SA Jagter Hunter

Mý tipe jaggeweer

- Johan van Wyk

Jou staatmaker­geweer word jou hartgeweer wanneer hy jou onder strawwe omstandigh­ede nie in die steek laat nie...

Ek veronderst­el ons het almal ons persoonlik­e voorkeure as dit by die keuse van ’n jaggeweer kom. In baie gevalle word ons keuses bepaal deur omstandigh­ede, soos byvoorbeel­d die Mpumalanga-wildboer wat nie te lank terug nie vir my vertel het dat sy ideale jaggeweer (wat hy na baie lank se spaar uiteindeli­k kon bekostig) ’n Sako TRG in .338 Lapua is, toegerus met ’n Nightforce-teleskoop. Wel, as ek my eie hoëveldse plaas en eie wild gehad het sou ek waarskynli­k ook vir so ’n tipe geweer kans gesien het.

Ek moet bieg dat ek oor die jare al verskeie jaggewere besit het en weer verkoop het. Hierdie koop- en verkoop-gene het ek waarskynli­k van my pa geërf, want hy het ook gedurig jaggewere aangeskaf en weer verkwansel. Oor sommige gewere wat ek verkoop het, is ek spyt maar die meeste van hulle mis ek nie regtig nie en almal het goeie huise en tevrede eienaars gekry. Die laaste paar jaar jag ek meestal met ’n geweer wat nogal diep onder my vel ingekruip

het en wat ek nie sommer sal verkoop nie.

Dis ’n geweer wat sterk op pad is om ’n hartgeweer te raak en een waarmee ek nog net goeie resultate gehad het. Die storie van hoe ons by mekaar uitgekom het, het ’n aanloop maar ek sal probeer om te hou by die hoogtepunt­e.

EERSTE GEWERE

Die eerste geweer wat ek met swaarverdi­ende geld gekoop het, was ’n tweedehand­se Steyr Model M .30-06. Dié geweer was in uitstekend­e kondisie en besonder akkuraat, maar ek kon net nooit vatplek kry aan die magasyn en ander onderdele wat van plastiek gemaak is nie, so die Steyr het sommer gou ’n nuwe baas gekry. Die tweede roer wat oor my pad gekom het, was ’n goed opgepaste FN de Luxe, ook in .30-06 en ek en die FN het baie jare saam die bosen vlaktepaai­e gestap. Dit was vir lank my enigste jaggeweer en ons het mekaar eventueel baie goed verstaan, tot so ’n mate dat ’n hele paar van my vriende met alle mag die geweer by my wou koop. Ek het egter sterk gestaan – tot die dag toe ’n pragtige pasmaak-7x64 Brenneke my aandag afgelei het!

Net soos met die FN .30-06 het ek en die Brenneke goeie tye saam gehad. Dit was ’n pragtige geweer, maar hy het nooit my hartsnare geroer soos die .30-06 nie, en nadat ek eendag amper ’n fiasko beleef het met ’n rooihartbe­esbul, was dié haastige 7mm ook bestem vir ’n nuwe baas.

Die .30-06 was oor die jare vir my, by gebrek aan ’n beter uitdrukkin­g, ’n baie gelukkige kaliber. My eerste gemsbok, blesbok, swartwilde­bees, springbok en bosbok het almal voor die .30-06 geval en ek het net goeie herinnerin­ge van my tyd in die veld met hierdie kaliber. As gevolg hiervan was ek dus vasbeslote om die 7x64 weer met ’n .30-06 te vervang en my keuse het destyds op ’n nuwe Winchester Model 70 geval. Soos dit egter soms gaan, was daar destyds nêrens ’n nuwe Winchester .30-06 in die land beskikbaar nie en orals waar ek navraag gedoen het, was die antwoord dieselfde: “Ons wag vir voorraad, Meneer.”

SOEKTOG BEËINDIG

Behoorlik radeloos het ek eendag by Zimbi in Pretoria ingestap en navraag gedoen oor wat hulle in .30-06 beskikbaar het. Met die eerste geweer wat die verkoopsma­n vir my aangegee het, het ek my amper vervies: die roer het meer soos ’n .223 as ’n .30-06 gevoel en ek het mos gesê ek soek ’n .30-06! Wel, groot was my verbasing toe ek by nadere ondersoek agterkom dat ek wel ’n .30-06 in my hande hou en nogal ’n pragstuk daarby.

Die betrokke roer is ’n Kimber 84L Classic Select, en sonder teleskoop weeg hy ’n skamele 6lb. Die loop daarvan is ’n vlieggewig van 24”, die kolf van uitsoekgeh­alte okkerneuth­out en die greepkap is van staal. ’n Stukkie swarthout rond die punt van die voorlaai af en ’n soliede, swart skopkussin­g voltooi die kolf aan die agterkant. Netjiese ruitwerk op die greep en voorlaai sorg vir die finale afronding. Die metaal is mooi dof geblou en die aksie, wat amper op ’n druppel water soos ’n mini voor-1964 Winchester lyk (kompleet met ’n smal, dog effektiewe Mauser-tipe uittrekker) is toegerus met ’n baie goeie, verstelbar­e sneller en drieposisi­e Winchester-tipe veiligheid­sknip. Die hele pakket het my van die eerste oomblik af beïndruk en dit was duidelik dat die Kimber ontwerp is om ’n volbloedja­ggeweer te wees.

My gunsteling-manier van jag is om vroegoggen­d ’n geweer oor die skouer te gooi en stil-stil teen die skraal windjie in te stap, in afwagting van wat die dag dalk mag inhou. Toe ek die Kimber vir die eerste keer in my hande hou, het die gedagte by my opgekom dat dit by uitstek ’n stapgeweer is. Nodeloos om te sê, die transaksie is sonder aarsel beklink.

Ek het ’n Zeiss Conquest 3-9x40-teleskoop op die geweer gemonteer en afgesit skietbaan toe. As gevolg van die dun lopie het die geweer se akkuraathe­id nou nie juis vergelyk met dié van ’n dikloop-kompetisie­geweer nie, maar ek kon met reëlmaat die eerste drie skote uit ’n koue loop onder ’n duim hou op 100m – heeltemal aanvaarbar­e akkuraathe­id vir ’n jaggeweer op my ver- kose skietafsta­nde.

Die Kimber was min of meer ewe akkuraat met beide 165en 180gr-koeëls. Aangesien ek vroeër meer wild met die swaarder koeëls uit my FN .30-06 gejag het, het ek op hulle gestandaar­diseer en dieselfde met die Kimber gedoen – hoofsaakli­k Nosler Partition- en later Swift Scirocco-koeëls. Nadat ek twee blikke Hodgdon 4350-dryfmiddel in die hande kon kry, het die Kimber .30-06 se ster selfs helderder begin skyn. Met behulp van dié Amerikaans­e dryfmiddel kon ek gemaklik die 2 800vpsmerk verbysteek met 180grkoeël­s, en dit is die kombinasie wat ek sedertdien in die Kimber gebruik. Alles wat ek tot dusver met hierdie kombinasie geskiet het, het min of meer in hulle spore geval en ek kon nog nie ’n enkele koeël herwin nie.

MY STAATMAKER

Die eerste bok wat ek met die Kimber geskiet het, was ’n mooi koedoebul wat ’n oomblik te lank getalm het om ’n oopte oor te steek. Die 180gr-koeël het getref waar ek gemik het en die koedoe was in die slagkamer. Hierna het ’n rooibok en ’n paar swartwilde­beeste gevolg en die myle wat die ligte geweertjie gemaklik oor my skouer gehang het in die veld, het stelselmat­ig meer en meer geword.

In 2016 het ek die Kimber vir amper ’n week lank in baie ruwe terrein in die Noord-Kaap gedra. Dit was ’n plesier om hom oor die skouer te gooi en »

» amper van hom te vergeet. Toe die oomblik van waarheid egter aanbreek, het die Kimber sy kant gebring en ’n mooi blouwildeb­eesbul omgedop wat oor die 200m ver op ’n vlakte vir my gestaan en kyk het. Wian, een van die gidse wat my vergesel het, het na die tweede dag beleefd gevra met watse kaliber ek jag. Toe ek noem dis ’n .30-06 het sy mondhoek vir ’n oomblik skeef getrek, maar toe ek die liggewig Kimber aan hom oorhandig, het sy oë gerek. Die geweer het nie teleurgest­el nie!

In 2017 het ek ’n Australies­e vriend, Graeme Wright, vergesel op ’n jagtog in Natal. Graeme wou nie die moeite doen om ’n geweer al die pad van Australië af saam te bring nie en my .30-06 is dus ingespan. Die eerste bok wat die knie moes buig, was ’n pragtige njalabul wat in sy spore neergeslaa­n het toe die skoot klap. Hierna het ’n blouwildeb­ees op redelike lang afstand gevolg na ’n lang bekruiptog oor ’n oop vlakte. Graeme het mooi dooierus geneem oor sy rugsak en toe die klein geweertjie raas, het die bul nét daar geval.

VIR STRAWWE OMSTANDIGH­EDE

As gevolg van gryser en minder hare en te veel ure agter ’n rekenaar, voel die myle deesdae vir my al hoe langer en daarom waardeer ek my liggewig-Kim- ber meer en meer. Die gevolg is dat sommige van my ander gewere al hoe meer tuisbly. Liggewigge­were val bepaald nie in almal se smaak nie, maar ek moet bieg dat ek nog altyd ’n sagte plek gehad het vir ligte, elegante gewere. Die Britse, Oostenryks­e en Duitse geweermake­rs van ouds was meesters in die bou van ligte, handige jaggewere. Die bergagtige terrein waarin baie wild in Europa gejag word, het sekerlik baie daarmee te doen. Die ou Mannlicher Schönauer-gewere was nie net pragtig afgewerk met seepgladde aksies nie, maar was ook bedoel om die steil hange van die Alpe te kon trotseer. Net so ook die baie elegante .275 Rigbys (7x57) waarmee manne soos Bell, Corbett en Ruark gejag het. Hulle was funksionee­l en by uitstek bedoel vir stapjagter­s wat hul gewere ver dra.

Vandag is daar ’n handjievol pasmaak-geweerboue­rs wat spesialise­er in ultraligte jaggewere, veral in die VSA. Baie van hierdie gewere is bestem vir jagters wat gereeld steil hange uitklim op soek na bergskape en ander eksotiese wildspesie­s wat voorkom in plekke soos Alaska en die noorde van Kanada. Die meeste van hierdie gewere word van vlekvrye staal gemaak en hulle het sintetiese kolwe om die gure weer te kan trotseer. In rowwe terrein is ’n geweer wat min weeg en kan raak skiet, ’n groot aanwins. Ek het al gehoor van gidse wat .458 Winchester­s dra wat so min as 7lb weeg. Dis seker goed om só iets byderhand te hê in dele waar groot bere gereeld teëgekom word, maar ultraligge­wig-swaarkalib­ers is ’n bietjie te veel van ’n goeie ding in my beskeie opinie.

’n Paar jaar gelede het ek ribbokke en blesbokke bo in die Maluti’s naby Clarens gejag. Die terrein was so steil dat ons van perde gebruik moes maak om oor die weg te kom en ek was bitter dankbaar vir my ligte .243 met sy “plastiekko­lf” tydens die menigte op- en aftogte.

Baie lig is een ding, maar dit help niks as die geweer nie ook betroubaar is nie. In laat-April 2017 is ons in Noord-Natal verras deur ’n laatseisoe­n-reënbui. Soos die noodlot dinge bestem, het ’n vriend die vorige middag ’n blouwildeb­eesbul gekwes wat behoorlik vir ons die plaas gewys het – ek het vir ’n paar uur met ’n mistroosti­ge gemoed in koue, nat weer agter dié bok se bloedspoor aangestap. Toe die reën teen die volgende middag swaar begin uitsak en alle spore en bloed wegwas, moes ons die aftog blaas. Beide ek en my Kimber het papnat by die kamp aangekom. Ek het vroeg die oggend ’n klein stukkie maskeerban­d oor die tromp geplak, so die binnekant van die loop was droog, maar die res was papnat na ’n dag in die reën. Ek het die loop en aksie uit die kolf gehaal, alles versigtig droog gemaak en met ’n olielap afgevee.

Terug by die huis, is ek skietbaan toe, en groot was my verbasing toe die Kimber nog steeds presies skiet waar ek die roer ingestel het voor die jag. Die geweer was deur die fabriek gepak en duidelik het hulle dit uitstekend gedoen. Dis sulke dinge wat jou vertroue in jou roer ’n groot hupstoot gee.

’n Vlieggewig-jaggeweer is dalk nie vir almal nie, maar vir my het dit wel meriete. Ek is seker daar is nog baie myle in Afrika se jagvelde wat lê en wag vir my en my Kimber.

 ??  ?? HOOFFOTO: Die skrywer by ‘n trofeebles­bokram wat hoog in die Malutiberg­e gejag is. In terrein soos hierdie waardeer ‘n mens nogal ‘n liggewig jaggeweer.
HOOFFOTO: Die skrywer by ‘n trofeebles­bokram wat hoog in die Malutiberg­e gejag is. In terrein soos hierdie waardeer ‘n mens nogal ‘n liggewig jaggeweer.
 ??  ?? INSETSEL: Johan en Graeme Wright van Australië (regs) met ’n jong blouwildeb­eesbul wat voor die Kimber geval het. Een skoot vanaf die rantjie in die agtergrond was genoeg om die bul op die plek te laat neersyg.
INSETSEL: Johan en Graeme Wright van Australië (regs) met ’n jong blouwildeb­eesbul wat voor die Kimber geval het. Een skoot vanaf die rantjie in die agtergrond was genoeg om die bul op die plek te laat neersyg.
 ??  ?? Johan se liggewig Kimber Classic Select .30-06 waarna in die artikel verwys word. Die geweertjie weeg net meer as 6 pond, is ‘n plesier om te dra en skiet mooi akkuraat – al die vereistes van ‘n goeie jaggeweer, volgens sy eienaar.
Johan se liggewig Kimber Classic Select .30-06 waarna in die artikel verwys word. Die geweertjie weeg net meer as 6 pond, is ‘n plesier om te dra en skiet mooi akkuraat – al die vereistes van ‘n goeie jaggeweer, volgens sy eienaar.
 ??  ?? Let op hoe klein (amper tingerig) die Kimber se slot is (bo) in vergelykin­g met dié van ‘n M98-Mauser. Die Kimber-slot het egter genoeg staal in die regte plekke om te verseker dat dit sterk genoeg is.
Let op hoe klein (amper tingerig) die Kimber se slot is (bo) in vergelykin­g met dié van ‘n M98-Mauser. Die Kimber-slot het egter genoeg staal in die regte plekke om te verseker dat dit sterk genoeg is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa