Hoe om QuickLOAD te gebruik Deel V
In Deel IV het ons QuickLOAD gekalibreer sodat dit dieselfde spoed bereken as die patrone wat met ons BEGINLADING geskiet is. Na so ’n kalibrasie kan jy voortgaan met ladingontwikkeling, want dan sal QuickLOAD se berekeninge en jou fisiese skiettoetse dieselfde taal praat.
Om met behulp van QuickLOAD akkurate ladings te bereken, moet ek eers iets anders verduidelik wat ons daarvoor nodig het:
1. KRAGTE WAT OP ’N WAPEN INWERK:
Tydens die afvuur van ’n skoot word enorme druk en energie (kragte) op die wapen uitgeoefen. Die algemeen aanvaarde teorie is dat hierdie kragte, tesame met wringkrag weens die rotasie van die koeël in die loop, ’n dinamiese buiging of verwringing (ossilasie) van die loop veroorsaak, sodat die punt van die loop in verskillende rigtings wys wanneer verskillende koeëls die loop verlaat – amper soos die voorpunt van ’n lang stywe plas- tiekpyp maak terwyl dit geskud word. Dit alleen verklaar egter nie waarom een spesifieke lading ewe goed werk vir ’n klomp gewere met verskillende looplengtes en -diktes nie. ’n Kort, dik loop se voorpunt moet tog minder ossileer of vibreer as ’n lang dun loop. Christopher Long was daarom seker dat daar, behalwe bostaande, meer redes is vir koeëlverplasing (die groepering) op die teiken.
Christopher het in 2004 ’n teorie ontwikkel wat hy Optimum Barrel Time noem, OBT in kort. Jy kan sy volledige teorie hier aflaai: http://www.the-longfamily.com/OBT_paper.htm
2. OPTIMUMBARREL TIME (OBT):
Ek gaan nie hier die hele geskiedenis verduidelik nie, maar tot die punt kom. Dryfmiddelontbranding veroorsaak ’n baie hoë drukspanning (stress) wat as ’n energiegolf deur die geweerloop beweeg. Hierdie golf bly binne die loop en kan daarom net tot by die loop se voorpunt beweeg en dan moet dit terug agtertoe. Dink aan ’n balletjie wat binne- in ’n toe pyp heen en weer gerol word. So beweeg die spanninggolf in die loop heen en weer, tot die energie uitgewoed is weens onder meer hitte-omskakeling. Hierdie drukspanning is ’n krag wat op die loop uitgeoefen word. Die krag veroorsaak vervorming van die loop, wat beteken dat die loop nouer krimp en wyer ooprek. Hierdie verandering in loopdeursnee beweeg saam met die drukspanninggolf heen en weer deur die loop. Dink aan ’n lang ballon waarom jy jou vingers toeknyp terwyl jy jou hand oor die lengte daarvan beweeg. By jou vingers vernou die ballon, en net buite jou vingers word dit weer wyer, terwyl die effek heen en weer saam met jou hand beweeg.
Hierdie drukspanninggolf bly slegs binne die soliede deel van die loop. Daar waar die loop in die aksie inskroef of ’n knaldemper aan die loop se punt vasskroef, is die loop fisies onderbreek, en daarom word daardie dele NIE vir OBT as deel van die loop beskou NIE.
Christopher se gevolgtrekking is dat jy alles so moet beheer/ time dat die koeël die loop verlaat wanneer die tempo van vervorming by die kroon konstant is. M.a.w. wanneer die loop se deursnee by die kroon vir ’n tydperk ’n konstante grootte het.
In Foto 1 is die loopdeursnee by die kroon geraam ( plotted) teenoor tyd. Die deursnee van die kroon het telkens groter geword met slegs twee tienduisendste van ’n duim (0.0051mm) en kleiner gekrimp met ’n halwe tienduisendste van ’n duim (0.0013mm) elke keer wat die drukspanning die kroon bereik. Dit is in enige taal vrek min, maar tog genoeg om wel ’n invloed te hê op die koeël se vlugbaan.
Die kondisie van die kroon van ’n loop word oor die algemeen aanvaar as baie belangrik vir akkurate skiet. Net so is dit nadeling vir ’n koeël om die loop te verlaat wanneer die kroon rek en krimp, en ons wil dinge so beheer dat die koeël die loop verlaat op een van die horisontale/ plat/stil dele tussen die pieke, die deel in rooi omkring. Dit is waar die loopdeursnee by die kroon konstant is. Kom ons zoem in op die deel in rooi omkring.
Ja, in Foto 2 lyk dit nou heel anders. Steeds is die loopdeursnee by die kroon geraam teenoor tyd. Die skaal vir loopvervorming is egter nou in miljoenstes van ’n duim. Die vertikale lyne links en regs is die bene van die pieke aan weerskante wanneer die loop rek en krimp. Hier sien ons daar is steeds effense veranderings in die loopdeursnee oor tyd. By ongeveer 1.15ms en 1.23ms sien ons egter dat die grafieklyn plat of horisontaal raak. Dit is in die middel van dáárdie plat dele waar ons wil wees, daar waar die loopdeursnee konstant bly.
Christopher het al die gebeure wetenskaplik gemeet en bewyse gelewer oor letterlik duisende skote met ’n groot verskeidenheid kalibers en ladings. Hy het bevind dat die golf teen ’n konstante tempo deur alle lope beweeg en nie afhanklik is van kaliber, dikte of die tipe staal waarvan die loop vervaardig is nie. Die tempo waarteen die golf beweeg is dus konstant vir alle lope. Die tyd wat dit vir die golf neem om deur die loop te beweeg is slegs afhanklik van die looplengte. Hy het vir ons ’n formule gegee waarin jy jou geweer se looplengte invoer, en die formule bereken dan, soos wat die golf heen en weer beweeg, »
» verskeie moontlike OBT’s.
In Foto 3 is die OBT’s van 1.147ms en 1.234ms geplot soos bereken met Christopher se formule vir die 27”-loop waarmee hier geskiet is. Wat kan ek nou meer sê: ’n Perfekte pas van die formuleberekening by die gemete data!
Waarvoor staan die Barrel Time in Optimum Barrel Time? Barrel Time (BT) is die tyd, gemeet in millisekondes (ms), wat dit neem vir die koeël om in die loop af te beweeg tot dit die tromp verlaat. Dink ’n bietjie na oor die volgende: Wanneer jy ’n vuurhoutjie trek, brand dit nie onmiddellik 100% volstoom nie, en dit wat jy daarmee aan die brand steek, neem ook ’n rukkie om behoorlik aan die brand te kom. Tydens die afvuur van ’n skoot neem die slagdop ook ’n klein rukkie om mooi aan die gang te kom en die kruit behoorlik te laat brand. Hierdie ontstekingsvertraging van tydsverloop word aanvaar as die eerste 10% van die tyd wat dit neem vir die dryfmiddelontbranding om 100% druk binne die loop te bereik. Hierdie 10%merk word ook beskou as die oomblik waarop die koeël in beweging kom. Kyk na Figuur 1 in die Somchem-boekie of RDMhandleiding waar bostaande baie mooi verduidelik word. QuickLOAD werk dus ook met ’n BT wat die eerste 10% uitsluit, soos gesien in Foto 4.
3. QUICKLOAD MAAK ’N FOUT MET KAMERDRUKBEREKENINGS:
Laat ek verduidelik hoekom QuickLOAD dikwels die kamerdruk foutief bereken. Die eerste 10% van die drukkurwe waarvan ons hierbo praat, kan SLEGS fisies gemeet word tydens die fisiese afvuur van ’n patroon in die geweer. Daar bestaan GEEN formule om die tydsverloop vir hierdie 10% akkuraat te bereken of te voorspel nie. Dit is omdat daar net te veel faktore is wat ’n invloed uitoefen op hiérdie 10% ontstekingsvertraging. QuickLOAD bied ook geen opsie om jou slagdopkeuse/hittegraad of die ontstekingsreaksietyd van die dryfmiddel aan te dui, wat ooglopend ’n invloed sal hê op die ontstekingsvertraging nie. Die skepper van QuikLOAD maak dus die een of ander veralgemeende/benaderde skatting van die 10% ontstekingsvertraging.
As toets vir my mening het ek ’n verskeidenheid kalibers en ladings se fisiese laboratoriumgemete resultate vanaf RDMSomchem verkry. Tydens hierdie toetse meet RDM-Somchem die werklike kamerdruk en gepaardgaande koeëlspoed. Let op! Bostaande resultate is nie berekeninge of afleidings nie, dit is werklik en fisies gemeet ty- dens die afvuur van ’n skoot en is dus onweerlegbaar waar.
Ek het QuickLOAD soos normaal gekalibreer met RDM se gemete spoed, en QuickLOAD se berekende kamerdruk vergelyk met die werklike gemete kamerdruk. Die gevolgtrekking was dat QuickLOAD die kamerdruk verkeerd bereken/skat met tot ±15%, oftewel ’n totale moontlike afwyking/fout maak van tot 30%. Om dit in perspektief te plaas, die verskil in druk tussen die minimum- en maksimumladings in herlaaitabelle is tipies maar 10%, 3 keer minder as QuickLOAD se potensiële berekende fout. Ek is bereid om hierdie resultate per e-pos aan enigiemand beskikbaar te stel. Hiermee sê ek glad nie dat QuickLOAD nutteloos is nie, inteendeel, ek bly by my standpunt dat dit ’n wonderlike hulpmiddel is vir ladingontwikkeling indien jy dit korrek en binne sy beperkinge gebruik.
HIERUIT VOLG MY AANBEVELING
Moet GLAD NIE QuickLOAD se berekende kamerdruk as kriteria vir veiligheid gebruik NIE. Gebruik SLEGS koeëlspoed as kriteria om te bepaal of ladings veilig is, andersins, gebruik werklike en fisiese gemete kamerdruk. Verkry die koeëlspoedkriteria uit herlaaitabelle waarin komponente soortgelyk aan joune gebruik is.
In die volgende artikel gaan ons voort om met QuickLOAD ’n OBT-lading te bepaal. Lekker laai en lekker skiet! * Kontak Cassie via sy webblad www.mamba-reloading.co.za.