Buksie gaan bos toe
Die oomblik van waarheid... sou Buksie slaag of swoeg?
Toe ek in die Cruiser klim, het ek opgemerk dat my gids, Samson Manengena, sydelings na die Howa-geweer loer. Ons was dan ook nog nie 100 meter uit die kamp nie toe hy vra: “Dié geweer, skiet hy mooi?”
“Hy skiet mooi Samson,” antwoord ek. “Maar hy lyk vir my ’n bietjie klein,” laat Samson skepties hoor. “Sal hy ’n rooibok kan platgooi?”
Ek was seker dat Buksie, my nuwe kortloop-Howa wat vir die 6.5 Grendel-patroon geka- mer is, ’n rooibok sou kon platgooi. Die probleem was net dat Buksie nog geen getuigskrif gehad het waarmee ek kon spog nie. Hy was nog ’n sawwelyfstadsjapie wat tot dusver net gaatjies in papier geskiet, en dan kamstig-vernaam met die groeperings loop en spog het. Hier agter die Soutpansberg tussen die mopanies en kremetarte sou hy moes uithaal en wys. Daar’s nie plek vir jappie sawwelyfies in die Bosveld nie.
Nadat ek die lisensie ontvang het en ladingontwikkeling vir die Howa gedoen is, was die jaar al ver gevorder en jagplek skaars. Gelukkig het Tuba van der Walt van die Ludwigslust Wildplase anderkant Musina tot my redding gekom en goedgunstiglik twee rooibokke en ’n waterbokkoei geskenk sodat ons hopelik ná die jag darem iets op Buksie se CV kon skryf. Tuba en sy vrou Retha is soutvan-die-aarde mense en baie lief vir die veld. Retha het ’n pragboek oor die veldblomme van die Limpopovallei gepubliseer en Tuba se voormalige rubriek, Pensmis, in die tydskrif Wild & Jag is ook in boekvorm uitgegee. (Lees gerus Tuba se storie, Dit gaan wild, in die vorige uitgawe.)
LIGTE ROERTJIE
Ek het vir Buksie om ’n spesifieke rede aangeskaf. Iewers op sy reise kom Vader Tyd op jou naam af en dan skryf hy dit in sy groot boek neer. En wéét hy eers van jou, begin hy stadig maar seker jou vlees wegkalwe. Dit gebeur met almal van ons. Jy raak dus lui vir swaar dra en skrikkerig vir goed wat raas en skop. Omdat ek altyd goed beplan (vir jag altans) het ek dus by voorbaat ’n ligte roertjie gesoek wat maklik sal dra as my vlees begin swak raak. Die kaliber moes ook min skop en raas en ekonomies wees om te skiet, want pensioengeld se koop raak gou op.
Sê die antie wat daar by my kook, sy wens net my beplanning met ons aftreegeldjies en ander sake word ook altyd so
flink en ver vooruit bedink.
Hoe dit ook al sy, Buksie is bedoel vir die bos (vir eendag... en vir nou) as ek op die spore loop van goeters wat nie te groot of byterig is nie. Ek moes nou net van twee dinge seker maak; of Buksie se blaf darem byt het en of die prominente magasynknip waarvan ek in die artikel oor die 6.5 Grendel vertel, nie sou pla as jy die geweer in die veld dra nie.
Bosveldjag beteken skote op kortafstand, by verre die meeste meet nader as 100m en die enkele “langes” nie veel verder as 120m nie. Omdat skietafstande kort is, neig ek om vir die kop of nek te skiet, maar soos almal weet, is dit nie altyd moontlik nie – lyfskote moet soms geneem word. Die probleem met die meeste kalibers is die groot vleisskade wat hulle aanrig met lyfskote op kortafstand.
Verder dra ’n kort geweertjie net makliker in die bos. Baie gewere het 24”-lope en kruip jy in die ruigtes rond, haak ’n lang geweer se loop gedurig aan takke was. Met sy mini-aksie en 20”-loop is Buksie lekker kompak en gly hy deur die bos soos die spreekwoordelike warm mes deur botter.
Voor ek hom aan die genade van die bos kon uitlewer, moes ons natuurlik eers vir Buksie die regte dieet kry. As jou heel verste skote dalk af en toe by 150m draai, hoef jy nou nie mikroskopiese klein groeperings na te jaag nie. Daar is egter altyd mense wat oor jou skouer kom loer as jy ’n skoot aftrek en daarom wou ek ’n kombinasie probeer vind wat die koeëls uit Buksie se keel mooi sou laat bondel op ’n teiken. As jy op ’n vreemde plek jag, wil jy darem die boer gemoedsrus gee dat jou mik en jou skiet dieselfde kol tref.
Om diep penetrasie en goeie koeëlprestasie te probeer bevorder en veral om vleisskade te beperk (én om die terugskop van die Howa tot die minimum te beperk) het ek vooraf besluit op ’n koeëlsnelheid van ongeveer 2 300vps. Gelukkig het die Howa teen daardie snelheid goed gegroepeer met verskeie ladings.
Lapua se 108gr Scenars, Nosler Ballistic Tips van 100gr en 120gr en Sierra se 120gr ProHunters het almal die pyp gerook as dit by akkuraatheid kom. Ek het hierdie koeëls, asook ’n 100gr Nosler Partition en 100gr Hornady SP in nat tydskrifte (wetpack) geskiet op 75m en die “wondkanale” vergelyk.
Van almal het die 108gr Lapuas die diepste gepenetreer (29.6cm) maar toe ek die koeël herwin, was dit duidelik waar- »