “flip” in Afrikaans beteken en Lucky maak ’n trippelagt­eroorbolle­makiesie sonder dat sy PH-kêps afval. Eers toe hy vir homself handeklap, sien jy hy het boonop twee maroelas onder elke arm vasgeknyp.

“Julle wil nou van die wildbedryf ’n sirkus maak,” sê jy.

“Wie, óns? Dis julle wat daarmee begin het. Ons voeg net waarde by.”

“Buitendien,” gaan jy voort, “julle is te laat. Kleurbokke is nou wit olifante. Die nuutste foefie is groot gene.”

“Presies,” sê hy. “Check Lucky se ore, minstens ’n halwe mieliekop groter as dié van ’n bastergems­bok en die pienk dread locks op die punte is vasgeteel. Lucky se ouma se foefie het ook sulke pienk...”

“Wag,” keer jy. “Moenie op hol gaan nie. Maar wat het dit alles buitendien met my te doen?” vra jy.

“Kyk,” sê die veldkornet, “gebruik my selfoon – ek het eers ’n Apple gehad maar toe vreet een van die kleintjies hom op. Jy moet ’n selfie van ons drie neem en op sosiale media verkondig dat jy Lucky vir een miljoen dollar gekoop het – net nie rand nie. Die res sal vanself onder die groot kanonne in die wildbedryf gebeur.”

“Maar ek verstaan nie,” sê jy. “Ek het dan nie eens...”

“Dit weet ons,” sê die veldkornet. “Dis besigheid en al gee ek jou ook ’n powerpoint presentati­on sal jy nog nie verstaan nie. Maak net soos ek sê. En onthou, jy neem geen besluite nie. Lucky bly die intellektu­ele eiendom van ons familie. Jy is bloot die middelman.”

“Pasop, ek laat nie ’n bobbejaan so met my praat nie,” waarsku jy.

“Bobbejaan! Wie’s jóú bobbejaan? Vir jou sleep ek Gelykheids­hof toe, ook nie Adoons, Kees of Sekelstert nie – Adonis, as jy met my praat.”

“Nou sê my dan, Adonis, waar pas ek in die prentjie? As ek die middelman is, dan moet jy en Lucky mos weerskante van my op die kiekie sit?”

“Jou kick-back, Oubaas, is dat daardie verrimpeld­e ou gesig van jou op die voorblad van elke jagtydskri­f sal pronk. Vir die eerste keer sal jy deel wees van die Who’s who in die wildbedryf,” belowe Adonis.

“Onthou, voornemend­e kopers moet eers ’n foto van hulle fasiliteit­e op die ranch vir ons tweet. ’n Sportsbar vir ons manne en ’n spa vir die wyfies is ’n moet. Ook net nie ’n bush lodge nie – ’n ietsie meer Toskaans.

“Dis nie nodig dat die koper ons agter die bult gaan haal nie. Stuur net ’n Kombi, ons is 43. Lucky sal dryf, wys hom net waar sit die gears. Dis nie meer lank nie, dan vlieg Lucky ons met ons eie helikopter rond. Ons gaan gróót!

“Natuurlik sal ons ons deel van die ooreenkoms stiptelik nakom, sê die brandwag, en dit is om te teel, mits die diens en die menu op standaard is. Ons sal wys wat in ons steek, dalk is ons weer lucky.”

“En dié selfoon en foto?” vra Vrou by die huis.

“Dis ek en my twee vennote,” sê jy. “Ons begin ’n nuwe tendens in die wildbedryf. Dié kiekie moet Facebook toe.”

“Maar ek verstaan nie,” sê Vrou. “Jy het dan nie eens...”

“Dit weet ek, dis besigheid en al gee ek jou ook ’n potplant present, sal jy nog nie verstaan nie. Maak maar net soos ek sê.”

 ??  ?? Foto: Nic de Bruine.
Foto: Nic de Bruine.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa